SARL-NUUS – SONDAG 10 MEI 2009
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met ’n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).
In die nuus vandag:
IS DAAR ’n SONVLEK IN DIE VOORUITSIG?
NOG STEEDS GEEN 40 METERBAND-UITBREIDING
TYD LOOP UIT VIR DIE RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR-TOEKENNINGS
SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE – ZS6SCI
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.
IS DAAR ’n SONVLEK IN DIE VOORUITSIG?
Sterrekundiges kyk na die kant van die son en wag vir die verskyning van ’n aktiewe gebied waar ’n helder koronamassa-uitwerping op 5 Mei plaasgevind het. Die ontploffing was agter die son se oostekant, maar nou draai die son se rotasie die gebied na die aarde toe vir ’n beter beeld. Sal ’n sonvlek te voorskyn kom om die stil tydperk op die son te verbreek? Besoek www.sarl.org.za vir nuwe inligting.
Koronamassa-uitwerpings, in Engels bekend as CME’s, is enorme gasborrels met magnetiese veldlyne wat met verloop van verskeie ure deur die son uitgewerp word. Hoewel die son se korona reeds vir duisende jare tydens totale sonsverduisterings bestudeer is, is koronamassa-uitwerpings eers in die ruimte-eeu ondek.
TYD LOOP UIT VIR NOMINASIES VIR DIE NSN-TOEKENNINGS VIR RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR
Die sluitingsdatum vir die Nokia Siemens-toekennings vir Radioamateur van die Jaar is volgende week. Hier is ’n geleentheid om erkenning te verleen aan ’n radioamateur vir sy of haar tegniese bydrae tot amateurradio of vir die bevordering daarvan.
Daar is drie klasse van toekennings wat jaarliks deur Nokia Siemens Networks geborg word. Hulle is:
GARTH MILNE- TEGNIESE INNOVASIETOEKENNING
Die toekenning is vir die ondersteuning, ontwikkeling en toepassing van tegnologiese innovasie in amateurradio in Suid-Afrika. Die ontvanger is ’n persoon wat die gebruik van tegnologie bevorder het op klub- of nasionale vlak, of by skole of tersiêre instellings.
NSN- RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR
Die toekenning word gemaak vir die ondersteuning en ontwikkeling van die amateurradiodiens in Suid-Afrika, nie vir toekennings soos die DXCC of ander operateurstoekennings of kompetisies nie. Die ontvanger is iemand wat sy of haar kennis en tyd gebruik het om amateurradio in Suid-Afrika te bevorder.
NSN- AMATEURRADIO-GEMEENSKAPSDIENSTOEKENNING
Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust vereer jaarliks ’n radioamateur of groep radioamateurs vir diens aan die gemeenskap. Gemeenskapdiens behels bystand aan ’n gestremde radioamateur, kommunikasie-ondersteuning tydens ’n sportbyeenkoms of tydens ’n noodsituasie soos ’n padongeluk, of ’n natuurramp soos ’n oorstroming, veldbrand of aardbewing.
Nominasies word ingewag vir ’n individu of groep persone, soos ’n radioklub of vereniging.
Die nominasievorm is beskikbaar op www.amateurradio.org.za.
NOG STEEDS GEEN 40-METERBAND-UITBREIDING
Die SARL is vandeesweek ingelig dat die konsepdokument terugverwys is na die regsafdeling van OKOSA vir die regstel van sekere bewoording. By die ter perse gaan van SARLNuus het OKOSA bevestig dat die hoofbestuurder: regsaspekte die geredigeerde dokument goedgekeur het. Dit sal nou na die OKOSA-raad gaan vir finale goedkeuring voordat dit in die Staatskoerant gepubliseer word. Enige nuwe verwikkelinge sal op www.sarl.org.za gepos word sodra inligting vanaf OKOSA ontvang word.
SLUIT NOU AAN EN VERKRY TWEE MAANDE GRATIS LIDMAATSKAP
Nie-lede word uitgenooi om nou aan te sluit teen die afslagfooi van R320, en gratis lidmaatskap vir Mei en Junie te verkry. Vir seniors is die fooi R200. Bel Maandag die SARL-kantoor om van hierdie spesiale aanbieding gebruik te maak. Mariska se telefoonnommer is 011 675 2393.
SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE – ZS6SCI
'n Spesiale geleentheidstasie met die roepsein ZS6SCI sal daagliks, Maandag 18 tot Vrydag 22 Mei 2009, tussen 09:00 en 14:00 SAT bedien word in die Sci Bono-wetenskapsentrum in Newtown, Johannesburg. Alle bande sal gebruik word na gelang van voortplantingstoestande.
Daar is ’n beperkte uitgawe QSL-kaart wat slegs vir bevestigde kontakte uitgestuur sal word. QSL-kaarte sal slegs direk uitgestuur word.
KOMPETISIENUUS
Die ZS4-naelloop, ’n foon- en GG-aktiwiteit, sal op Sondag 24 Mei tussen 16:00 en 17:00 SAT op die lug wees. ZS4-stasies sal ’n RS(T) verslag en hulle dorp se naam of afkorting uitruil terwyl ander stasies ’n RS(T) verslag en hulle provinsiale afkorting uitruil.
Die SARL-jeug-naelloop word op Dinsdag 16 Junie gehou. Begin nou reeds u reelings tref. SARL-raadslid Gerhard, ZS3TG, sal in volgende week se bulletin verdere inligting verskaf.
Die kompetisiekomitee het die uitslae van die SARL-Hamnetkompetisie wat op Sondag 1 Maart gehou is, uitgereik. Daar was baie aktiwiteit op die lug, maar slegs 12 dapper siele se logstate is ontvang – elf kompetisielogs en een kontrolelog. Die uitslae is as volg:
Enkeloperateur, stilstaande mobiel:
Geoffery, ZS6GRL, 555 punte.
Enkeloperateur, draagbaar:
Jan, ZS1VDV, 2 304 punte.
John, ZR6HLT, 558 punte.
Tienie, ZS6MHH, 408 punte.
Enkeloperateur, basisstasie:
Al, ZS2U, 1 974 punte.
Jan, ZS4JAN, 1 800 punte.
Colette, ZR2CR, 1 722 punte [nou ZS2CR].
Philip, ZU4PE, 1 176 punte.
Theunis, ZS2EC, 878 punte.
Martin, ZS4ISH, 768 punte.
Pieter, ZS3AOR, 648 punte.
Dankie aan almal wat deelgeneem het en baie geluk aan die wenners.
KLUBNUUS
Die Oos-Randse takvergadering word op 16 Mei 2009 om 14:00 SAT gehou by die klubhuis in Plantationweg, Springs. Inroepe kan op die 145,675 MHz-herhaler gedoen word. Die tema vir die vergadering is Nuwe Amateurs. Aspirant-radioamateurs word welkom geheet na die HF-assessering ter voorbereiding vir die RAE. Vir meer inligting besoek www.zs6erb.co.za.
Die volgende ZS6PTA Mega-vlooimark word op Saterdag 30 Mei vanaf 08:00 SAT by die Pretoriase Motorklub in Silverton gehou. Vir meer besonderhede, tafels of aanwysings om by die vlooimark uit te kom, skakel Almero, ZS6LDP, op 082 908 3359.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Tans is geen sonvlekke op die oppervlak van die son sigbaar nie. Ons beleef inderdaad ’n diep minimum-aktiwiteitsvlak. Die son se onvermoë om nuwe sonvlekke te produseer het ’n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette wat van die data van bestaande sonvlektellings gebruik maak, en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie! Die frekwensievoorspellingspakkette is geneig om gunstige voorspellings te bied, en moet met omsigtigheid beskou word.
Die hoeveelheid energie van die son wat die suidelike ionosfeer bereik, is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het alreeds ’n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX. Smiddae gaan die toestande na die ooste en die weste goed wees. In die laatmiddag en saans gaan toestande na die noorde goed wees. Noordoostelike, noordwestelike, suidoostelike en suidwestelike paaie gaan uitdagend wees. Langpadpropagasie na die VSA is ook moontlik. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan bedags op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan insluimer, alhoewel goeie resultate nog tot middagete verkry kan word. Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die statiese geraasvlakke nog effe hoog, wat uitdagings bied.
Onthou dat hierdie net ’n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
15 Mei – Sluitingsdatum vir die SAROT-toekenningsnominasies;
16 Mei – Tak Oos-Rand se vergadering;
18 tot 22 Mei – Spesiale Geleentheidstasie, ZS6SCI, Sci Bono op die lug;
20 Mei – Radioamateureksamen;
24 Mei – ZS4-naelloop;
26 Mei – Sandtonklub se tegniese vergadering by die NARS;
30 Mei – ZS6PTA Mega-vlooimark en RTA in Kwazulu-Natal.
SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook ’n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. ’n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na ’n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel is en deur Hester van der Walt taalversorg is.
Dankie dat u geluister het. 73.
/EX