Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 07 JUNIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van twee radioamateurs vandeesweek aangekondig moet word. Hulle is:
Peter Liebenberg, ZS2PL van Jefferiesbaai op Sondag 31 Mei 2009;
Dick Busby, ZS1AQD van Kraaifontein op Dinsdag 2 Junie 2009.
Ons betuig ons innige meegevoel met die afgestorwenes se familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

RADIOAMATEUREKSAMENKANDIDATE IS VOL VREUGDE

SUMBANDILASAT OP PAD NA DIE LANSERINGSTERREIN

HAMNET VAN DIE SARL OP BYSTAND IN GAUTENG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RADIOAMATEUREKSAMENKANDIDATE IS VOL VREUGDE

Die gewag is verby en baie geluk aan die 98 kandidate wat geslaag het uit die 125 wat geskryf het. Aan die wat nie geslaag het nie, doen ‘n bietjie hersiening gedurende die volgende aantal maande en gaan skryf in Oktober weer.
Die oudste kandidaat was E Smook, ZR2ES, van Port Elizabeth, wat 74 jaar oud is. Die jongste kandidaat was R Preston, ZU4RP, van Vanderbijlpark, en wat 9 jaar oud is. Die hoogste puntetelling, 97%, en die hoogste in die klas A eksamen is behaal deur L Mitchell, ZS6LWM, van Pretoria. In die klas B-eksamen is die hoogste persentasie behaal 98% deur H Botha van Bultfontein.
Die jongste persoon wat in die klas A eksamen suksesvol was, is Mitchel Mynhard, wat nou met die roepsein ZS6YH spog. Mitchel het onmiddellik opgegradeer weens die WAZS-sertifikaat wat hy reeds vroeër verwerf het. Mooi gedaan Mitchel, jy het nou ‘n uitdaging aan jou suster Melinda gestel om jou te wen! (Melinda, ZU6MM, was suksesvol om die WAZS200 te verwerf).
Daar is steeds ‘n aantal uitstaande items wat verhoed dat die SARL al die roepseine kan toeken. Vir die wat geaffekteer word, besoek asb. die SARL se webwerf en stel vas watter dokumentasie uitstaande is en dien dit sonder versuim by die SARL se kantoor in. Alle navrae moet aan Mariska wie se e-posadres admin@sarl.org.za is, gerig word.
Die SARL het ‘n ooreenkoms met OKOSA dat sodra roepseine aan suksesvolle kandidate uitgereik is, hulle dadelik met uitsendings mag begin. Bevestigende briewe en sertifikate sal binnekort aan kandidate gepos word.
Luister uit vir die nuwe roepseine en verwelkom die nuwe operateurs hartlik.

SUMBANDILASAT OP PAD NA DIE LANSERINGSTERREIN

Sumbandilasat is op pad na Rusland. Die satelliet het Donderdag vertrek en dit word verwag dat om op 10 Julie in Moskou te arriveer. Dit sal op 17 Julie na Baikonoer vervoer word vir integrasie op die Soyuz lanseringstuig. Die lanseringsopening is tussen Julie en Augustus 2009.

NOG STEEDS GEEN STAATSKOERANT MET REGULASIEWYSIGINGS NIE

Vrydag het gekom en gegaan maar geen staatskoerant met gewysigde amateurradioregulasies verskyn het nie. Daar is steeds een of ander oponthoud by OKOSA om die veranderings gepubliseer te kry. Die probleem is klaarblyklik die plasing van ‘n bestelling vir publikasie in die staatskoerant voor die afsnydatum vir die koerant. Die webwerf van die SARL sal opgedateer word soos en wanneer die inligting ontvang word.

HAMNET VAN DIE SARL OP BYSTAND IN GAUTENG

Aangesien die staking van werknemers van die Johannesburgse nooddienste geen tekens van ‘n vroeë beëindiging toon nie, het Noodbestuur besluit om Hamnet versoek om sy lede op ‘n gereedheidsbasis te mobiliseer.
Gauteng-Suid se Hamnetlede is per SMS aangesê om beskikbaar te wees. Ten tye van publikasie van SARLNuus was geen verdere inligting aangaande die staking beskikbaar nie. Francois Botha, Hamnet se Nasionale Direkteur het egter gesê dat die reaksie van Hamnetlede goed was en dat Hamnet op kort kennisgewing tot aksie kan oorgaan indien die toestand versleg.

SARL SE WEBWERF WISPELTURIG

Vir ‘n afgelope aantal dae was die SARL se webwerf wispelturig. Die diensverskaffer werk aan die probleem en doen alles binne hulle vermoë ten einde die probleem so gou moontlik op te los. Die blyk dat die probleem bedienerverwant is.

BELANGRIKE NUUS VIR KLUBS

Volgende op die besprekings tydens ‘n onlangse Presidentsnet oor hoe om nouer skakeling tussen die SARL en klubs te bewerkstellig, het die SARL ‘n nuwe affiliasieskema aanvaar wat beide finansiële en operasionele voordele vir klubs inhou. Volle besonderhede is ingesluit in die SARL-brief vir klubs wat hierdie naweek gepos sal word. Hierdie brief sal ook vroeg in hierdie week beskikbaar wees vir aflaai van www.sarl.org.za. Kies News in die sypaneel op die tuisblad en klik op Club Talk.

PORT ELIZABETH MAAK GEREED VIR DIE RTA OP 20 JUNIE

Die SARL se Radiotegnologie-in-Aksieprogram sal op 20 Junie 2009 by Port Elizabeth aandoen. Dit sal in die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit gehou word.
Die volle program is nou op die webwerf beskikbaar of ‘n versoek daarvoor kan gerig word deur ‘n e-pos te stuur aan armi@sarl.co.za. Sit asb. PE RTA in die onderwerplyn.
Pears het gereël vir verversings en ‘n vingerete sowel as ‘n kompetisie waarin ‘n ICOM IC-2200, tweemeter mobiele sendontvanger gewen kan word. Al hierdie plus ‘n inskrywingskaartjie in die bywoningstrekking is in die R50 registrasiefooi ingesluit.

KRY DIE JEUG OP 16 JUNIE AAN DIE PRAAT

Die SARL se jaarlikse jeugdagwedloop sal hierdie jaar groter en beter wees met baie pryse en gelukkige trekkings. Het u gereed gemaak om jongmense met amateurradio te beïndruk? Verkry die besonderhede van www.sarl.org.za of stuur ‘n e-pos aan youth@sarl.org.za vir ‘n inligtingspakket.

KLUBNUUS

Hiermee word kennis gegee van die verandering van die datum en plek van die volgende ERB klubvergadering. Die nuwe datum is 16 Junie 2009 en die plek is Arrowe-park te Benoni en sal met die Jeugdag-sprint saamval. Die klubvergadering sal die direk na die Jeugdag sprint wees en sal deur 'n familie bring en braai gevolg word.
Die ERB sal as gasheer by die Jeugdag sprint optree en nooi alle amateurs sowel as nie-amateurs onder 26 om die dag saam te kom geniet. Die Jeugdagwedloop sal van 10:00 tot 12:00 gehou word. Kom kyk waaroor amateur radio gaan.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Gedurende die week was daar 'n klein groepie sonvlekke sigbaar gewees maar hulle het teen die einde van die week begin wegkwyn. Die groepie het as 1019 bekend gestaan.
Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionosfeer bereik is met die seisoensverandering besig om af te neem. Dit het 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX.
Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Vroegoggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië en Nieu-Zeeland te maak. Gedurende die aand is daar 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees. Langpadvoortplanting na die VSA is ook gedurende die middag moontlik.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.
Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die geraasvlakke agv. statiese ontladings nog bietjie hoog wat uitdagings bied.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

8 Junie – Sluitingsdatum vir ZS4-naelloop-logstate;
16 Junie – Jeugdagnaelloop en ERB klubvergadering;
17 Junie – Wêreld-QRP-dag;
17 tot 21 Junie – SARL se 160-m-QSO-geselligheid;
27 Junie – Magalies Radioamateurklub se snuffelmark;
28 Junie – Digitale kompetisie.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan. Moet asb. nie nuusberigte aan die Administratiewe Beampte of direk aan een van die bulletinsamestellers stuur nie – die kanse is goed dat u berig gemis sal word en nie in 'n bulletin ingesluit word nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, opgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003