SARLNUUS SONDAG 27 JANUARIE 2008
U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.
Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser vanoggend is George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).
STIL SLEUTELS
Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:
ZS1IV, Walter Henry Kasner op 13 January 2008 na ‘n kort siekbed..
ZS5FA, Jack Ekob, geen verdere besonderhede is beskikbaar nie.
(POUSE)
In die nuus vandag:
LISENSIHERNUWINGSKENNISGEWINGS
PRESIDENTSNET EN INTEGNET VANAAND
RTA IN DIE WES-KAAP BELOWE ‘N UITKLOPGELEENTHEID TE WEES
OA-16 SATELLIET DIEN AS SPRAAKHERHALER
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.
KENNISGEWING IVM LISENSIEHERNUWINGS
In ‘n brief van OKOSA aan die SARL, het OKOSA bevestig dat daar ‘n probleem was met die versending van kennisgewings vir lisensiehernuwings. Die rekenings is aan die begin van Desember gedruk maar die versendingshuis wat deur OKOSA gebruik word, het nie die rekenings gepos voordat die huis vir die vakansieseisoen gesluit het nie. Volgens OKOSA is die rekenings twee weke gelede gepos, wat min tyd vir betaling toelaat tot die afsnydatum van 31 Januarie. Dit word aanbeveel dat radioamateurs maar moet betaal sodra die rekening ontvang word.
PRESIDENTSNET EN INTEGNET VANAAND
Die eerste Presidentsnet sal vanaand 27 Januarie om 19:00 SAT plaasvind en sal om 20:00 gevolg word deur INTEGNET.
Die Skool van Fisika van die Universiteit van die Witwatersrand werk aan verskeie radioteleskoopprojekte as deel van hul studenteprogramme. ‘n Gesamentlike projek wat deur die Universiteit befonds word is in die beplanningstadium. Die projek sluit ‘n interessante aktiwiteit in vir radioamateurs wat in sterrekunde belangstel.
Sluit vanaand om 20:00 aan by Tony Voorvelt, ZS6CCD, vir ‘n interessante bespreking aangaande wat beoog word en hoe radioamateurs op verskillende vlakke kan deelneem.
Daar kan dmv. die SARL se web of Echolink op die bespreking ingeskakel word. Dmv. verskeie herhalers kan ook aan die bespreking deelgeneem word.
RTA IN DIE WES-KAAP BELOWE ‘N UITKLOPGELEENTHEID TE WEES
Die SARL se RTA, of dag van Radiotegnologie in Aksie, in die Wes-Kaap beloof om ‘n uitklopgeleentheid te wees met opwindende aanbiedings oor verskeie tegnologieë wat amateurradio sal verbeter. Die aktiwiteit in Kaapstad vind plaas op Saterdag 8 Maart in die Ingenieursblok in Tenantweg van die Kaapse kampus van die Skiereiland Universiteit van Tegnologie.
Om die dag mee te begin sal daar ‘n paneelbespreking wees wat sal aandag gee aan in watter rigting amateurradio oor die volgende 5 jaar gaan beweeg. Dit sal gevolg word deur ‘n aanbieding oor spreispektrum, WiFi vir amateurradio, ruimteweer en HF-voortplanting vir amateurradio. Aan die praktiese kant is daar lesings oor APRS op HF, hoe om ‘n kragbron uit skroot te bou, om ‘n paar te noem.
Die SARL se mikpunt met die RTA is om aan radioamateurs en elektroniese stokperdjiebeoefenaars ‘n insig te bied in die nuwe tegnologieë wat die dryfkrag agter amateurradio in die toekoms sal wees. Terwyl sommige van die titels intimiderend mag klink, sal die aanbiedings op ‘n praktiese vlak wees om deur almal wat dit bywoon geniet te word.
Die program sal vanaf volgende week op die webwerf van die SARL beskikbaar wees. Teken nou reeds die datum 8 Maart in u dagboek aan.
BAKENKOMPETISIE SLUIT OP DONDERDAG
Hierdie kompetisie sal op Donderdag 31 Januarie sluit. Drie van die bakens, ZS6SRL, ZS1HMO en ZS2LAW saai ‘n spesiale boodskap uit. Dekodeer die morseboodskappe en stuur rapporte aan bcn@sarl.org.za. Daar is drie kortgolfhandboeke asook een 2007 ARRL-handboek te wen. Die kompetisie is in vier afdelings, een afdeling vir elke baken en ‘n algehele afdeling vir al drie bakens. Op 1 Februarie sal ‘n wenner vir elke afdeling aangewys word. Indien jy vir al drie afdelings ingeskryf het, sal jy outomaties deelneem aan die trekking vir die 2007 ARRL-handboek.
Hoe om in te skryf: luister op 7 023 kHz na elk van die deelnemende bakenseine en dekodeer die boodskap wat in morsekode gestuur word. Stuur jou boodskap aan bcn@sarl.org.za in die volgende formaat: bakenroepsein, datum en tyd gevolg deur die boodskap, seinverslag, jou roepsein, of naam indien jy ongelisensieerd is, QTH waar jy die bakenseine ontvang het, en jou volledige posadres. Stuur ‘n aparte e-pos vir elke baken. Vir die tydperk van die kompetisie sal die drie deelnemende bakens meer gereeld uitsaai. ‘n Skedule kan verkry word by www.sarl.org.za, klik op ‘services’ en kies ‘Beacon Project’.
OA-16 SATELLIET DIEN AS SPRAAKHERHALER
AMSAT-OSCAR 16 (AO-16), ’n digitale modus satelliet, wat in Januarie 1960 gelanseer is, was nie vir gebruik beskikbaar nie terwyl die beheerspan ‘n ernstige rekenaarprobleem hanteer het. Die satelliet is weer in werking gestel en funksioneer nou as ‘n spraakherhaler, ten minste vir ‘n ongespesifiseerde ‘toetsperiode’ met gebruik van FM vir ontvangs maar ESB vir uitsending.
Vandat AO-16 ongeveer ses maande gelede herwin is, het die beheerspan ongeveer sesmaal onsuksesvol probeer om die satellietsagteware te herlaai. Die span het ‘n serie van geheuetoetse gedoen wat gedui het op ‘n hardewarefout wat verhoed het dat die sagteware suksesvol aan die gang kom.
AMSAT se Visepresident vir Bedryf, Drew Glasbrenner, KO4MA, het gesê: “Nadat afgelei is dat die satelliet se rekenaarstelsel beskadig is, en tydens samesprekings oor uitgebruikneming het Jim onthou van ‘n serie van laevlakbevele wat Tom Clark, K2IO, in die satelliet se ontwerp gedurende konstruksie ingesluit het. Een van hierdie bevele laat toe dat ‘n ontvanger in hom direk aan ‘n sender gekoppel kan word. Die eienaardigheid is dat die opwaartse sein gewone FM is maar dat die afwaartse sein via die BPSK-sender DSB (dubbelsyband) is. Mark het die satelliet vroeg hierdie week in hierdie modus geplaas en ‘n aantal toetse uitgevoer”.
Glasbrenner het ook gesê dat die satelliet baie goed hoor en die verminderde bandwydte wat volg deur gebruik van of HSB of LSB in die aardstasie-ontvanger “laat toe vir ‘n baie robuuste skakel na die aarde. Instemming op die afwaartse skakel is net soos vir ‘n liniêre transponeerder, wat beteken eng met vinnige doppler. Opwaartse instemming is nie nodig nie, netsoos met die FM-modus BHF/UHF-satelliete. Die opwaartse skakel is 145,920 MHz FM, en die afwaartse skakel is 437,026 MHz ESB +/- dopplerskuif. Stuur asb. verslae per e-pos aan ao16@amsat.org. Geniet hierdie voël se nuwe lewe!” het Glasbrenner gesê.
KLUBNUUS
Die Bloemfontein Radioamateurklub hou ’n Vlooimark en Bring & Braai op Saterdag 2 Februarie by The Shack, LMB Bloemspruit. Aktiwiteit begin om 12:00 SAT. Kontak Dennis, ZS4BS by 082 770 9126 vir meer inligting.
U word uitgenooi na die Oos-Rand snuffelmark ook op 2 Februarie by die Oos-Randklub in Springs wat om 09:00 begin en tot ongeveer 12:00 duur.
Tafels is beskikbaar, veel om te eet en drink soos altyd, hulle het selfs stoele. Kom kuier onder die palmbome. Hulle is ook QRV op 145,675, die Oos-Randherhaler.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees behalwe gedurende 1 tot 4 Februarie wanneer onrustige vlakke verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.
Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noord-Oos en Noord-Wes paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings. 15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 07:00. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike kort, flou 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike flou 15, 20 en 80 m-openinge na die VSA.
10 MHz lyk na sonsonder baie belowend vir die morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goeie resultate oor die langer afstande te lewer.
Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Wie weet, dalk hou die nuwe jaar sakke vol kontakte vir jou in? Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
27 Januarie, vanaand – Presidentsnet en Integnet;
31 Januarie - Sluitingsdatum van SARL-HMO-bakenkompetisie;
31 Januarie – Sluitingsdatum vir inskrywings vir Kempton Park Klas B RAE;
2 Februarie – Snuffelmarkte in Springs en Bloemfontein;
9 en 10 Februarie – SARL HF-velddag;
16 Februarie – Sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-toekennings;
8 Maart – RTA in Kaapstad.
SARLnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.
'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX