Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 3 JANUARIE 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SARL-NUUS BENODIG REDAKTEURS

SUMBANDILASAT SO67 SE KRAGUITSET VERMINDER

MOSIES VIR DIE ALGEMENE JAARVERGADERING

BACAR-LANSERING IN DIE WES-KAAP

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-NUUS BENODIG REDAKTEURS

SARL-Nuus word weekliks deur ’n klein span redakteurs, wat in pare werk, saamgestel. Die nuusredakteur stel SARL-Nuus saam in beide Engels en Afrikaans van nuusitems ontvang van klubs en radioamateurs, asook ander nuusbronne. Die taalredakteur versorg hierna beide bulletins ten opsigte van taalgebruik, konsekwentheid en styl. Die twee bulletins word dan aan George Honiball, ZS6NE, versend, wat dit finaal nagaan en dan reël vir die verspreiding en plasing op die SARL se webblad.

Redakteurs word in alle afdelings benodig om te verseker dat die SARL se nuusbulletins vlot verloop. Met meer redakteurs kan die werklas van die SARL-Nuusspan verdeel word. Redigering behels ongeveer drie ure per week elke derde of vierde maand.

Indien vrywilligers belangstel, stuur ’n e-pos aan George aan gth@absamail.co.za of skakel hom by 012 664 4155.

SUMBANDILASAT SO67 SE KRAGUITSET VERMINDER

Ten einde krag te spaar vir ander funksies van SumbandilaSat, het die beheerspan die kraguitset van die amateurradio-draende transponeerder na 2,5 Watt verlaag. Vroeë verslae vanaf stasies in Australië dui daarop dat die verlaging skaars waarneembaar is en dat die sein steeds sterker is as die meeste ander amateurradiosatelliete.

Die beskikbaarheid van die ZS0SUM-loonvrag sal gedurende die dag wees wanneer die satelliet in volle sonlig is. Die werkskedule is op www.amsatsa.org.za gepubliseer.

MOSIES VIR DIE ALGEMENE JAARVERGADERING

Mosies vir indiening en bespreking tydens die AJV van die SARL op 24 April 2010 word ingewag.

Elke mosie moet die volgende bevat:

1. ’n Bondige beskrywing van die mosie; en
2. ’n Motivering ter ondersteuning van die mosie.

’n Voorsteller en sekondant moet elke mosie onderteken.

Mosies moet die Sekretaris nie later nie as Sondag 31 Januarie 2010 bereik. Mosies moet geadresseer word aan: Die Sekretaris, SARL, en gepos word aan Posbus 1721, Strubensvallei, 1735, of gefaks word na 011 675 2393.

DESEMBER ‘n REKORD-SONVLEKMAAND

2009 het geëindig met ’n opwelling van sonvlekke. Desember het beduidend meer ‘gevlekte dae’ as enige vorige maand van die jaar gehad en al die sonvlekgroepe is deel van die nuwe Sonsiklus 24. Kan dit aanduidend wees van die einde van die laagste sonvlek-minimum in amper ’n eeu? Bly op hoogte deur spaceweather.com te besoek. Het u enige goeie DX-kontakte die afgelope tyd gemaak? Stuur u inligting na armi@sarl.org.za.

EERSTE VERSOEK VIR REFERATE VIR DIE SA AMSAT-RUIMTESIMPOSIUM

Hierdie is die eerste versoek vir referate vir die 2010 SA AMSAT-Ruimtesimposium wat op 27 Maart 2010 by die Universiteit van KwaZulu-Natal gehou sal word. Besoek www.amasatsa.org vir meer inligting.

TUISKONSTRUKSIEKURSUS

Bespreek nou vir Durban en Port Elizabeth. Daar is slegs een plek beskikbaar vir die Kaapstadkursus wat op 23 Januarie plaasvind. Daar is nog plek beskikbaar vir die Durban- en Port Elizabethkursusse. Bespreek nou om teleurstelling te voorkom. Volle besonderhede en ’n besprekingsvorm is beskikbaar by www.sarl.org.za, kies ‘Activities’ en dan ‘RTA’ en volg die skakels. As u bespreek het vir die Kaapstadkursus, sal u naam op die RTA-bladsy verskyn. Gaan dit asseblief na en as u naam nie daar is nie, stuur ’n e-pos aan rta@sarl.org.za.

BACAR-LANSERING IN DIE WES-KAAP

Die eerste vlug van BACAR2010 word beplan vir Sondag 24 Januarie. Die loonvrag is multifunksioneel en sluit ’n 20- en 40 m ESB-sendontvanger, ’n 2 m papegaaiherhaler, ’n 2 m Dopplerbaken, toegerus met ’n GPS, asook ’n kamera in. SARLNuus en www.amsatsa.org.za sal gereelde opdaterings bied.

ZS10WCS JANUARIE IS VRYSTAAT-MAAND

Gedurende Januarie 2010 sal die Vrystaat Amateurradioklub gasheer wees vir die spesiale ZS10WCS-stasie. As u nog nie hierdie spesiale geleentheidstasie gewerk het nie, hier is nog ’n kans.

KLUBS WORD GENOOI OM NOMINASIES VOOR TE Lê VIR SARL-TOEKENNINGS

Radioklubs en radioamateurs word genooi om nominasies voor te lê vir die onderskeie SARL-toekennings, wat erkenning verleen aan radioamateurs vir uitmuntendheid in verskeie aspekte van die stokperdjie. Klubs sal ‘n SARL-brief met meer besonderhede per e-pos ontvang. Die SARL-brief kan ook by www.sarl.org.za afgelaai word, klik op ‘News’ en kies ‘Clubtalk’.

DRIE GOEIE REEDS OM BY DIE SARL AAN TE SLUIT

Daar is baie goeie redes waarom ’n radioamateur by die SARL moet aansluit. U kan nou aansluit vir slegs R200 vir die volgende ses maande en Radio ZS ontvang, asook al die ander voordele, soos verlaagde tariewe om die verskillende kursusse wat die SARL aanbied by te woon. Daar is byvoorbeeld die PIC- en tuiskonstruksiekursusse in Durban en Port Elizabeth. Besoek www.amateurradio.org.za/threereasons.jpg om vas te stel waarom u nie kan bekostig om nie lid van die SARL te wees nie. Besoek www.sarl.org.za om meer uit te vind oor lidmaatskap; klik op ‘Membership’.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. 2009 is met 'n gesonde hoeveelheid sonaktiwiteit afgesluit. Gedurende Desember was daar sonvlekke vir 22 dae sigbaar. Daar word voorspel dat sonvlekke 'n daaglikse gebeurtenis vanaf Februarie 2010 sal wees. Kom ons hou duim vas dat dit die geval is! Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die komende week is tussen 10 en 15. Toestande is beslis besig om te verbeter.

15 en 20 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. In die laatmiddae en die in die aande gaan toestande na Europa matig wees. Kontakte met Nieu-Seeland gaan op 15- en 20 m vir kort rukkies gedurende die oggende moontlik wees. Gedurende die oggende en smiddags behoort kontakte met Australië vir 'n kort rukkie op 15 en 20 m moontlik te wees. In die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m het weer van sy aansien herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word. Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 tot 17 Januarie 2010 – PEARS BHF/UHF-kompetisie;
23 Januarie – Tuiskonstruksiekursus in Kaapstad;
31 Januarie – Presidentsnet om 19:30;
31 Januarie – Sluitingsdatum vir AJV-mosies;
28 Februarie – Sluitingsdatum vir die opstelkompetisie oor SumbandilaSat;
28 Februarie – Laaste datum vir inskrywings vir die ARRISS-SAT-projek wat ingestuur moet word na youth@sarl.org.za.
27 Maart – 2010 SA AMSAT Ruimtesimposium.

Om SARL-nuus vir vandag af te sluit, die eerste vir 2010, wil ons graag ons beste wense vir die jaar vorentoe betuig. Die SARL-president, Rassie Erasmus, ZS1YT, en die Raadslede van die SARL sluit by die SARL-nuusspan aan om u ’n voorspoedige en aangename jaar toe te wens.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS/6, saamgestel is en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003