SARL-NUUS - Sondag 25 Julie 2010
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
STIL SLEUTELS
Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels twee radioamateurs stil geword het. Gert Bester, ZS6ZB, op 10 Julie en Ben Pieters, ZR6BFW, op 17 Julie 2010. Ben was ‘n lid van die Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging.
Ons innige meegevoel gaan aan hul families en vriende.
(POUSE)
In die nuus vandag:
AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL SKUIF NA ‘N LATER TYD OP MAANDAE
BOUSTEL PROBLEME
MEER VERBYVLUGTE VIR SUMBANDILASAT SO 67 BEPLAN
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.
AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL SKUIF NA ‘N LATER TYD OP MAANDAE
Die heruitsending van Amateur Radio Mirror International gaan ‘n uur later uitgesaai word as in die verlede. Die nuwe tyd is 20:05 UTC of te wel 22:05 SAT. Die frekwensie bly egter 3 215kHz. Die verandering is genoodsaak deur die feit dat Sentech nie oor die nodige antenna beskik nie as gevolg van herhaalde kabeldiefstal wat groot onderhoud op die antenna en voerlyne tot gevolg het.
BOUSTELPROBLEME
Die SARL het baie vertragings ondervind met die verskaffing van sekere onderdele wat benodig word vir drie boustelle wat aangebied word en kon derhalwe nie die stelle by die RTA lewer nie. Om almal te help is besluit om die stelle op posbestellings basis aan te bied en hulle ook beskikbaar te maak vir toekomstige Radiotegnologie in Aksie geleenthede. Dit word verwag dat die stelle teen die middel van Augustus beskikbaar sal wees. Bestellings wat by die RTA betaal is sal gratis afgelewer word . Nuwe bestellings sal ‘n addisionele R20,00 vir verpakking en posgeld benodig. Meer inligting sal op SARLnuus en die RTA-webblad bekend gestel word.
MEER VERBYVLUGTE VIR SUMBANDILASAT SO 67 BEPLAN
SA AMSAT het, na konsultasie met die WNNR se Satelliet-toepassingsentrum (SAC), aangekondig dat meer verbyvlugte oor Suid-Afrika geskeduleer gaan word. Gedurende die week sal die verbyvlugte saans plaasvind en oor naweke gedurende die dag en sommige aande. Indien jy ‘n spesiale geleentheid by ‘n skool beplan, kan ‘n spesiale oggendverbyvlug geskeduleer word deur ‘n versoek deur middel van e-pos aan saardt@intekom.co.za, ten minste 2 weke voor die geleentheid, te stuur. Nadere besonderhede sal later bekend gemaak word oor verbyvlugte oor ander gebiede.
Hans, ZS6AKV, sal volgende Sondag ‘n voordrag lewer by die AMSAT UK Satellite Colloquium en bespreek hoe om ander dele van die wêreld op SO 67 te bedien.
INTEGNETWENNER IS ZS1DE
Die wenner van die 2 Gb geheuestokkie is ZS1DE. Hy het by Henry Chamberlain,ZS1AAZ, by die Kaapstadse herleiding gerapporteer.
ARRL HUB ONTVANG “BPL SPOILS” TOEKENNING
Tydens die Vrydagoggend deel van die ARRL se Julie 2010 Raadsvergadering is die Hoof Uitvoerende Beampte Dave Sumner, K1ZZ, met ‘n onverwagte toekenning van die “Amateur Radio Research and Development Corporation (AMRAD) verras. Getiteld “BPL Spoils” het die plaak ‘n uitskotmodem wat herwin is uit toerusting van ‘n vervaardiger wat besluit het om uit die BPL besigheid te tree. ARRL Hoof Tegniese Beampte Brennan Price, N4QX, het die plaak aan Sumner oorhandig ter waardering vir sy en die ARRL se personeel se onvermoeide werk teen radiosteurings opgewek deur BPL-sisteme.
INDRINGER OP 70 cm DEUR OKOSA VERWYDER
Na ‘n rapport deur die SARL aan OKOSA aangaande ‘n ongelisensieerde herhaler wat in die 70 cm-band werk, het OKOSA ondersoek ingestel en die eienaar beveel om die herhaler te sluit wat dienste aan sy plaaslike gemeenskapswag gelewer het.
Dit het nie voor die wind gegaan nie aangesien die eienaar geweier het dat OKOSA sy perseel betree om die herhaler te verseël. Die herhaler is nou af van die 70 cm amateurband.
TOESTEMMING OM SPREISPEKTRUM TE WERK NOU MAKLIKER
Die SARL en OKOSA het die aansoek vir toestemming om spreispektrum te bedryf op die 40 meter amateurband vergemaklik. ‘n Eenvoudige aansoekvorm sal by die SARL se DSSS-stel ingesluit word. Die vorm sal ook beskikbaar kom op www.sarl.org.za in die volgende paar weke.
KOMPETISIENUUS
Vanmiddag om 15:00 tot 18:00 kan u deelneem aan die Boland ARK se 40 m kompetisie. Klim in jou motor en werk as mobiele stasie of stel op as ‘n veldstasie RaDAR-styl of sit sommer in jou hok.
Woensdagaand is die 4de been van die SARL se 80 meter Klubkompetisie. Dit is ‘n foonkompetisie en sal van 19:30 tot 20:30 op die lug wees. Watter klub sal die meeste logstate indien? Wesrand ARK is op die oomblik die leier van die trop, kan jou klub op hulle verbeter?
Op Sondag 1 Augustus is die SARL se Premierkompetisie op die lug. Die SARL HF-foonkompetisie sal op 20, 40, en 80 meter van 15:00 tot 18:30 SAT bedryf word.
Vind al die reels van hierdie drie kompetisies in die 2010 SARL Kompetisiehandboek en/of HF Happenings 415, albei is beskikbaar op www.sarl.org.za.
Die resultate van die SARL se Jeugkompetisie is:
1ste plek: Rudi Sygo, ZS6RDI, 14 Jaar, wen ‘n ARRL Handboek;
2de, Mitchel Meinhardt, ZS6YH, 12 jaar, wen ‘n 40 m direkte omsettingontvangerstel.
3de, Simone de Silva, (amateur in wording) wen Internet sekuriteitsagteware en ‘n boek Prevent Unwanted Intrusion.
Die jongste operateur vir die dag was die 4 jaar oue Eduan Leighton en die oudste, die 90 Jaar jonge Leslie Clark, ZS6NV. SARL bedank al die deelnemers en veral die wat logstate ingedien het.
KLUBNUUS
Die Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging (KARTS) begin Saterdag, 31 Julie 2010 met Klas A kursus vir kandidate vir die Oktober 2010 RAE. Kandidate moet asseblief vir Stephen, ZS6SKY, of Clive, ZS6BT, kontak. Besoek ook die KARTS-webblad vir kontakbesonderhede: www.zs6kts.co.za.
Die Sasolburg Amateurradioklub begin Donderdag 29 Julie 2010 met die nuwe RAE klasse. Die klasse vind weekliks plaas by die Vaal Universiteit van Tegnologie, kamer S317, vanaf 18:30. Kontak Riaan, ZS4PR, by 083 581 8569 of per e-pos na zs4pr@qsl.net.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Dit wil voorkom of sonvlek 1 089 nog besig is om te groei wat natuurlik goeie nuus vir ons is. Daar is baie B-klas sonvakkelaktiwiteit in die omgewing en die sonvlek het ook alreeds 'n C-klas fakkel opgelewer. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 30 wees.
20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 40 m. Gedurende die middae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende sonsondergang gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Zeeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Swak 15 m openinge is na Brasilië en Suid-Amerika gedurende die middae moontlik.
30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie belonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. Met winter hier het 30 m by 20 m oorgeneem vir kontakte gedurende die middel van die dag oor die langer afstande. Met die laer ruisvlakke is 80 m vroegoggend en laatmiddag die beste keuse asook vir kontakte oor die korter afstande.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
Vandag 25 Julie - Boland ARK 40 m Naelloop 13:00-16:00 UTC;
28 Julie - SARL 4de 80 m Klubkompetisie 17:30-18:30 UTC;
29 Julie – Sasolburg ARK begin RAE-klasse. Vir inligting stuur per e-pos na zs4pr@qsl.net;
31 Julie – Kempton Park ARTV (KARTS) begin RAE-klasse. besoek www.zs6kts.co.za vir besonderhede;
1 Augustus - SARL se HF Foonkompetisie 13:00 tot 16:30 UTC;
2 Augustus - Sluitingsdatum vir inskrywings vir die PIC-kursus in Pretoria
op 14 Augustus;
2-7 Augustus - Nasionale Wetenskapweek te Sci Bono met ZS6SCI daagliks tussen
09:00 en 14:00 SAT op die lug;
9 Augustus - SARL LV-naelloop op 40 m 09:00 tot 10:00 UTC;
12 - 14 Augustus - Internasionale AMA-konferensie in Dallas, Texas;
14 Augustus - PIC-kursus in Pretoria;
16 Augustus - Logstate vir SARL HF-foonkompetisie moet in wees.
SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN saamgestel en deur George, ZS6NE, geredigeer is.
Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX
======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp