Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 27 DESEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750; 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

GEEN OKOSAREKENINGE VOOR MIDJANUARIE 2010

SUMBANDILASAT SE AMATEURLOONVRAG IN WERKING OOR DIE VAKANSIETYD

NEEM DEEL AAN ’n HF-OUDIO-KUNS-EKSPERIMENT

VOYAGER MAAK ’n INTERSTELLêRE ONTDEKKING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

GEEN OKOSAREKENINGE VOOR MIDJANUARIE 2010

OKOSA het bekend gemaak dat rekeninge vir hernuwings van lisensies eers gedurende die tweede week van Januarie gepos sal word. Alhoewel rekeninge voor die einde van Januarie betaalbaar is, sal OKOSA nie enige stappe voor die einde van Februarie doen nie.

Die lisensiegeld vir ’n amateurradiolisensie vir 2010 bly R27.

Indien u nogtans u lisensie wil hernu voordat ’n rekening ontvang is, maak asseblief seker dat u roepsein sowel as die lisensienommer op die elektroniese of poskantoor se betalingsbewys verskyn. OKOSA ontvang elke jaar betalings wat nie teen die regte rekening verreken kan word nie aangesien hierdie belangrike inligting nie saam met die betaling verskaf word nie.

SUMBANDILASAT SE AMATEURLOONVRAG IN WERKING OOR DIE VAKANSIETYD

SumbandilaSat, SO67 se amateurloonvrag sal op verskeie dagligverbyvlugte gedurende die volgende aantal dae in werking wees. Verkry al die besonderhede vanaf www.amsatsa.org.za.

NEEM DEEL AAN ’n HF-OUDIO-KUNS-EKSPERIMENT

Kapwani Kiwanga, ’n Kanadese kunstenaar wat primêr met klank en beeldwerk, nooi radioamateurs, met goeie HF-vaardighede, uit om deel te neem aan ’n oudiokunsprojek op 20 meter.

Kapwani sal ’n boodskap op 20 m vanaf Eindhoven in Nederland uitsaai na lande wat ’n historiese verbintenis met Holland het naamlik: Surinam, Indonesië en Suid-Afrika. Deelnemers in hierdie lande word gevra om die boodskap wat ontvang word terug na hom in Eindhoven uit te saai. Kapwani sal weer terug uitsaai en so aan en so aan. Hierdie ping-pongeffek sal die boodskap toenemend vervorm wat uiteindelik sal lei tot ’n abstrakte artistiese klankeffek.

Sy het ’n oorspronklike stukkie klank geskep gebaseer op argiewe van Hollandse programme uit die 1940’s wat by Radio Nederland gevind is. Haar klankskepping sluit Morsekode en klankopnames in. Dit is nie ‘musiek’ in die normale betekenis nie. Die boodskap is nie polities of aanstootlik van aard nie. Dit sal ongeveer drie minute duur.

Kapwani wil graag sou gou moontlik begin. Indien u aan die projek wil deelneem, stuur ’n e-pos aan Kapwani na kiwangakap@hotmail.com met ’n kopie aan SARLNuus na armi@sarl.org.za of skakel haar by 0031 617 638 920. Ons sal graag die vordering van die eksperiment wil volg.

Kapwani is onlangs as ’n inwonende kunstenaar na MU in Eindhoven uitgenooi.

VOYAGER MAAK ’n INTERSTELLêRE ONTDEKKING

Die sonnestelsel gaan deur ’n interstellêre wolk wat volgens die fisika nie moet bestaan nie. In die uitgawe van 24 November van Nature maak ’n groep wetenskaplikes bekend hoe NASA se ruimtetuig Voyager die probleem opgelos het.

Met gebruik van data wat deur Voyager voorsien is, het wetenskaplikes ’n sterk magnetiese veld net buite die sonnestelsel ontdek. Hierdie magnetiese veld hou die interstellêre wolk aanmekaar en los die lank uitstaande raaisel van hoe dit hoegenaamd kan bestaan, op.

Wat is die implikasies? Dit kan uitstraling vermeerder en uiteindelik ’n effek op die weer op die aarde hê. Die tydskaal is egter ’n aantal miljoene jare. Ons hoef ons dus nie nou daaroor te bekommer nie. Dit is egter interessante leesstof. Kom luister vanoggend op Amateur Radio Mirror International na die volledige storie waar Dr. Tony Philips van Wetenskap by NASA dit sal vertel. Vir tye en frekwensies besoek www.sarl.org.za, klik op ‘publications’ en kies ARMI.

KOMPETISIENUUS

Die gesamentlike uitslae van die Februarie- en Novemberbene van die SARL-HF-Velddag is gepubliseer in HF Happenings 385 en is ook beskikbaar op die SARL-webwerf. Hier is 'n opsomming:

Hoë krag.
1ste Pretoria ARK, ZS6PTA, 30 488 punte, Multi-operateur veldstasie;
2de Kaapstad ARS, ZS1CT, 19 944 punte, Multi-operateur veldstasie;
3de Zululand ARK, ZS5ZLB, 19 542 punte, Multi-operateur veldstasie.

Lae krag.
1ste Wesrand ARK, ZS6WR, 142 024 punte, Multi-operateur veldstasie;
2de Boland ARK, ZS1TB, 132 240 punte, Multi-operateur veldstasie;
3de Sandton ARK, ZS6STN, 75 952 punte, Multi-operateur veldstasie.

QRP.
1ste Jan Botha, ZS4JAN, 208 812 punte, Enkel operateur veldstasie;
2de Pieter Jacobs, ZS6XT, 78 954 punte, Algemene stasie;
3de Pierre van Deventer, ZS6BB, 38 052 punte, Enkel operateur veldstasie.

Well gedaan en geluk aan die wenners.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Gedurende die week was daar twee sonvlekgroepe sigbaar. Gedurende Dinsdag het sonvlek 1036 uitgebars wat 'n sonfakkel tot gevolg gehad het wat soveel energie as 'n miljoen megaton TNT bevat het. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week is tussen tien en vyftien. Toestande is beslis besig om te verbeter.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en aande gaan toestande na Europa gematig wees. Kontakte met Nieu-Zeeland gaan op 15 m vir 'n kort rukkie gedurende die oggende moontlik wees. Smiddags behoort kontakte met Australië op 20 m moontlik wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m het weer van sy glorie herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

1 Januarie 2010 - Handsleutelnag met OSCAR’s, 2010;
1 Januarie 2010 – Aansoeke vir ruimteweernavorsingspos by HMO moet in wees, kry inligting van info@hmo.ac.za;
15 tot 17 Januarie 2010 – PEARS BHF/UHF-kompetisie;
23 Januarie - Tuiskonstruksiekursus in Kaapstad;
31 Januarie – Presidentsnet om 19:30;
28 Februarie - Sluitingsdatum vir die opstelkompetisie oor Sumbandilasat;
28 Februarie – Laaste datum vir inskrywings vir die ARRISSSAT-projek na youth@sarl.org.za.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Van SARLNuus wens ons u ’n voorspoedige 2010, mag amateurradio van krag tot krag gaan.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003