SARL-NUUS - SONDAG 29 AUGUSTUS 2010
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
STIL SLEUTELS
Jac Roux, ZS6QA, vir 32 jaar 'n lid van die Pretoria Amateurradioklub en baie betrokke by motor tydrenne is op 26 Augustus oorlede. Aan sy vrou Ann, dogters Clair en Jessica ons innige simpatie.
(POUSE)
In die nuus vandag:
SAT-NETWERK
VSA SE AMATEURRADIO SE NOODDIENSTE HERDENK 75 JAAR VAN DIENS
WAT HET VAN ONS TEGNOLOË GEWORD?
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.
SAT-NETWERK
SA AMSAT se eerste SAT-NETWERK sal vanaand om 19:30 op die lug wees. Sluit by die bespreking oor die verskillende moontlike loonvragte vir die beoogde Cubesat van SA AMSAT. John Williscroft, ZS6EF, sal die bespreking inlei deur middel van ’n aanbieding oor ’n imaginêre satelliet en sy multiloonvragte gebou op die rug van oopvou sonpanele. Die idee is om die platform op te stel vir sinvolle bespreking. Met die guns van die SARL, sal SAT-NETWERK aangebied word deur dieselfde span as wat die Presidentsnet en Integnet hanteer, op ’n herhaler in die Kaapstadgebied, die Oos-Kaapse herhalernetwerk, Durban en Gauteng. Marten, ZS6ZY, sal op 3 718 kHz herlei en Chris, ZS6FCS, sal Echolink en oudio op die webwerf hanteer. Klubs wat nou nog vir ’n koppeling na hul herhaler wil reël, moet voor 11:00 vanoggend ’n vêr soek per e-pos rig aan armi@sarl.org.za.
VSA SE AMATEURRADIO SE NOODDIENSTE HERDENK 75 JAAR VAN DIENS
Die “US Amateur Radio Emergency Service, ARES,” sal sy 75ste bestaansjaar van September tot Desember 2010 herdenk. Hierdie program van die ARRL het noodkommunikasie d.m.v. amateurradio vir agentskappe soos die Amerikaanse Rooikruis, “Salvation Army” en ontelbare noodbedryfsentrums en ander in die slegste tye voorsien.
Hulle spesiaal opgeleide radiokommunikasievrywilligers het duisende ure van kommunikasiediens vrywillig verskaf. Die vinnigste manier om ’n noodtoestand in ’n ramp te omskep, is om kommunikasie te verloor. In gebeurtenisse vanaf ysstorms tot orkane Katrina en Haiti, to normale kommunikasiestelsels oorlaai of buite werking was, het radioamateurs in die ARES-program kommunikasiehulp verskaf wanneer versoek. In die Septemberuitgawe van 1935 van die QST-tydskrif is die eerste keer melding gemaak van nooddiens verrig deur georganiseerde amateurradio.
ZU-LISENSIE IS ’n INLEIDING TOT AMATEURRADIO
Toe die SARL die owerhede oortuig het Suid-Afrika ’n inleidende lisensie nodig gehad het om jongmense tot die stokperdjie te laat toetree, was dit met die verstandhouding dat die ZU-lisensie as eerste stap sou dien vir diegene wat nognie die vereiste standaard bereik het om vir die ZS- of Klas A lisensie te studeer nie. Terwyl die regulasies nie ’n ouderdomsgrens vasgestel het nie, was dit tog deur OKOSA verstaan dat die lisensie op die jongmense gerig was.
In die verlede was die vasstelling van ’n ouderdom voorgestel. Behoort dit 18 te wees of liewer 25 wat die huidige perk is vir studentelidmaatskap van die SARL? Met die huidige herskrywing van die regulasies, dus al die regulasies, sal die aangeleentheid ongetwyfeld weer te berde gebring word. Ons sal moet sien wat gebeur wat die uitkoms gaan wees wanneer die konsepregulasies in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer word. Wanneer, is tans onbekend, moontlik gedurende die volgende paar maande. Konsepregulasies word vir kommentaar gepubliseer. Kommentaar word daarna oorweeg voordat die finale regulasies in werking gestel word.
Die ZU-lisensie staan apart van nuwelinglisensies soos in ander lande en word nie internasionaal erken nie. Die SARL huldig steeds sy oorspronklike versoek aan die toentertydse regulerende owerheid en moedig klubs aan om die verkryging van die ZU-lisensie onder jongmense te bevorder as ’n toetrede tot amateurradio. Dit is wat dit altyd bedoel was om te wees.
Indien enigiemand kommentaar wil lewer, stuur dit per e-pos aan armi@sarl.org.za.
WAT HET VAN ONS TEGNOLOË GEWORD?
Dit is moeilik om te glo dat slegs oorseese inskrywings ontvang is vir die innovasiekompetisie wat deur die SA Amateurradiotrust en ICOM geborg word. “Innovasie in amateurradio” is ’n projek oor 18 maande wat daarop gemik is om innovasie in amateurradio aan te moedig. “Terwyl amateurradio een van die oudste en steeds een van die mees bevredigende van al die wetenskaplike stokperdjies is, word ’n stadium bereik dat ’n mens moet kyk na innovasie, nuwe idees en nuwe tegnologieë ten einde aktiwiteite relevant en opwindend te hou.” Dit is die mening van Hannes Coetzee, ZS6BZP, ’n tegnoloog en lid van die Raad van Trustees van SAARDT. Hannes was een van die hoofargitekte van die amateurradioloonvrag op Sumbandilasat.
Radioamateurs en tegnoloë word uitgenooi om projekte voor te lê wat nuwighede in amateurradio te voorskyn sal bring, of dit nou programmatuur amateurradio op die internet, die ontwikkeling van kompakte HF-antennas vir woonstelbewoners of trosbehuising is of innovasie in noodkommunikasie is. Lees meer hieroor op www.amateurradio.org.za en besoek die innovasiebladsy. Sien hoe D-star amateurradiowerking in ander lande verander.
KOMPETISIENUUS
Die ZS6JVT 40 meter HF Jeug Lentekompetisie vind plaas op Saterdag 4 September vanaf 10:00 tot 12:00 SAT plaas.
Gaan asb. voor deelname die reëls in die Kompetisiehandboek noukeurig na. Onthou die frekwensies wat gebruik word is 7,130 – 7,200 MHz. ’n Ernstige beroep word gedoen op deelnemers om nie net op een frekwensie vas te sit nie. Beweeg asb. rond.
ZS6JVT kyk uit vir ander jong vriende op 40 meter en wens almal sterkte toe vir die kompetisie.
KLUBNUUS
Gedurende die AJV van Magalies Radioamateurklub gehou op 22 Augustus is die volgende lede op die komitee vir die 2010 / 2011 tydperk verkies:
Voorsitter: Thys Maree, ZS6MJM;
Visevoorsitter: Nic Smit, ZR6NSP;
Sekretaris: Johann Du Plessis, ZS6PSS;
Tesourier/finansies: Louis Mitchell, ZS6LWM;
Tegnies: Sam van Zyl, ZS6JZ;
Teenspanning: Marko Nel, ZS6MJ.
Baie dankie aan die vorige komitee vir hulle leiding en werk gedurende die afgelope jaar en sterkte aan die nuwe komitee vir die komende jaar.
PRESTASIE OP ANDER GEBIED
Nico Schoonwinkel, ZS4NS, van ’n amateurfamilie in Welkom is bekend vir sy prestasies in die 6 m-band. Hy en sy seun Coenie, was lede van ’n span skuts wat van 26 Julie tot 6 Augustus in Plzen in die Tsjeggiese Republiek aan ’n skyfskietkompetisie vir kleingewere deelgeneem het. Nico het een medalje gewen, Coenie ’n hele paar en die span spog met die goue medalje. Veels geluk, baie goed gedoen!
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 101 is groot maar onaktief. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 10 wees.
20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 40 m. Gedurende die middae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende sonsondergang gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Zeeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Swak 15 m-openinge is na Brasilië en Suid-Amerika gedurende die middae moontlik.
30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.
Plaaslik is 40 m die beste keuse met 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend, laatmiddag en saans is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
29 Augustus – SATNET vanaand om 19:30 op die lug;
31 Augustus - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-kompetisiehandboek;
4 September - ZS6JVT 40 meter HF Jeug Lentekompetisie vanaf 10:00 tot 12:00 SAT;
18 September - RTA-simposium in Gauteng.
SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.
Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX
======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp