SARL-NUUS – SONDAG 16 JANUARIE 2011
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
In die nuus vandag:
SARL-LEDETAL BYNA 1500
NOMINASIES VIR SARL-RAAD
IS U KLUBROEPSEIN NOG GELDIG?
SARL SE NASIONALE KONVENSIE AAN VAAL
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.
SARL-LEDETAL BYNA 1500
Die SARL-ledetal staan vandeesweek op 1 492, ’n raps onder 1 500. As u nog nie aangesluit het nie, nooi ons u om aan te sluit vir ses maande teen net R200. Kry die inligting op www.sarl.org.za of bel Mariska by 011 675 2393. Dink net watter pluspunte is daar vir lede, soos afslag op kursusse. SARL-lede betaal byvoorbeeld net R350 vir die PIC-programmeerkursus, waar nie-lede R500 moet opdok. Nog twee opwindende kursusse kom, naamlik Programmering in Windows en gevorderde tuiskonstruksie.
NOMINASIES VIR SARL-RAAD
Lede moet onthou dat die sluitingsdatum vir nominasies op die Sarl-Raad en mosies vir die AJV om die draai is. Die finale datum vir indiening van nominasies en mosies is 31 Januarie 2011. Die besonderhede is op die webwerf, in die seksie vir lede by www.sarl.org,za. Kies ‘Members Only’ in die boonste regterhoek van die tuisblad en sleutel u PIN in.
SARL SE NASIONALE KONVENSIE AAN DIE VAAL
Sasolburg en Vaaldriehoek se radioklubs bied aan: Die SARL se Nasionale Konvensie 2011. Dit vind vanjaar op 15 en 16 April plaas. Kom geniet die skoonheid van die Vaal. Die opwindende program begin die Vrydagaand met ’n heerlike Vaalrivier-bootrit verby Millionaires’ Bend. Kom geniet ’n feesmaal en die geselskap van goeie radiovriende tot laataand!
Die SARL-AJV vind op die Saterdagoggend plaas by die Vaal Universiteit van Tegnologie. Vir die radio-entoesiaste is daar ’n reuse-vlooimark, terwyl metgeselle wat nie amateurs is nie, ’n natuurrit by die Emerald Casino-oord kan geniet. Die twee klubs wil sorg dat die Konvensie die grootste samekoms van radioamateurs in jare sal wees. Saterdagmiddag besigtig afgevaardigdes die Bloemendal-mediumgolfradiostasie naby Meyerton. Kom kyk wat kan ’n RF-sender van 500 kW alles doen, en hoe die stelsels vir so ’n kortgolfstasie werk en die wêreld vanuit Suid-Afrika bedien.
Die Konvensie se hoogtepunt is op die Saterdagaand by die Riviera Hotel. Die SARL se Gala-aand is vanjaar ’n formele swartdas-okkasie. Ons gasspreker is Prof. Alwyn Louw van VUT, ’n fees om na te luister! Gerald Klatzko, ZS6BTD, gaan ons vasgenael hou met sy vertelling van sy satellietkontakte. Die seremoniemeester van die jaarlikse prysuitdeling is Tjerk Lammers, ZS6P. Daarna gaan die Broken Stream-orkes ons ore kielie en die aand vlerke gee.
U moet bespreek vir die bootrit en die gala-aand, want die plekke is beperk. Bespreek nou by die klubsekretaris van ZS4SRK. Vorms is beskikbaar op www.qsl.net/zs4srk.
IS U KLUBROEPSEIN NOG GELDIG?
Klubs moet onthou om seker te maak dat die lisensiegeld vir hulle klubroepsein betaal is. Hoewel die lisensie in die Klub se naam geregistreer is, is een van die klublede die borg en verantwoordelik vir die roepsein en sy gebruik. Onthou om OKOSA na u klubkomiteeverkiesing skriftelik te laat weet wie die nuwe verantwoordelike persoon is en na watter adres die rekening gestuur moet word. E-pos die inligting aan dkuhrau@icasa.org.za.
BESPREEK NOU VIR PIC IN GAUTENG
U kan nou bespreek vir die PIC-kursus wat op 29 Januarie by die Nasionale Amateurradiosentrum plaasvind. Daar sal nie nog ’n kans wees om hierdie gewilde kursus in Gauteng by te woon nie. Die kursus is al amper vol bespreek! Kry inligting op www.sarl.org.za en kies RTA.
GRATIS RADIOAMATEURKURSUS IN PRETORIA
Die Pretoria-amateurradioklub (PARK) bied ’n gratis kursus aan vir almal wat graag radioamateurs wil word. Dit duur drie maande en lesings word by die Universiteit van Pretoria aangebied. Die onderrig en studiemateriaal is gratis.
Die kursus begin Donderdag 20 Januarie om 19:30 by die Universiteit. Die lesinglokaal is in die suidoostehoek van die kampus, hoek van Universiteitsweg en Lynnwoodweg. Gebruik die Universiteitsweg-ingang en volg die roete-aanwysers van daar. U hoef nie te registreer voor die kursus begin nie.
Amateurradio is ’n boeiende stokperdjie. Radioamateurs maak wêreldwyd kontak en verskaf ook radiokommunikasiedienste aan die burgerlike owerhede tydens noodtoestande.
Die aspirant-radioamateur skryf ’n elementêre eksamen oor radioteorie en -regulasies (die doel van dié kursus), en ontvang ’n roepsein en ’n lisensie om uit te saai. Lisensies word net uitgereik aan mense wat die eksamen geslaag het en minstens twaalf jaar oud is.
Meer inligting oor amateurradio is beskikbaar op die SARL se webwerf, www.sarl.org.za, of op die webwerf van die Pretoria-amateurradioklub, www.parc.org.za. Bel gerus ook vir Fritz Sutherland, 012 811 3875 of 083 304 0028, of Pierre Holzhausen, 082 575 5799 of 012 655 0726.
AMATEURRADIO VANDAG BEGIN MET WEEKLIKSE TECHNOBYTE
Amateurradio VANDAG, die program wat Amateur Radio Mirror International vervang, skop af met TechnoBYTE, ’n weeklikse tegnologiebrokkie wat deur John Willescroft, ZS6EF, geskryf en aangebied word. John gesels vandag oor die PL259-konnektor. Die oudiolêer kan ook Sondagaand afgelaai word en mag heruitgesend word op plaaslike netwerke met erkenning aan die SARL se Amateurradio VANDAG.
VSA-KONGRES OORWEEG KONSEPWET VIR AMATEURRADIO
Die wet op die uitbreiding van noodkommunikasie deur amateurradio, wat aan die einde van die 111e Kongres gestaak is, is nou as HR 81 aan die 112e Kongres voorgelê. Die borg is Verteenwoordiger Sheila Jackson Lee. Die nuwe wetsontwerp, wat op 5 Januarie voorgelê is, is verwys na die Huiskomitee vir Energie en Handel. “Ons hoop dat dié vroeë wegspring suksesvol gaan wees in die nuwe Kongres,” sê die ARRL se hoof uitvoerende beampte, David Sumner, K1ZZ.
Die ARRL ondersteun die wetsontwerp. Die minister van binnelandse veiligheid moet nou die gebruike en vermoëns van amateurradiokommunikasie in noodtoestande en noodleniging bestudeer. Die minister ondersoek ook hindernisse by amateurradiokommunikasie, soos regulasies oor private woongebiede wat antennas by huise beperk, en maak aanbevelings om dit uit die weg te ruim.
VOORTPLANTINGVERSLAG
Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit steeds op lae vlakke is. Daar is feitlik geen vlekke op die oppervlak van die son nie, want sonvlek 1140 het na die westerand gedraai en sonvlek 1146 is skaars sigbaar. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting minder as 20 wees.
15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees, met redelike openinge op 20 m. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die vroeë aand moontlik. Kontakte met Australië is met sonop en smiddae op 20 m moontlik. 15 en veral 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.
30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.
Plaaslik is 40 m die beste keuse vir kontakte landwyd, met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
15 Januarie – Satellietforum en ander aktiwiteite by die NARS begin om 10:00.
20 Januarie 2011 – Sluitingsdatum vir indiening van aansoeke vir die RAE-beurse vir Mei 2011. Besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms.
20 Januarie – Sluitingsdatum vir indiening van voorleggings en samevattings van referate vir die 2011 SA AMSAT-ruimtesimposium by saamsat@intekom.co.za.
20 Januarie – Gratis amateurradiokursus by die Universiteit van Pretoria.
20 Januarie – Cubesat se projekspan se telekonferensie om 20:00.
21/23 Januarie – PEARS se BHF/UHF-kompetisie.
28 Februarie – Laaste dag om aanbiedings om ’n stasie tydens die IARU Streek 1 konferensie by Sun City op te rig en te bedryf, in te stuur na iaru2011@sarl.org.za.
SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n bulletin wat deur Hester van der Walt saamgestel en George, ZS6NE, nagesien is.
Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX