SARL-NUUS - Sondag 6 JUNIE 2010
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
STIL SLEUTEL
Dit is met leedwese dat die heengaan van Peter Jackson, ZS1MWH, op Dinsdag 1 Junie aangekondig word.
Ons betuig ons innige meegevoel aan sy vrou Ruth, familie en vriende.
(POUSE)
In die nuus vandag:
DRINGENDE HAMNETVERGADERING
DIE MEI-2010 RAE-RESULTATE BEKENDGEMAAK
RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE 2010 GAAN WES-KAAP TOE
INTERNASIONALE AMA-KONFERENSIE IN DALLAS, TEXAS
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.
DRINGENDE HAMNETVERGADERING
Hamnet Gauteng-Suid hou ‘n dringende vergadering op Woensdagmiddag 9 Junie om 18:00 by die Nasionale Amateurradiosentrum te Radiokop om die finale protokol en beplanning vir die Sokker Węreldbeker te finaliseer.
Die vergadering vind plaas om 18:00 en almal wat wil deelneem is welkom om dit by te woon. Nie-Hamnetlede wat gewillig is om met mobiele 2 m-kommunikasie te help word vriendelik genooi om ook die vergadering by te woon. Alle sake rakende die toernooi sal by die vergadering bespreek word.
Ons sien uit na ‘n goeie opkoms.
DIE MEI-2010 RAE-UITSLAE BEKENDGEMAAK
Met genoë maak die SARL bekend dat die uitslae van die Mei 2010-RAE op die SARL se wbwerf beskikbaar is. Gaan kyk gerus by die RAE-lisensiërings-registrasieblad en klik op ‘RAE-uitslae’.
NEEM ASSEBLIEF KENNIS: Hoewel die uitslae bekendgemaak is, word die toegekende roepseine teruggehou totdat finalisering daarvan bevestig is.
Daar is ‘n aantal kandidate wat nog nie hul HF-assessering voltooi het nie. Om dié van u te help wat in die omgewing van Johannesburg woon, word ‘n spesiale HF-assessering op 19 Junie om 08:00 by die NARS gehou. Doen gerus moeite om dit by te woon as u assessering nog uitstaande is.
Baie geluk aan dié wat geslaag het. Vir die ander kandidate, moenie moed opgee nie. Die Oktober-eksamen bied u ‘n verdere geleentheid om sukses te behaal.
VOOTREKKERS OP DIE LUG
Twee groot Voortrekkerkampe word gedurende die komende skoolvakansie, een by Sedgefield en een by Hartenbos in die Suid-Kaap gehou. Die Voortrekkers gaan van 12 tot 26 Junie ‘n amateurradiostasie, ZS1VTS, onder toesig van Johan, ZS6JPL, bedryf. Benewens HF sal die stasie ook op BHF en UHF aktief wees.
RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE 2010 GAAN WES-KAAP TOE
Na die suksesvolle RTA-simposium in Durban, word die volgende geleentheid in die Wes-Kaap by die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie aangebied. Teken solank Saterdag 24 Julie in u dagboek aan. U mag dit nie misloop nie.
INTERNASIONALE AMA-KONFERENSIE IN DALLAS, TEXAS
Die Noord-Texas Mikrogolfvereniging bied die 14de Internasionale AMA-konferensie gedurende 12 tot 14 Augustus in Dallas, Texas, aan. Dit sal die eerste keer sedert 2004 wees dat dié konferensie in die VSA plaasvind.
Of u nou ‘n deurwinterde AMA-entoesias of ‘n groentjie is, die konferensie sal ‘n wye spektrum van tegniese aktiwiteite, ontspanning en besoeke aan besienswaardighede bied.
Op Vrydag 13 Augustus sal Gerald Youngblood, K5SDR, President en Hoof Uitvoerende Beampte van FlexRadio, die noenmaalspreker wees. Op Saterdag 14 Augustus sal die Nobelpryswenner Joe Taylor, K1JT, ‘n lesing lewer oor die 432 MHz-AMA-geleentheid te Arecibo.
Ander lesings sluit in ‘n werkswinkel oor ruissyfers deur Al Ward, W5LUA, Tommy Henderson, WD5AGO, en Tony Emmanuele, WA8RJF. Daar sal ook ‘n AMA-demonstrasie deur Paul Perryman, WA5WCP, asook talle uitstallings deur handelaars wees.
IS U INNOVEREND?
Radioamateurs en tegnoloë word genooi om projekte in te dien wat amateurradio sal vernuwe. Dit kan onder andere sagteware, of amateurradio en die internet, of die ontwikkeling van kompakte HF-antennas vir woonstel- en meenthuisbewoners, of selfs innovasie op die gebied van noodkommunikasie wees.
“Innovasie in Amateurradio” is ‘n 18-maande projek van die Suid-Afrikaanse Amateurradiotrust (SAARDT) wat daarop gemik is om innovasie in amateurradio te bevorder.
“Hoewel amateurradio een van die oudste en steeds die bevredigendste van alle wetenskaplike stokperdjies is, kom daar ‘n tyd aan waar daar op innovasie, nuwe idees en nuwe tegnologië gefokus moet word om die stokperdjie relevant en opwindend te hou.” Dit is die mening van Hannes Coetzee, ZS6BZP, ‘n tegnoloog en lid van die Raad van Trustees van SAARDT. Hannes was een van die hoofargitekte van die amateurradioloonvrag op SumbandilaSat, wat wye belangstelling onder radioamateurs węreldwyd wek.
Besoek www.amateurradio.org.za om meer uit te vind hoe u ‘n Icom-IC7200 kan wen.
TYD OM LIDMAATSKAP TE HERNU
Hoewel dit slegs een keer per jaar gebeur, is dit nou tyd vir die hernuwing van u lidmaatskap. Die ledegeld vir lidmaatskap vir 2010/2011 is nou betaalbaar. Rekeningstate is alreeds gepos. Gaan asseblief die inligting na en verander waar nodig. Sluit asseblief u naam, van en roepsein in as verwysing. Die spoedige betaling van u jaargelde is ‘n aanduiding van die waarde wat u aan amateurradio en lidmaatskap van SARL heg. As u nog nie ‘n lid is nie, nou is die beste tyd om aan te sluit. Kry al die inligting by www.sarl.org.za.
REËLINGS OM AMATEURRADIO OP 16 JUNIE TE BEVORDER
Klubs en individuele radioamateurs word aangemoedig om stasies op te rig in openbare plekke soos winkelsentrums om Jeugdag 2010 te vier. Dit is 'n uitstekende geleentheid om amateurradio bekend te stel as die grootste van alle wetenskaplike stokperdjies en is 'n unieke geleentheid om jongmense aan te moedig om tot 'n loopbaan in elektronika of kommunikasie toe te tree.
In verlede week se SARL-nuusbulletin het Gerhard Coetzee, ZS3TG, dit beklemtoon dat - met die Sokker-Węreldbeker in volle swang en skole gesluit - radioamateurs 'n gulde geleentheid het om Jeugdag op 16 Junie te vier met die SARL-aksie en sodoende die jeug van Suid-Afrika bloot te stel aan amateurradio deur die oprig van die stasies.
Talle pryse kan gedurende die aksie opgeraap word en daar is 'n gelukstrekking vir dié deelnemers wat logstate met ten minste tien inskrywings daarop indien.
Klubs wat van plan is om stasies op te rig word versoek om hul inligting deur te stuur na armi@sarl.org.za vir insluiting in mediavrystellings wat deur die SARL se PIO-netwerk gehanteer sal word. Volledige inligting is op www.sarl.org.za se tuisblad beskikbaar. Klik op "youth activity".
Nooi jongmense gerus uit na u radiostasie en laat hulle toe om die toerusting onder u toesig te gebruik.
ZS3 NAELLOOP-UITSLAE
Die ZS3-naelloop het ‘n mooi 21 kompetisie-logstate en sewe kontrole-logstate ontvang en die uitslae is soos volg:
1ste - ZS3SVD, Sian van Deventer met 144 punte;
2de - ZS3JLR, Jaco le Roux met 119;
3de - ZS4JAN, Jan Botha met 114 punte.
Die wenners se sertifikate sal eersdaags gepos word en die volledige resultate sal beskikbaar wees in HF Happenings. Dankie aan almal wat aan die ZS3-naelloop deelgeneem het.
HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 076 is egter besig om mooi te groei. Die vooorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 10 wees.
20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 15 en 17 m. In die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande kan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Kontakte met die VSA kan ook uitdagend wees. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 20 m na Brasilië bruikbaar wees.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. Met die winter om die draai het 30 m by 20 m oorgeneem vir kontakte oor die langer afstande gedurende die middel van die dag. Met die laer ruisvlakke is 80 m vroegoggend en laatmiddag die beste keuse asook vir kontakte oor die korter afstande.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
9 Junie – Hamnetvergadering rakende reëlings vir Węreldbekersokker om 18:00 by die NARS;
12 - 26 Junie - ZS1VTS tydens Voortrekkerkampe op die lug;
16 Junie – Jeugdagvierings en die SARL-naelloop;
19 Junie – HF-assesering om 08:00 by die NARS;
26 Junie - BHF-indaba by die NARS vanaf 12:00;
18 Julie - Integnet om 19:30 oor BHF-/UHF- en Mikrogolfaangeleenthede;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad;
12 - 14 Augustus - Internasionale AMA-konferensie in Dallas, Texas;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth;
31 Augustus - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die
2011-kompetisiehandboek;
18 September - RTA-simposium in Gauteng;
30 September - Sluitingsdatum vir fase 1 van die innovasieprojek.
SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Mirror
International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n ‘Podcast’-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ‘ARMI’ en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n bulletin wat deur Leon, ZS4V, saamgestel en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer is.
Dankie dat u saamgeluister het.
73.
/EX