Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 05 DESEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

UITNODIGING VIR INDIEN VAN REFERATE VIR 2011 SE AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

VANAAND SE INTEGNET SAL FOKUS OP VERNUWING IN AMATEURRADIO

SARL-VOORLEGGING BY DIE OKOSA-VERHOOR GOED ONTVANG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems

UITNODIGING VIR INDIEN VAN REFERATE VIR 2011 SE AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Die 2011 SA AMSAT Ruimtesimposium word op Saterdag 26 Maart 2011 by Vodaworld in Midrand in Gauteng gehou. Hierdie is die eerste uitnodiging vir die aanbieding van referate. Skrywers word uitgenooi om 'n opsomming, wat nie meer as 300 woorde beslaan nie, in MSWord in te stuur. Die opsomming moet ge-e-pos word aan: saamsat@intekom.co.za met "Space Symposium 2011" (Ruimtesimposium 2011) in die onderwerplyn. Die tema van die konferensie is: "Vernuwing in Ruimtekommunikasie". Die sluitingsdatum vir referaatvoorstelle en 'n opsomming is 20 Januarie 2011. Vir meer inligting, besoek www.amsatsa.org.za.

VANAAND SE INTEGNET SAL FOKUS OP VERNUWING IN AMATEURRADIO

Sluit aan by Hannes Coetzee, ZS6BZP, en John Willescroft wanneer hulle redeneer of amateurradio vernuwing nodig het of nie! Dit sal om 19:30 op die lug wees op verskeie herhalers in Suid-Afrika en ook op 3 718 kHz. Dit kan ook gehoor word op 'n webuitsending en Echolink deur die welwillendheid van Chris Smit, ZS6FCS. Besoek www.sarl.org.za en kies armi vir meer besonderhede.

Klubs wat 'n skakel wil opstel moet 'n e-pos stuur aan armi@sarl.org.za voor 12 uur vanmiddag, Sondag 5 Desember 2010.

SARL-VOORLEGGING BY DIE OKOSA-VERHOOR GOED ONTVANG

Die SARL se voorlegging aan OKOSA by die openbare verhoor is goed ontvang. Die voorsitter, Dr Marcia Socikwa, het die SARL bedank vir hulle inset wat sy as van groot hulp in die voorbereiding vir die finale regulasies beskryf het.

OKOSA het egter nie bevestig of ontken of slegs die amateurafdeling en die algemene Afdeling van toepassing is op radio-amateurs nie. Die SARL is daarom besig om 'n bykomende voorlegging voor te berei om te verseker dat ander afdelings van die konsepregulasies dit nie negatief beïnvloed nie. Die SARL sal die bykomstige voorlegging op Woensdag 8 Desember indien. Dit sal op Maandag 6 Desember vir kommentaar beskikbaar wees.

Om die SARL se voorlegging af te laai, besoek www.sarl.org.za en jy sal die skakel in die nuusitem vind.

SARL SE WEBTUISTE VERSKUIF NA 'N NUWE BEDIENER

Voortdurende probleme met die SARL se webtuiste het die internetdiensverskaffer, Imaginet, genoop om die SARL se webtuiste na 'n ander bediener te skuif. Dit is nog te vroeg om te bepaal of dit die situasie verbeter het. Kommentaar kan gestuur word aan armi@sarl.org.za.

24 STUDENTE VAN DIE KAAPSE SKIEREILAND UNIVERSITEIT VAN TEGNOLOGIE SLAAG DIE RADIOAMATEUR-EKSAMEN

24 Studente, waarvan 22 verbonde is aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, het die Klas A Eksamen en die HF evalueringstoets geslaag en is nou die trotse eienaars van splinternuwe ZS1 roepseine. Baie geluk. 'n Spesiale eksamen en HF evalueringsessie is by die Universiteit gereël.

HABEX 3 VLIEG OP 18 DESEMBER 2010

Op 18 Desember sal die HABEX-span die derde hoëvlugballon lanseer wat verskeie loonvragte sal dra ter voorbereiding van 'n skole-bekendstelling in 2011 wat omtrent agt skole sal insluit. Die Sci-Bono Ontdekkingsentrum, in samewerking met die Gautengse Departement van Onderwys, het hierdie projek geloods om die elektriese tegnologie kurrikulum te ondersteun en uitgebreide geleenthede vir leerders in hierdie veld te voorsien.

Die loonvrag bestaan uit vier aparte modulêre eenhede. Die primêre deel van die loonvrag is die beheerderbord wat plaaslik ontwerp en gebou is, en wat 'n APRS-eenheid bevat wat die ballon se ligging gedurende die vlug sal voorsien.

Ook aan boord is agt toevoere en uitvoere wat ingestel kan word vir analoog- of digitale werking. Dit sal verskeie sensors toelaat om aangeheg te word en gemonitor te word asook sekere aksies/optredes wat uitgevoer kan word. 'n Voorbeeld is om die loslaatmeganisme te aktiveer wat die loonvrag van die ballon sal losmaak. Al die data sal via die APRS-pakkette oorgedra word.

Ook in die loonvrag sal 'n 40 m baken wees wat 'n boodskap in GG op 7,023 MHz sal sein. Luisteraars word aangemoedig om QSL-kaarte te stuur aan ZS6SCI as hulle die baken hoor.

'n Papegaaiherhaler op 438,500, wat 'n abba-APRS insluit, is ook aan boord. Gedurende die vlug, as die papegaaiherhaler nie in gebruik is nie, sal die APRS-eenheid sy data uitsaai.

Laastens, 'n GSM-APRS-eenheid sal ook aan die einde van die loonvragtou vlieg. Indien luisteraars belangstel, is daar verskeie aktiwiteite waaraan hulle kan deelneem. Eerstens, die ballon kan direk gevolg word via die Internet. Gaan na "aprs.fi" en tik in ZS6SCI-3 in die "track callsign" blokkie. Deur op die "Google Earth KML" URL te klik, kan die vlug in Google Earth gevolg word en die luisteraar toelaat om nie net die ballon op die grond te volg nie, maar ook die as te kantel en die hoogte ter selfde tyd dop te hou.

Die HABEX-span is besig om die datablad te finaliseer en luisteraars word aangemoedig om die HABEX-webtuiste te besoek by www.habex.za.net.

DIE PEARS HF QSO-GESELLIGHEID

Die jaarlikse PEARS HF QSO-geselligheid is vanmiddag van 12:00 UTC tot 16:00 UTC op die lug. Dit is 'n ESB-alleen kompetisie met werking op 3 603 - 3 650 en 3 700 - 3 800 kHz en 7 060 - 7 100 en 7 135 - 7 200 kHz.

Daar is vier klasse van deelname:
1. Nuweling – stilstaande in Suid-Afrika met ZU-voorvoegsels;
2. Beperk - stasies in Suid-Afrika met ZR-voorvoegsels;
3. Onbeperk - stasies in Suid-Afrika met ZS-voorvoegsels en;
4. DX - stasies buite Suid-Afrika. Daar is geen beperkings op die kraguitset van die stasie, of die, behalwe dat alle operateurs ten alle tyd binne hulle lisensievoorwaardes sal werk.

Roepseine, seinrapporte en die operateurs se name word uitgeruil. Logstate moet versend word aan PEARS QSO-geselligheid, Posbus 10402, Linton Grange, Port Elizabeth 6015, Suid-Afrika of per e-pos aan contest@pears.ham-radio-op.net. Die sluitingsdatum vir die logstate is 31 Desember. Die volledige reels is op bladsy 38 van die 2010 SARL se Kompetisiehandboek.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Nuwe sonvlek 1 131 is 'n grote, maar tot op hede onaktief. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 25 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees. Kontakte met Australië is met sonsondergang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die vroeë aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer.

Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

5 Desember – PEARS HF QSO-geselligheid is vanmiddag van 12:00 UTC tot 16:00 UTC op die lug;
5 Desember – Dit is vanaand, Integnet om 19:30 – Debat oor innovasie in
amateurradio op herhalers en 3 718 kHz;
18 Desember – Lansering van derde HABEX hoëvlugballon, papegaaiherhaler op
438,500 MHz en GG-baken op 7 023 kHz;
31 Desember – Laaste dag vir indiening van logstate vir die PEARS HF QSO-
geselligheid aan contest@pears.ham-radio-op.net;
20 Januarie 2011 - Sluitingsdatum vir indiening van beursaansoeke vir Mei 2011 RAE, besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms;
20 Januarie - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir referate en opsommings vir Ruimtesimposium 2011 na saamsat@intekom.co.za;
30 Januarie 2011 - Sluitingsdatum van Fase 1 van die konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om interessante nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Afrikaans en Engels - na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending ("podcast") waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George,ZS6NE, saamgestel is. Antonia Vermeulen het van die berigte in Afrikaans vertaal.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003