Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS – SONDAG 21 NOVEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

LISENSIEHERNUWINGS
FREKWENSIETOEKENNINGS
AMATEURRADIO-BESPREKING OP ASTV
NUUS VIR ZR-LISENSIEHOUERS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems

LISENSIEHERNUWING VIR DRIE MAANDE

OKOSA het die SARL by die kwartaallikse skakelvergadering, wat verlede week gehou is, verwittig dat radioamateurs ʼn lisensiehernuwingskennisgewing sal ontvang wat die tydperk Januarie tot Maart 2011, teen ʼn bedrag van R6,75, sal dek. In Maart 2011 sal ʼn verdere kennisgewing gestuur word wat vir ‘n volle jaar sal strek – 1 April 2011 tot 31 Maart 2012. U moet asseblief geen betaling maak voordat u die kennisgewing ontvang het nie. SARL-nuus sal luisteraars verwittig sodra die kennisgewings gepos is.

TABEL VAN FREKWENSIETOEKENNINGS

Ten einde te verhoed dat daar geen bandplan bestaan wanneer die ou regulasies herroep word nie, sal die SARL tydens ‘n openbare frekwensiespektrumregulasie-verhoor, ʼn bandplan voorlê wat die huidige regulasies sal vervang. Hierdie bandplan sal ʼn addendum vorm van die nuwe regulasies, of kan die nuwe permanente bandplan word. Die Raad is besig om aan hierdie dokument te werk en verwag dat dit teen 25 November op die web vir kommentaar beskikbaar sal wees.

ROEPSEINE VAN STIL SLEUTELS

OKOSA het ‘n ooreenkoms met die SARL – dat die roepsein van ʼn stil sleutel vir ʼn jaar teruggehou word voor heruitreiking – naamlik vir die jaar waarin die persoon sterf, plus ʼn verdere jaar. Hierdie ooreenkoms is ʼn AJV-besluit en is deur OKOSA bevestig.

Voorbeeld: Indien ʼn radioamateur in Junie 2010 te sterwe kom, sal sy/haar roepsein nie vir heruitreiking beskikbaar wees voor Januarie 2012 nie. OKOSA kan egter nie roepseine reserveer nie. Dit beteken dat ‘n aansoek vir die betokke roepsein eers gedoen kan word op die datum dat die roepsein vir heruitreiking beskikbaar raak. As alternatief is dit moontlik om aansoek te doen vir die roepsein met spesiale geskrewe toestemming van die familie van die stil sleutel.

SATNETWERK VANDAG

SA-AMSAT se SATNETWERK sal vandag om 19:30 SAT op die lug wees. Eddie Leighton, ZS6BNE, sal gesels oor APRS en die internasionale ruimtestasie. Eddie is veral bekend vir sy gereelde satellietkolom in Radio ZS. Sluit by Eddie aan op ʼn herhaler in u omgewing, of op 3 718 kHz.

ZR-LISENSIEHOUERS – WEES VERSIGTIG

ZR-lisensiehouers moet kennis neem van die frekwensies wat aan hulle toegeken is. Onlangs is ‘n ZR-amateur op die lug gehoor wat kontak gemaak het met ʼn DX-stasie op ʼn 20 m-frekwensie buite die ZR-toekenning. ZR-stasies mag net die volgende 20 m-spektrumfrekwensies gebruik: 14 070 - 14 099 kHz en 14 225 – 14 350 kHz. In ander bande mag ZR-lisensiehouers gfrekwensies as volg gebruik:21 070 – 21 120 kHz en 21 300 – 21 450 kHz, en op 10 meter 28 070 – 28 150 kHz en 28 300 – 28 500 kHz. Werking buite hierdie frekwensies beteken ‘n oortreding van die voorwaardes van die lisensie, wat tot gevolg kan hê dat die lisensie gekanselleer kan word, en ʼn boete – of albei – tot gevolg kan hê. Neem asseblief kennis.

VERDERE VERTRAGINGS IN DIE LEWERING VAN SARL-BOUSTELLE

Dit spyt die SARL vir nog ʼn vertraging in die lewering van die drie boustelle wat gedurende die RTA-simposiums vroeër vanjaar bespreek is. Die groep wat aan die samestelling van die stelle werk, het verdere probleme ondervind met die etikettering van sekere van die komponente. Die komponente moet verpak en geëtiketteer word, aangesien daar geen maklik-identifiseerbare kenmerke is nie. Dit sal dus moeilik wees vir bouers van die stelle om die komponente te identifiseer. Die vakansieperiode in Desember sal gebruik word om die taak te voltooi. Die verwagte afleweringsdatum is nou die derde week van Januarie. Die SARL kan geen nuwe bestellings aanvaar tot die agterstand uitgewis is nie. SARL-nuus sal u op die hoogte hou van die vordering.

Indien u ʼn bietjie bouwerk wil doen het die SA-Amateurradio-ontwikkelingstrust die weerligvoorspellingsstel beskikbaar vir onmiddelike aflewering. Besoek www.amateurradio.org.za vir besonderhede.

DIE 2011-HARDEBAND ARRL-HANDBOEK NOU IN SA

SA-Amateurradio-ontwikkelingstrust het ‘n beperkte aantal kopieë nou beskikbaar. Kry besonderhede by www.amateurradio.org.za.

AMATEURRADIOBESPREKING OP ASTV

NaSonop, ‘n nuwe aktualiteitsprogram van ASTV, op die TOPTV-satellietdiens, saai op Saterdag 27 November ‘n lang insetsel uit oor amateurradio. Hulle het ‘n onderhoud met Riaan Greeff, ZS4PR, in die ateljee gevoer, asook besoek afgelê by Johan Steyn, ZS4SS, in sy QTH. ‘n 2 m-kontak met Frik Wolff, ZS6FZ, vanuit die ateljee dien as demonstrasie om die gemak van kommunikasie te beklemtoon. Die publiek het dikwels nie ‘n duidelike beeld waaroor ons kleurvolle stokperdjie handel nie. Ons benut dus hierdie geleentheid om verdere reklame vir amateurradio te maak. Opnames sal beskikbaar gestel word aan diegene wat dit as reklamemateriaal wil gebruik. Kontak Riaan per e-pos aan zs4pr@qsl.net indien u ‘n kopie wil bekom. Indien hierdie insetsel goeie reaksie van die publiek ontlok, kan verdere insetsels moontlik oorweeg word om spesifieke amateurverwante aktiwiteite bekend te stel.

ZS6BB BEHAAL EERSTE WAGS-TOEKENNING VIR AL 83 RUITVIERKANTE

Pierre van Deventer, ZS6BB, het onlangs die top-WAGS-toekenning verkry met sy indiening vir kontakte gemaak in al 83 ruitvierkante – op gemengde bande en modusse. Om die laaste ruitvierkant te bekom het hom baie maande geneem en het slegs een keer voorgekom met ‘n kontak in Botswana vir KG25, ʼn ruit met ‘n baie ʼn klein spoor in Suider-Afrika. Om hierdie toekenning te verwerf moes Pierre die volle voordeel trek van mobiele stasies in menige vierkante waar daar min of geen amateurs woonagtig is, asook kontakte op ESB, GG, satelliet en selfs PSK31.

Die ZS-WAGS-toekenning is in die begin van 2009 van stapel gestuur. Tot op hede is 35 toekennings uitgereik asook 17 toekennings vir deelnemers wat skaars ruite geaktiveer het. Die ZS-WAGS-toekenning word deur die Sandton Amateurradioklub bedryf. Om die reëls te bekom asook volledige rekords van alle toekennings, kyk gerus by www.zs6stn.org.za/zswags/.

KOMPETISIENUUS

ERFENISDAG 2010 – UITSLAE BEKEND

Die uitslae vir die 2010-Erfenisdagkompetisie gehou op 24 September is bekend gemaak. Daar is net ses logstate ontvang. Geen blokhuisstasies was aktief nie. ZS6PTA was die enigste erfenisstasie. Vyf algemene stasies se logstate is ontvang. Weens die trae deelname, sal al die deelnemers hierdie jaar ten minste ‘n deelnemersertifikaat ontvang. Die wenners vir die top drie plekke sal wel hul toekenningsertifikate ontvang. Kontak Riaan zs4pr@qsl.net indien u wel ‘n logstaat ingestuur het, maar dit nie op die lys verskyn nie. Baie geluk, en ook baie dankie aan die deelnemers.

Die wenners is ZS6PTA, beman deur ZS6PJH, ZR6RAF en ZS6BTY vanaf Fort Skanskop. Hulle het 378 punte behaal. Die vyf algemene stasies se uitslae is soos volg:

Wessie Wessels, ZS2A, 138
Pam Momberg, ZS6APT, 124
Mitch Rundle, ZS2DK, 120
Derek Stuart, ZS2J, 58 en
Theunis Potgieter, ZS2EC, 36.

SARL LENTE-QRP-UITSLAE

Volgens die logstate wat ontvang is was daar 62 stasies op die lug. Toestande was ongunstig vir lang afstande. Dit is treurig dat net 5 logstate ingestuur is.
Die uitslae is as volg:
1ste - ZS6BB - Pierre v Deventer - 819 punte (ESB / CW);
2de - ZS2PE - Andre Le Roux (ZS2AL) - 576 punte (ESB);
Andrew Prideaux(ZS2PA) / Peter Flynn (ZS2PF) (ESB)
3de - ZS6GRL - Geoff Levey - 375 punte (ESB);
4de - ZS6APT - Pam Momberg - 184 punte (ESB);
5de - ZS2J - Derek Stuart - 12 punte (ESB).

KLUBNUUS

ZS6PTA hou weer ʼn mega-snuffelmark om 08:00 op 27 November by die Pretoria Motor Club se perseel in Silverton.

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 4 Desember by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting kontak Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835.

VOORTPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Die uitgerekte sonvlekminimum het beslis tot 'n einde gekom, maar intussen wil die son nog nie mooi saamwerk nie. Tans is al drie die sonvlekgebiede (1 124, 1 126 en 1 127) stil. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 25 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na sononder gaan die toestande na Indië goed wees. In die middae behoort toestande eers op 15- en dan later op 20 m na Europa goed wees. Kontakte met Australië is met sonsonderdang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die laatmiddag en vroëe aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15- en 20 m-openinge kan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale- en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie wêrelddele.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20- en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer.

Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE VIR VANDEESWEEK

Vandag, 21 November – 10:00 UTC, velddagnaweek en ZS85SARL sluit af;
Ook vanaand, 21 November – 19:30 (SAT) SAT-netwerk op die lug oor APRS via die IRS;
27 November – NaSonop: aktualiteitsprogram oor amateurradio op die ASTV-satellietdiens;
27 November – ZS6RTB klubvergdering saam met ander radioamateurs;
27 November – ZS6PTA hou ʼn mega-snuffelmark by die PMC in Silverton om 08:00;
28 November – JD-net begin om 15:00 SAT.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om interessante nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit – indien moontlik – in beide Afrikaans en Engels – na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending (“podcast”) waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Ter afsluiting: Jannie, ZR6PHD, berig dat die nuusredaksie uit verskeie oorde gunstige voorstelle vir ‘n Afrikaanse beskrywing vir “podcast” ontvang het, maar dat daar steeds nie ‘n bevredigende alternatief as ‘potgooi” beskikbaar is nie. “Ons sal aanhou probeer tot daar ‘n geskikte beskrywing gevind word,” het Jannie berig. Die redaksie meen steeds dat “potgooi” lomp en nie vindingryk is nie. Indien u oor ‘n meer kreatiewe voorstel beskik, stuur dit asseblief aan janniedb@mweb.co.za, of aan enige ander redaksielid.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is. Die bulletinredakteur was Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003