Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 23JANUARIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

STIL SLEUTEL

Ons kondig met leedwese aan dat die sleutel van Henry Fourie, ZR4U, op Sondag 16 Januarie 2011 stil geword het.

Ons opregte meegevoel gaan aan sy ouers, Barney, ZS4U/ZS6TQ, en Marie, ZS4YL, familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

D-STAR IS AKTIEF IN GAUTENG

MOENIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE MISLOOP NIE

LAASTE KANS! BESPREEK VIR PIC-PROGRAMMEERKURSUS

INNOVASIE- EN KONSTRUKSIEKOMPETISIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

D-STAR IS AKTIEF IN GAUTENG

Die eerste digitale herhaler in Johannesburg is aktief op die lug. Multisource het die herhaler geleen vir demonstrasiedoeleindes en bied amateurs die geleentheid om met D-Star te eksperimenteer. Die stelsel is verlede Saterdag tydens die SA AMSAT-geleentheid by die NARS gedemonstreer. Baie dankie aan Ronald, ZS6RVC, Riaan, ZS4PR, en Frik, ZS6FZ.

D-STAR staan vir digitale slimtegnologie vir amateurradio en is ’n digitale stem- en dataprotokolspesifikasie wat deur die Japanse Amateurradioliga ontwikkel is. Daar is ander digitale uitsaaitegnologie wat deur amateurs gebruik word, maar D-Star is een van die eerste uitsaai- en pakketgebaseerde standaarde.

D-STAR bied duidelike seine en gebruik minder bandwydte as nie-digitale eweknieë. Solank die seinsterkte bo ’n minimumdrempel is en geen multiroete voorkom nie, is die gehalte van die data wat ontvang word, beter as dié van ’n analoogsein teen dieselfde krag.

D-Star-versoenbare radios is beskikbaar op BHF=, UHF= en mikrogolfamateurbande. Bykomend tot die lugprotokol bied D-Star ook spesifikasies vir netwerkkonnektiwiteit, sodat D-Star-radios aan die Internet of ander netwerke gekoppel kan word, met voorsiening vir roetering van stem- of pakketdatastrome.
Om die D-Star-herhaler te gebruik, skakel enige D-Star-geaktiveerde digitale radio oor na DV (digitale stemmodus). Stem in op 145,687 5 MHz met die gebruiklike -600 kHz-inset om via die herhaler te kommunikeer.

In die radio-opstelling, sorg dat u R1 en/of R2 as ZS6TJ opgestel het. Stel die UR in op CQCQCQ en by MYCALL voer u u eie roepsein in.

Die SARL wil u kommentaar hoor oor dekking, seine en ander aspekte. Stuur u kommentaar aan armi@sarl.org.za.

MOENIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE MISLOOP NIE

Die Sasolburg- en Vaaldriehoek-Radioklubs bied die 2011 SARL Nasionale Konvensie op 15 en 16 April aan. Kom geniet die skoonheid van die Vaal, ’n heerlike Vaalrivier-bootrit verby Millionaires’ Bend, ’n feesmaal en die geselskap van goeie radiovriende tot laataand!

Registrasie vir die SARL-AJV begin Saterdagoggend agtuur by die Vaal Universiteit van Tegnologie. Die vergadering begin negeuur. In die middag is daar ’n groot vlooimark plus ’n natuurrit by die Emerald Casino-oord vir metgeselle wat nie amateurs is nie.

Die twee klubs wil sorg dat die Konvensie die grootste samekoms van radioamateurs in jare sal wees. Saterdagmiddag besigtig afgevaardigdes die Bloemendal-kortgolfradiostasie naby Meyerton. Kom kyk wat kan ’n RF-sender van 50 kW alles doen, en hoe die stelsels vir so ’n kortgolfstasie werk en die wêreld vanuit Suid-Afrika bedien.

Die Konvensie se hoogtepunt is op die Saterdagaand by die Riviera Hotel. Vanjaar hang ons by die SARL se gala-aand uit met formele swartdas, maar ’n pak en das is ook welkom! Ons gasspreker is Prof. Alwyn Louw van VUT. Gerald Klatsko, ZS6BTD, gaan ons vasgenael hou met sy vertelling van sy satellietkontakte. Die seremoniemeester van die jaarlikse prysuitdeling is Tjerk Lammers, ZS6P. Daarna gaan die Broken Stream-orkes ons ore kielie en die aand vlerke gee.

U moet bespreek vir die bootrit en die gala-aand, want die plekke is beperk. Bespreek nou by die klubsekretaris van ZS4SRK. Vorms is beskikbaar op www.qsl.net/zs4srk. Daar is ook ’n skakel van www.sarl.org.za.

LAASTE KANS! BESPREEK VIR PIC-PROGRAMMEERKURSUS

Besprekings vir die PIC-programmeerkursus op Saterdag 29 Januarie by die SARL se Nasionale Amateurradiosentrum sluit Woensdagmiddag. Kry die besonderhede op www.sarl.org.za en klik op RTA. Dit is die enigste PIC-programmeerkursus in Gauteng in 2011.

INNOVASIE- EN KONSTRUKSIEKOMPETISIE

Inskrywings vir albei kompetisies sluit 31 Januarie 2011. Volle besonderhede is beskikbaar van www.amateurradio.org.za.

KOMPETISIENUUS

Die eerste SARL 80 m-Klubkompetisie van 2011 vind op Woensdag 26 Januarie 2011 plaas. Dit begin om 19:30 SAT en eindig ’n uur later. Dit is ’n enkelsybandkompetisie op die segmente 3 600-3 650 kHz en 3 700-3 775 kHz. Die uitruiling is ’n RS-verslag en reeksnommer wat by 001 begin. Stasies mag deelneem as enkel- of multioperateurs. Die volledige reëls is op bl. 20 van die SARL-kompetisiehandleiding.
Oor die naweek van 5 en 6 Februarie bied die Antiekeradiovereniging sy Gelykgolf-aktiwiteitsdag aan. Op die volgende naweek, 12 en 13 Februarie, vind die eerste been van die 2011 SARL Nasionale Velddag plaas. Die volledige reëls is op bl. 20 van die SARL-kompetisiehandleiding.

Port Elizabeth ARK het die uitslag van die 2010 PEARS HF-QSO-senderjag van vroeg-Desember bekend gemaak. Tien logstate van die onbeperkte klas en een van die beperkte klas is ontvang.

Onbeperkte klas:
1e Wes Wessels, ZS2A, 107 punte
2e Jacques Vermeulen, ZS1WC, 98 punte
3e Otto du Plessis, ZS2Q, 95 punte

Beperkte klas:
Piet Delport, ZR6BVS, 12 punte
Geen logstate is ontvang vir die Nuweling- en DX-klasse nie. Hartlik geluk aan die wenners.

VOORTPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit steeds op lae vlakke is. Sonvlek 1 147 is steeds in die noordelike halfrond en ’n paar klein vlekkies het net suid daarvan gevorm. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting minder as 20 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande op 15 m na Europa toe bruikbaar wees, met redelike openinge later op 20 m. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die vroëe aand moontlik. Kontakte met Australië is met sonop en smiddae op 20 m moontlik. 15 en veral 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m ook vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse vir kontakte landwyd, met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

23 Januarie – Laaste dag van die PEARS se BHF/UHF-kompetisie.
26 Januarie – SARL 80 m-klubkompetisie om 19:30.
5-6 Februarie – Antiekeradiovereniging se GG-aktiwiteitsdag.
12-13 Februarie – 1ste Been van die SARL Nasionale Velddag.
28 Februarie – Laaste dag om aanbiedings om ’n stasie tydens die IARU Streek 1 konferensie by Sun City op te rig en te bedryf, in te stuur na iaru2011@sarl.org.za.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Hester van der Walt saamgestel en George, ZS6NE, nagesien is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003