Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARLNUUS SONDAG 23 DESEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons die heengaan van twee radioamateurs moet aankondig.

C.J THwaites, ZS5CTC, EX ZS6BUC, EX ZS2PA, enkele weke gelede.

Paula van Tonder, ZU6PVT, is onlangs in 'n motorongeluk oorlede. Sy was lid van die ZS6JVT-klub en het in Mei 2007 haar lisensie verwerf.

Ons innigste meegevoel gaan aan die oorledenes se families en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

BOODSKAP VANAF DIE PRESIDENT

QSL-BUROVERSOEK

OKOSA BEVESTIG ROEPSEINVOORVOEGSELAREAS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

BOODSKAP VANAF DIE PRESIDENT

“Aangesien die feesseisoen op hande is wil ek en die Raad van die SARL van hierdie geleentheid gebruik maak om alle radioamateurs en hul gesinne ’n genotvolle feesseisoen en ’n gelukkige en voorspoedige nuwejaar toe te wens.

Ek bedank die lede van die SARL vir hul lojale ondersteuning en toewyding aan amateurradio. As die nasionale liggaam vir amateurradio in Suid-Afrika, is die SARL toegewyd om radioamateurs op alle vlakke van regering en internasionaal deur die Internasionale Amateurradiounie te verteenwoordig om seker te maak dat ons stokperdjie floreer. Sonder jul lojale ondersteuning sou die SARL nie hiertoe in staat wees nie.

Mag die gees van die feesseisoen julle raak en die vakansietydperk nuwe energie vir die nuwe jaar veroorsaak. Uit ’n amateurradio-oogpunt sien ons uit na baie opwindende gebeure op die 2008 kalender.” Aldus Graham Hartlett, ZS6GJH.

QSL-BUROVERSOEK

Die QSL-buro verrig 'n belangrike diens aan al ons amateurradio-operateurs, veral die wat graag gereeld hul kaarte wil ontvang en versend na ander buro's wêreldwyd.

Daar is ook diegene wat hul tyd vrywillig aanbied en opoffer om die kaarte te sorteer, te pak en in koeverte, wat deur u voorsien was, aan u te stuur.

Die buro kort tans 2 of 3 vrywilligers wat hul dienste wil aanbied om 2 keer per week kaarte te sorteer vanaf Januarie 2008, dws aanstaande maand.

Die tekort is veroorsaak deurdat Ron, ZS6BHH, en Viv, ZS6AAC, wat hulle dienste vir 10 jaar vrywillig aangebied het, graag nou 'n bietjie wil terugstaan.

U bereidwilligheid word slegs 2 dae per maand aangevra, naamlik die 2de en 4de Dinsdag van elke maand.

Dit sal waardeer word dat, indien u die leemte kan vul, u vir Francois, ZS6BUU, sal kontak by 011-679-5260 om u bereidwilligheid aan te bied.

OKOSA BEVESTIG ROEPSEINVOORVOEGSELAREAS

OKOSA het die verwarring opgeklaar oor roepseinareas wat veroorsaak is deur die verandering van die provinsies na 1994. Hier volg die voorvoegselareas:

ZR1/ZS1/ZU1 Westerlike Kaapprovinsie;
ZR2/ZS2/ZU2 Oostelike Kaapprovinsie;
ZR3/ZS3/ZU3 Noordelike Kaapprovinsie;
ZR4/ZS4/ZU4 Vrystaat Provinsie;
ZR5/ZS5/ZU5 KwaZulu Natal Provinsie;
ZR6/ZS6/ZU6 Gauteng/ Noordwes/ Mpumalanga/ Limpopo Provinsies;
ZR7/ZS7/ZU7 Suid-Afrikaanse Antartika;
ZR8/ZS8/ZU8 Prins Edward- en Marioneilande.

In ’n brief aan die SARL het die seniorbestuurder: frekwensiespektrum, Philemon Molefe, bevestig dat die Outoriteit aansoeke sal oorweeg van amateurs op die grense van hierdie provinsies vir roepseine van hulle keuse. Hy het ook gesê dat amateurs aan wie ander voorvoegsels toegeken is mag voortgaan om hulle te gebruik. Sou hulle wens om hul roepseine te verander om aan te pas met die nuwe voorvoegsels, moet die toepaslike aansoekproses gevolg word.

BOUVETEILAND OP DIE LUG MET ZS6GCM

Nuut gelisensieerde Petrus,ZS6GCM, is tans op Bouveteiland en daar word verwag dat hy daar sal bly tot 14 Februarie 2008. Hy is deel van ’n vyfmanspan onder leiding van ’n Noorweegse navorsingspan. Petrus is die mediese beampte van die span en sal ook met navorsing bemoeid wees.

Op 19 Desember 2007 het Petrus tydelike toestemming verkry om ’n amateurstasie vir die duur van die 2007/2008 wetenskaplike ekspedisie op Bouveteiland te bedryf, met die roepsein 3Y0E.

Tom V. Segalstad, LA4LN, en Trond Olsen, LA8XM, het gehelp om toestemming te verkry om vanaf Bouvet te werk. Colin McGowan, MM0NDX, het ’n webtuiste geborg vir die ekspedisie en sal as webmeester optree. Die URL is www.3y0e.wordpress.com. Die tuiste word gebou en behoort binne die volgende paar dae operasioneel te wees.

’n Icom IC-735 en ’n Hustler 4-BTV vertikale antenna is beskikbaar gestel deur NCDXF, OKDXA en Bernie van der Walt, ZS4TX.

Omdat hy maar onlangs sy lisensie gekry het, het Petrus min HF-ervaring. Hy het ’n beknopte opleidingsessie oor operasionele prosedures by Ryhnard Louw, ZS6DXB, deurloop voor sy vertrek. Video en oudio-opnames deur vorige DX-pedisies gebruik is aan Petrus gegee om hom ’n idee te gee waarvoor hy hom inlaat. Petrus sal beperkte tyd hê om op die lug te werk as gevolg van ’n swaar werklas en die beskikbaarheid van elektriese krag.

Besoek www.sarl.org.za vir meer besonderhede oor Bouvet en opgraderings oor die Bouvetoperasie.

DERTIEN LEDE VIR 2008/2009 SARL-RAAD GENOMINEER

Dertien lede is vir die 2008/2009 SARL-raad genomineer. Indien die aantal lede genomineer minder as 15 is, sal geen verkiesing plaasvind nie en raadslede sal amptelik ingesweer word by die Algemene Jaarvergadering wat op 12 April 2008, in Bloemfontein, gehou sal word.

Die genomineerdes is:

Graham Hartlett, ZS6GJH;
Rassie Erasmus, ZS1YT;
Henry Chamberlain, ZS1AAZ;
Hans v d Groenendaal, ZS6AKV;
Dennis Green, ZS4BS;
Ivan Newman, ZS2ILN;
Louw Erasmus, ZS6LME;
Piet Badenhorst, ZS6PJB;
Fred Scheepers, ZS1FCS;
Graham Butler, ZS1GVB;
Mark Zank, ZS6YES,
Laurie Devereaux, ZS5D, and
Malcolm Kriel, ZS4SM.

Veels geluk aan die genomineerdes.

OPWINDENDE AKSIE Lê VOOR VIR SARL-HMO-PROGRAM

’n Paar maande het al verloop en ons het nou ses bakens op die lug. Dit word ooglopend dat die diens met sy volle komponent bakens en toebehore baie nuttig gaan wees vir die deelnemende partye. “Soos om voort gaan ontdek ons nuwe kenmerke van die bakendiens. Vir die volgende jaar het ons ’n paar opwindende projekte op die tekenbord” het Lee-Anne McKinnel, ZS2LAW gesê.

Die bakenspan werk aan ’n prototipe van ’n digitale ontvanger wat die bakens gedurig oor ’n tydperk ’n paar weke sal monitor. Dit stoor die roepsein en RST in ’n datalogger in die ontvanger. Na ’n paar weke, of vroeër, kan die ontvanger aan jou USB-poort gekoppel word en dit sal die verslag in ’n tekslêer aflaai. Hierdie lêer bevat- Datum – Tyd – Roepsein – RST vir al die bakens wat gehoor is by jou basisontvangstasie. Die span sal dit aanvul met ’n rekenaarprogram genaamd “Beacon Companion”. Hierdie program neem al die voortplantingsresultate van jou bakenontvanger en sal die voortplanting na elke gebied in Suid-Afrika vir jou basisstasie voorspel. Daarbenewens kan jy ‘n bestemming invoer waarmee jy in verbinding wil tree en die program sal vir jou die beste voortplantingstyd daarvoor uitwerk. Hierdie program sal jou ook help om voortplantingspatrone te voorsien en gedetaileerde analise van die regte data versamel by jou basisstasie, verskaf.

REGSTELLING

In verlede week se bulletin is per abuis gerapporteer dat Shaun Rudling, ZR5S, ‘n stasie bedryf namens Highway Klub met die roepsein ZS5PMB-4. Dit moet lees "namens Midlands Amateurradio Klub".

HIGHWAY AMATEURRADIOKLUB HOU SUKSESVOLLE ZU-EKSAMEN

Die klas B (ZU) -kursus en eksamen wat verlede week deur die Highway Amateurradioklub gehou is het suksesvol geëindig met al die kandidate wat met vlieënde vaandels geslaag het. ‘n Paar studente het 100% gekry in of die regulasies of die tegniese deel van die eksamen met die finale punte wat gewissel het tussen 83 – 93%. Die hoogste punt is behaal deur B Ainhirn met 95% in die regulasies en 90% in die tegniese deel. Die jongste student wat geslaag het was die 11-jarige Jason Phillips met 87%. Jason hou nou die roepsein ZU5Z.

Gelukwensing aan die kandidate en ons wens julle baie gelukkige ure in hierdie inspirerende stokperdjie.

’n Spesiale dank gaan aan die SARL, Vee en Rassie vir al die ondersteuning wat hierdie taak moontlik gemaak het.

KOMPETISIENUUS

PEARS HF-QSO-PARTYTJIE – LOGSTATE BENODIG

Die PEARS HF-QSO-Partytjie het op 9 Desember plaasgevind en daar was baie aktiwiteit op 40 en 80 meter. Deelnemers word daaraan herinner dat hulle hul logstate moet indien, maak nie saak hoe min kontakte jy gemaak het nie. Die logs moet nie later as 31 Desember ingedien wees en geen laat ontvangste sal aanvaar word nie. Logs kan per e-pos gestuur word aan contest@zs2pe.co.za of per slakkepos na PEARS HF-KOMPETISIE, Posbus 5277, WALMER, PORT ELIZABETH,6065 of per faks na 086 601 2305.

Logs is van ZS4MP, ZR1AAH, ZS2MR, ZS2OC, ZS4BS, ZS6PJ, ZR5X, ZU2CS en ’n kontrolelog van ZS1CF, ontvang.

SARL-HF-VELDDAG

Die uitslae van die tweede been van die SARL-HF-Velddag is bekend gemaak. Twaalf logstate is ontvang, tien kompetisielogs en twee kontrolelogs. Die volledige uitslae is in HF Happenings 280 gepubliseer.

Die uitslae vir die tweede been is soos volg:

1ste Sasolburg ARK, ZS4SRK, met 23 170 punte [lae krag, multi-operateur];
2de Jan Botha, ZS4JAN, met 20 514 punte [QRP, enkeloperateur];
3de Oosrand ARK, ZS6ERB/p4, met 15 252 punte [lae krag, multi-operateur];
4de Philip Esterhuizen, ZU4PE, met 13 272 [lae krag, algemeen].

Die gesamentlike uitslae vir die Februarie- en Novemberbene is as volg:

1ste Jan Botha, ZS4JAN, met 40 260 punte;
2de Sasolburg ARK, ZS4SRK, met 37 894 punte;
3de Oosrand ARK, ZS6ERB/p4, met 30 500 punte;
4de Pretoria ARK, ZS6PTA, met 14 028 punte.

Baie geluk aan die wenners. 'n Kopie van HF Happenings 280 kan verkry word deur middel van 'n versoek per e-pos aan hfcontests@netactive.co.za.

KLUBNUUS

Die AWA (Antieke Draadloosvereniging) wil graag die nuwe komitee vir 2008 voorstel. Die lede is as volg:
President - Rad Handfield-Jones, ZS6RAD;
Tesourier - Willie Axford, ZS5WI;
Tegnieseadviseur - Don Radford, ZS5DR;
Netkontroleerder - Willem Nel, ZS6ALL;
Skakelbeampte & Nuusbrief - Andy Cairns, ZS6ADY.

Ons wens hulle alle voorspoed met die nuwe aanstellings.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag tot laag gaan wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die DX-toestande is goed vir die Oos-Wes-paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 14:00. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, flou 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd kan verras. Wie weet, dalk het Kersvader iets in sy kerskous vir jou? Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Januarie 2008 - NARS heropen;
21 Januarie - Sluitings datum van SARL-HMO-bakenkompetisie;
26 Januarie - BACAR vergadering om 11:00 by NARS;
31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie.

SARLNuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN saamgestel is.
Namens die SARL-nuusdiens en myself wil ek al ons luisteraars ’n Geseënde Kersfees toewens , 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003