SARL-NUUS - SONDAG 17 JANUARIE 2010
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
STIL SLEUTELS
Dit is met leedwese dat die afsterwe van twee radioamateurs aangekondig word.
Meyer Koch, ZS5MK, het op 13 Januarie ’n stil sleutel geword. Meyer was ’n getroue lid van die Midlands ARK en het vir baie jare op die komitee gedien. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy vrou Norma ander familie en vriende.
Maurice Dobson, ZS5BCA, van Margate, het in Julie 2009 ’n stil sleutel geword. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy vrou Nell ander familie en vriende.
POUSE
In die nuus vandag:
BACAR VLIEG VOLGENDE SONDAG
BESPREEK VROEGTYDIG VIR NATCON-2010
SARL HOU WERKSWINKEL MET OKOSA
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.
BACAR VLIEG VOLGENDE SONDAG
BACAR 2010 word om 11:00 SAT op Sondag 24 Januarie vanaf die Worcester-lughawe gelanseer. Die tydsduur van die vlug sal bepaal word deur die rigting van die wind in die hoër atmosfeer. Toeskouers is welkom om die lansering by die lughawe by te woon. Kommentaar oor die lansering sal op 7 082 kHz uitgesaai word. Meer frekwensies sal in volgende week se SARL-nuus gepubliseer word.
BACAR 2010 SE BESONDERSE LOONVRAG
’n 5 W FM-papegaaiherhaler op 145,550 MHz FM met ’n rubber-antenna. Die herhaler saai uit en ontvang op dieselfde frekwensie. Stuur ’n simplekssein en luister na u sein wat terugkom. Die baken is aktief as die herhaler vir langer as ’n minuut nie gebruik word nie. Die baken saai deur middel van spraak die volgende uit: ID, GPS-ligging, hoogte en temperatuur.
Die 20 m-sender werk op 14,285 MHz ESB met 0,5 W kruinomhullingsvermoë (of KOV).
Die 40 m-sender werk op 7,090 MHz ESB met 0,5 W KOV.
Die 2 m-ESB-sender werk op 144,350 MHz ESB met 0,5 W PEP.
Die 2-, 20- en 40 m-senders sal – vir toetsdoeleindes – ’n DSB onderdrukte dragolf uitsaai om die gebruik daarvan in eenvoudige ontvangers te toets. Die senders sal elke drie minute die ID, ligging, hoogte en temperatuur in spraak uitsaai.
Vir meer inligting oor die GPS en kamera aan boord, besoek www.amsat.org.za. Monitor die webtuiste gedurende die vlug vir gereelde opdaterings en foto’s. Die webtuiste sal opgedateer word soos inligting beskikbaar raak.
BESPREEK VROEGTYDIG VIR NATCON-2010
Volle besonderhede van die SARL se nasionale konvensie wat van 23 tot 25 April in Port Elizabeth gehou word, asook ’n aflaaibare besprekingsvorm is op die SARL se webtuiste gepubliseer. Bespreek vroeg en u kan kwalifiseer vir ‘n gelukkigstrekking vir ’n ARRL-handboek. Bespreek verblyf en vlugte vroegtydig omdat Port Elizabeth ook gasheer is vir die Ystermankompetisie oor dieselfde tydperk.
SARL-TOEKENNINGS
Het u al oorweeg om ’n lid van u klub te nomineer vir een van die SARL se jaarlikse toekennings? Volle besonderhede kan gevind word op die SARL webtuiste by www.sarl.org.za, klik op ‘News’ en dan ‘Clubtalk’. Nominasies sluit op 31 Januarie.
DIE BPL-OORLOG: SWEDE ONTTREK SEKERE BPL/KLK-MODEMS
Die telling is 1-0 vir amateurradio in die BPL-oorlog. In die nuutste uitgawe van die EUROCOM-nuusbrief is ’n welkome item gepubliseer oor die onttrekking van die besoedelende kraglynkoppelaars in Swede.
Die 5 Januarie-uitgawe noem dat Swede sekere kraglynkommunikasiemodems (of KLK’s) van die land se markte onttrek het. Die Sweedse administrasie argumenteer dat hierdie toestelle nie die beskerming volgens die ooreenstemmings-standaard bied nie. Dit is ook bevind dat, in baie gevalle, die nadelige steurings waarlik gemeet kon word. Die verslag noem dat in hierdie gevalle – ontvangs soos bepaal deur die betrokke ITU-regulasies – nie meer moontlik is nie en dus is die wesenlike vereiste geskend.
Plaaslik is daar nog geen nuus oor die interim KLK-regulasies, wat vir goedkeuring deur OKOSA wag, ontvang nie.
SARL HOU WERKSWINKEL MET OKOSA OOR LISENSIëRING
Verlede Vrydag het die SARL ’n werkswinkel oor “Wat is Amateurradio?” by die OKOSA-hoofkantoor in Sandton aangebied. Die doel met die werkswinkel was om aan die lisensiëringspersoneel meer insig te bied oor verskeie aspekte van amateurradio. Die twee uur-lange werkswinkel is gelei deur Hans van den Groenendaal, ZS6AKV, en Francois Botha, ZS6BUU. Francois het die geleentheid gebruik om die belangrike rol van amateurradio tydens noodtoestande te verduidelik en het die aardbewing in Haïti as voorbeeld gebruik. Mark Zank, wat nie die werkswinkel kon bywoon nie, het waardevolle insette vir die aanbieding oor die eksamenproses gelewer.
U LISENSIE-AANSLAG NOG NIE IN DIE POS NIE
OKOSA het nog nie die amateurradio-lisensiefakture gepos nie. Die fakture word tans gedruk en sal eersdaags in die pos wees.
KOMPETISIENUUS
Die 2010 SARL-Dagboek van Gebeure, die 2010 SARL-kompetisiehandboek (beide in PDF-formaat) en die 2010 Log- en Opsommingsblaaie (‘n ‘zip-lêer’) is op die ‘Contest’-bladsy van die SARL-webtuiste beskikbaar.
Die eerste van ses SARL 80 m-klubkompetisies word op Woensdag 27 Januarie vanaf 19:30 tot 20:30 SAT gehou. Hierdie is ’n foon-alleen-kompetisie en ’n RS-verslag en ’n opeenvolgende reeksnommer vanaf 001 word uitgeruil. Elke kontak tel een punt en stasies mag slegs een keer tydens die sessie gekontak word. Die individuele tellings word bymekaargetel om die radioklub se telling te bepaal.
In Maart sal PSK en RTD die modusse wees vir die SARL 80 m-klubkompetisie.
KLUBNUUS
Die Wesrand Radioamateurklub is besig met die saamstel van die klub se geskiedenis sedert sy ontstaan in 1938. Die klub verneem graag van enigiemand wat oor inligting, foto’s en stories beskik. Bydraes kan gestuur word aan Willem, ZS6WWJ, met e-posadres willem@zs6wwj.co.za. U bydrae sal erken word in die boek wat die klub beoog om teen die einde van 2010 te laat verskyn.
HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. 2010 het met 'n bruikbare hoeveelheid sonaktiwiteit afgeskop. Tans maak sonvlek 1 040 HF-entoesiaste se harte opgewonde. 'n Nuwe rekord-sonvlekgetal van 95,4 is Dinsdag vir Siklus 24 aangeteken. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week is tussen 20 en 30. Toestande is beslis besig om te verbeter.
15- en 20 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. In die laatmiddag en aande gaan toestande na Europa gematig wees. Kontakte met Nieu-Seeland gaan op 15- en 20 m vir 'n kort rukkie gedurende die oggende moontlik wees. Gedurende die oggende en smiddags behoort kontakte met Australië vir 'n kort rukkie op 15- en 20 m moontlik te wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15- en 20 m na Brasilië goed wees.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggende en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m het weer van sy aansien herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word. Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
15 tot 17 Januarie 2010 - PEARS BHF/UHF-kompetisie;
23 Januarie - Tuiskonstruksiekursus in Kaapstad;
24 Januarie - BACAR-lansering in die Wes-Kaap;
27 Januarie - SARL 80 m-klubkompetisie;
31 Januarie - Presidentsnet om 19:30;
31 Januarie - Sluitingsdatum vir AJV-mosies;
6 en 7 Februarie - AWA GG-aktiwiteitsdag;
28 Februarie - Sluitingsdatum vir die opstelkompetisie oor SumbandilaSat;
28 Februarie - Laaste datum vir inskrywings vir die ARRISS-SAT-projek wat ingestuur moet word na youth@sarl.org.za;
27 Maart - 2010 SA AMSAT Ruimtesimposium.
SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is. Die bulletinredakteur was Jannie, ZR6PHD.
Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX