Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 5 AUGUSTUS 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons die heengaan van Leo Alexander, ZS5WF, verlede week moet aankondig. Leo was ‘n afgetrede predikant en was baie aktief op die Wacralnet. Aan sy familie en vriende ons innige meegevoel.

Die sleutel van Wally Perfect, ZS5WP, het op 28 Julie stil geraak. Ons innige meegevoel aan sy eggenote May, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL GAAN RAE-SERTIFIKATE UITREIK

SARL–WEBWERF VERANDER – GAAN DIT NA!

HET JY NA SPOETNIK 1 GELUISTER?

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL GAAN RAE-SERTIFIKATE UITREIK

Reëlings is met OKOSA gefinaliseer sodat die SARL RAE-sertifikate kan uitreik. In die toekoms sal kandidate, wat die klas A eksamen slaag, met ’n internasionale HAREC-sertifikaat uitgereik word. Hierdie sertifikaat laat werking in CEPT-lande toe, asook in sekere lande buite Europa wat aan die HAREC-eksamen se voorskrifte voldoen.

Studente wat die intreevlakeksamen (Klas B-eksamen) geslaag het, sal met ’n RAE-sertifikaat uitgereik word. Die klas B-eksamen is nie in ooreenstemming met die HAREC nie en kan nie in ander lande gebruik word nie.

Radioamateurs wat in die verlede ’n RAE-sertifikaat verwerf het kan by die SARL-hoofkantoor aansoek doen vir ’n vervangings-HAREC-sertifikaat. Aansoeke moet vergesel word van ’n gesertifiseerde afskrif van ’n geldige radioamateurlisensie en moet per faks gestuur word aan 088 011 675 2793. Daar is geen koste vir ’n SARL-lede nie maar nie-lede moet ’n administrasiefooi van R100 insluit.

SARL–WEBWERF VERANDER – GAAN DIT NA!

Soos onlangs aangekondig ondergaan die SARL-webwerf veranderings en ons raai u aan om dit na te gaan. Op die “slegs vir lede” tuisblaaie sal u interessante artikels raakloop wat kort-kort op datum gebring word, besoek dus die lede-afdeling dikwels. Klik op “Members Only” aan die regter bokant van die tuisblad. U sal gevra word om jou roepsein en pin (persoonlike identifikasienommer) te verskaf. Die pin verskyn op die lidmaatskapkaartjie wat gepos is aan lede wat hul 2007/2008 ledegeld betaal het.

Dit is belangrik dat die SARL jou korrekte e-posadres in die databasis het sodat indien jy ’n fout maak met jou pin jy outomaties ’n e-pos sal ontvang om jou aan die regte nommer te herinner.

Alle adres- en e-posadresveranderings moet aan admin@sarl.org.za gestuur word.

SARL@HOME

Die eerste SARL@HOME-aktiwiteit sal by die Nasionale Amateurradiosemtrum op 15 September om 11:00 gehou word. Dit sal in die vorm van ’n koffiesessie wees om te praat oor wat jong radioamateurs van hul stokperdjie verwag. Die sessie word gemik op die onder 25’s en die oor 25, wat nog jonk van hart is.

Rhynard Louw, ZS6DXB, sal die SARL@HOME-gasheer wees. Deelnemers sal ook die geleentheid hê om die toerusting van die Reno Farber Gedenkamateurstasie te bedryf. Daar sal ook ’n demonstrasie wees van hoe om Echolink te gebruik. Om vir spyseniering toe te laat, laat die youth@sarl.org.za weet of jy kom.

SARL ELMERDIENS

Het jy ’n vraag oor enige tegniese, regulatoriese of bedryfsaspek van amateurradio? Stuur jou vraag aan elmer@sarl.org.za. Andrew Roos, ZS6AA, SARL se Tegnologieraadslid, sal ’n antwoord vir jou kry.

KORREKSIE: SARL-SENIORLIDMAATSKAPGELD

Die lidmaatskapgeld vir seniorlede van die SARL is in die bulletin van 15 Julie ongelukkig verkeerdelik as R147 per jaar aangegee. Die korrekte bedrag is R184 na inagneming van die eenmalige afslag op die normale bedrag van R230. Ons vra verskoning indien hierdie fout tot enige ongerief of verleentheid aan iemand gelei het.

HET JY NA SPOETNIK 1 GELUISTER?

Indien jy na Spoetnik 1 in Oktober 1957 geluister het sal ons graag jou storie wil hoor.

Geskiedenis het op 4 Oktober 1957 verander toe die Sowjetunie Spoetnik 1 suksesvol gelanseer het. Die wêreld se eerste kunssateliet was omtrent die grootte van ’n basketbal, het 183 pond geweeg en het omtrent 98 minute geneem om in sy elliptiese baan om die aarde te wentel. Die lansering het nuwe politieke, militêre, tegnologiese en wetenskaplike ontwikkelings ingelei. Terwyl die lansering van Spoetnik ’n enkele geleentheid was, was dit die begin van die ruimte-eeu en die ruimtewedren tussen die VSA en USSR.

Om ruimteweek van 4 – 10 Oktober te vier sal die SARL, SA AMSAT en die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust saamwerk aan ’n spesiale program om wetenskap en tegnologie te bevorder. Indien jy Spoetnikseine in 1957 gehoor het, vertel ons watter impak dit op jou gehad het. Het dit jou keuse van 'n loopbaan beïnvloed?

Stuur jou besonderhede aan saamsat@intekom.co.za en ons sal graag wil kontak maak vir ’n kort onderhoud vir die spesiale program.

Lees die volledige Spoetnikstorie en hoor weer die telemetrie in die SARL-lede-afdeling van www.sarl.org.za.

AUGUSTUS KLAS R-RAE

Die eksamennommers en besonderhede van –sentra vir die klas B-eksamen wat op 23 Augustus 2007 om 19:00 SAT afgeneem sal word, is nou op die SARL se webwerf beskikbaar. Lektore en opsieners word versoek die betrokke inligting af te laai en hulle studente dienooreenkomstig in te lig.

RAE-KURSUS IN DIE WES KAAP.

Voornemende studente vir die Oktober Klas A RAE, wat graag 'n kursus in die Wes-Kaap wil bywoon, kan vir Karl, ZS1KC, by telefoon 021 976 5237 of sel 083 955 7177 skakel. Daar word beoog om teen 7 Augustus met die kursus te begin. Die klasse sal een maal per week by die Oakdale Sportklub aangebied word.

KOMPETISIENUUS

Vanmiddag van 15:00 tot 18:30 SAT kan jy aan die jaarlikse SARL-HF-Foonkompetisie deelneem. Die kompetisie vind plaas op sekere gedeeltes van die 20, 40 en 80 meterbande. 'n RS-verslag en 'n reeksnommer word uitgeruil. Die reëls is beskikbaar op die SARL-webwerf by www.sarl.org.za, die 2007 Kompetiseboek en HF Happenings 260 en 261.

Op Sondag 12 Augustus word die eerste SARL 40 Meter Mobiele Kompetise aangebied vanaf 15:00 tot 17:00 SAT. Hierdie is 'n genotvolle geleentheid om kontakte tussen mobiele stasies en ander radioamateurs in Suider-Afrika lande te bewerkstellig. Mobiel beteken die operateur moet in 'n voertuig wees met 'n mobiele antenna gekoppel, die voertuig kan stilstaande wees. Die reëls is beskikbaar in die 2007 Kompetisieboek.

Maandag 6 Augustus is die laaste dag waarop logstate vir hierdie kompetisie wat op Sondag 22 Julie plaasgevind het, nog ingedien kan word. Deelnemers kan hulle logstate e-pos aan zs1bak@mailbox.co.za. Boland ARK is ook bly om te kan aankondig dat die wenner van die kompetisie 'n ARRL Antenna handboek gaan ontvang. Die prys is moontlik gemaak deur Kobus Conradie, ZS1DC.

KLUBNUUS

Tydens die onlangs gehoue algemene jaarvergaderings van vier klubs is nuwe bestuurskomitees as volg verkies vir die nuwe dienstermyne:

Vir die Kaapstad Amateurradiosentrum:-
Voorsitter Dave Reece, ZS1DFR;
Visievoorsitter Shaun Overmeyer, ZS1RA;
Sekretaris/tesourier Peter Henochsberg, ZS1PMH;
Notulesekretaris Evan Pedlar, ZS1EVP;
Bulletins en Roosters Tony McEwen, ZS1TM;
Tegnieseadviseur Noel Futter, ZS1FW;
Geleentheidskoördineerders Paul Kennedy, ZR1PXK;
James Gardener ZS1ROY.

Vir die Wes-Rand Amateurradioklub:-
Voors. Stuart Baynes ZS6OUN;
O/voors Ron Eva ZR6RON;
Sekr. John Brock Nuusbrief;
Pen/m Craig Woods ZS6CRW;
Lid Romeo Nardini ZS6ARQ;
Lid Joop Hesp ZS6C;
Lid Geoff ZS6GRL;
Lid Phillip v Tonder ZS6PVT Herhaler;
Lid Willem Weideman ZS6WWJ.

Vir die Zoeloeland Amateurradioklub:-
Voorsitter: John Kramer, ZS5J;
Onder Voorsitter: Jan Erasmus, ZS5G;
Tesourier: Willie Axford, ZS5WI;
Sekretaresse: Dawn Snyders, ZR5ME;
Lede: Jo Snyders, ZR5PO, (Redakteur);
Andrew Jansen, ZR5MH;
Warren Snyders, ZR5WOZ.

Vir die Midlands Amateurradioklub:-
Bert Cornell, ZS5MQ, Voorsitter en Klubhuisbestuurder;
Wessel du Preez, ZS5BLY, Vise-voorsitter en nuusbladredakteur;
Mike Boast, ZS5BGV, Sekretaris en Tesourier;
Robin Seal, ZS5MRS, Skakelbeampte en media skakeling
Shaun Rudling, ZR5S, BHF/UHF en digtale sake ( ook die
webmeester);
Mickey Esterhuyse, ZS5QB, Tegniese Adviseur en Netbeheer

Groot dank aan die uittredende komiteelede en sterkte aan die inkomende lede vir die take wat voorlê.

WESRAND VLOOIMARK

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende vlooimark op 1 September 2007 by die klubhuis te Krotonstr. Weltevredenpark Roodepoort, om 12:00.
Almal is baie welkom. Vir verdere inligting skakel Stuart by 082 573 3359.

HF-VOORTPLANTINGSTOESTANDE

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteits vlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees met moontlike lae stormvlakke gedurende 8 Augustus. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m en 40 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Na Australië gaan toestande baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike kort 20 m-openinge na Europa. Vir die nagwolwe is daar om 04:00 moontlike kort 80 m-openinge na die Ooskus van die VSA. Andersins gaan kontakte met die Verenigde State baie uitdagend wees.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik is 40 m die beste keuse gedurende die dag en 80 m na sononder. Dit is nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m-WAZS toekenning. Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou nog steeds altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag 5 Augustus - SARL-HF-foonkompetisie;
6 Augustus – Laaste dag vir indiening van logstate vir Boland ARK Kompetisie;
12 Augustus - SARL 40 Meter Mobiele kompetisie;
18 Augustus - Radiotegnologie in Aksie dag in Gauteng;
23 Augustus - Klas B RAE;
15 September SARL@HOME;
4 – 10 Oktober – Spesiale ruimteprogram;
6 Oktober - SA AMSAT Ruimtekonferensie;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel en uitgesaai is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003