SARL-NUUS SONDAG 09 Desember 2012
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
STIL SLEUTEL
Dit is met leedwese dat ons bekend maak dat die sleutel van E I Terblanche, ZR2ET, onlangs stil geraak het.
Ons innige meegevoel gaan aan sy familie en vriende.
(POUSE).
IN DIE NUUS VANDAG:
DIE SARL SE ANTENNAVERDEDIGINGSFONDS BEREIK 10% VAN SY MIKPUNT
‘ZS WORKED ALL GRID SQUARES’ TOEKENNING
TWEE KUNDIGE WERKGROEPE IN DIE LEWE GEROEP TE WORD DEUR DIE SARL
DYNACUBE - Denel Dynamics Ingenieurs-in-Opleiding maak goeie vordering
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.
DIE SARL SE ANTENNAVERDEDIGINGSFONDS BEREIK 10% VAN SY MIKPUNT
Die SARL se antennaverdedigingsfonds wat verlede week in die lewe geroep is, staan alreeds op R4 800, dit is byna 10% van sy mikpunt van R50 000. 'n donateurslys en besonderhede oor die redes waarom die SARL die fonds in die lewe geroep het en waarom u behoort by te dra, kan gevind word op www.sarl.org.za. Klubs word aangemoedig om die voorbeeld van die Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging te volg, wat die afgelope week 'n groot bydrae gemaak het. Baie dankie aan KARTS en al die radioamateurs wat tot datum bydraes gemaak het. Julle ondersteuning van amateurradio word hoog op prys gestel.
TWEE KUNDIGE WERKGROEPE IN DIE LEWE GEROEP TE WORD DEUR DIE SARL
Tydens 'n onlangse raadsvergadering van die SARL is dit besluit om twee kundige werksgroepe in die lewe te roep om op tegnologiese en regulatoriese onderwerpe te fokus. Die groepe sal in raadgewende hoedanigheid met die SARL funksioneer.
Die tegnologiese groep sal op nuwe ontwikkelings fokus en interaktief optree met verskillende SABS tegniese komitees en die ontwikkeling van standaarde monitor wat 'n invloed op amateurradio mag hê en sal die amateurradiogemeenskap van nuwe ontwikkelings op hoogte hou. Een van die onmiddellike take sal wees die koördinering van die voorgestelde 5 MHz deelband en voortplanting navorsingsprojek.
Die regulatoriese werkgroep sal fokus op verskeie regulatoriese kwessies soos frekwensietoekennings, omgewings- en bouregulasies sowel as ander regulasies wat amateurradio kan affekteer.
Die twee werkgroepe sal vir die eerste keer vroeg in Januarie per telekonferensie vergader wanneer verantwoordelikhede en 'n werksprogram bespreek en gefinaliseer sal word. Radioamateurs wat oor kennis in hierdie aangeleenthede beskik of wat geïnteresseerd is om by een van die werkgroepe aan te sluit word uitgenooi om hulle name, besonderhede van kennis en kontakbesonderhede per e-pos te stuur aan secretary@sarl.org.za.
‘ZS WORKED ALL GRID SQUARES’ TOEKENNING
Geluk aan Pieter Jacobs, ZS6XT, vir bereiking van die top ‘ZS WAGS’ toekenning vir kontakte in al die 83 ruitblokke in Suid-Afrika. Tot dusvêr het slegs Pieter en Pierre, ZS6A (was ZS6BB), die hoogste sport van hierdie toekenning bereik.
Die ‘ZS Worked All Grid Squares (ZS WAGS)’ toekenning is in 2008 ingestel om plaaslike op die lug aktiwiteit aan te moedig en die toekenning word deur die Sandton Amateurradioklub geadministreer.
Sedert instelling is 50 toekennings gemaak en slegs twee amateurs het die maksimum van 83 blokke bereik. Die volledige reëls en huidige stande kan verkry word van die Sandton ARK se webwerf nl. www.zs6stn.org.za.
Die doelwit van die toekenning is om kontakte in soveel as moontlik van die blokke te maak. Die ‘Hunter’-toekenning strek van beginnersvlak 25 blokke op tot die maksimum van 83 blokke. 'n Toekenning kan ook geëndosseer word vir spesifieke bande of modusse, soos 40 m alleen, satelliet, QRP, ens. die “Activator”-toekenning word ook toegeken aan amateurs wat hulleself beskikbaar stel vir vir ten minste 10 kontakte na enige van die mins bevolkte blokke.
KLUBAFFILIASIE
Die Southern Suburbs Amateur Radio Club, suid van Johannesburg, het verlede week by die SARL geaffilieer. Dit bring die totale aantal klubs wat hierdie jaar by die SARL geaffilieer het op 31 te staan. Vir 'n lys van geaffilieerde klubs besoek www.sarl.org.za/public/ClubTalk/default.asp.
NUWE LID
Die SARL verwelkom Isak Du Plessis, ZSL153, as 'n nuwe lid.
DYNACUBE - Denel Dynamics Ingenieurs-in-Opleiding maak goeie vordering
Die 2012 se Ingenieurs-in-Opleiding van Denel Dynamics se Ingenieursakademie het goeie vordering gemaak met hulle Dynacube satellietprojek. Die span is almal ingenieurs wat verlede jaar by verskeie universiteite in Suid-Afrika gegradueer het. Hulle bestee 'n jaar werkend aan 'n projek voordat hulle na verskeie afdelings in die maatskappy uitgeplaas word. Die taak van 2012 se gegradueerdes is die ontwerp, vervaardiging en indiensstelling van 'n 1 U Cube satelliet tesame met sy grondondersteuningstelsels. Die vereiste is ook dat die satelliet in 'n ruimtebaan gelanseer word en 'n verwante ruimtewetenskaplike taak vervul. Die lansering sal deur 'n eksterne verskaffer gedoen word.
Die 20 Ingenieurs-in-Opleiding wat gekies is om aan die 2012 program deel te neem is in drie spanne opgedeel. Elke span moes 'n spesifieke taak verrig.
Span Grond Zero is verantwoordelik vir die grondbeheerstasie sowel as die kommunikasietoerusting aan boord van die satelliet.
Span Virtuoso is verantwoordelik vir die rekenaar aan boord, die kragstelsel, die satellietstruktuur en die telemetriedata.
Dit is in 'n vroeë stadium van die projek besluit om 'n duplikaatsatelliet te bou en dat dit op die aarde sal bly. Hierdie satelliet sal dit vir die span moontlik maak om programmatuurinstandhouding te doen en om foute te identifiseer voordat 'n verandering of opdatering aan die satelliet in die wentelbaan aangebring word.
Die hooftake van die Frodospan is om die die satelliet se loonvrag te spesifiseer asook die vereiste sensors, die posisiebeheer en sy lansering.
Die primêre loonvragte is sensors vir partikeluitstraling en strukturele temperatuursensors. Die uitstralingsensors sal gebruik word om uitstralingdigtheid en verspreiding oor die Suid-Atlantiese Anomalie te karteer. Dit is die gebied op die aarde se oppervlakte waar die Van Allen uitstralingsgordels die naaste aan die aardoppervlakte is. In die verlede het verskeie foute in rekenaarapparatuur van satelliete oor hierdie gebied voorgekom.
Die sekondêre loonvrag is 'n kamera wat foto’s aan boord kan bêre. Daar is besluit om 'n VGA serie-JPEG kamera te gebruik aangesien dit in staat is om foto’s vinnig genoeg te neem om vervaging te voorkom, terwyl dit ook self beeldprosessering kan doen.
Die lansering sal heel waarskynlik eers naby die einde van 2013 plaasvind en selfs tot so laat as teen die einde van 2014. Die befondsing van die lansering kan soveel as R1 300 000 beloop en is 'n uitdaging wat oorkom moet word.
Alle stelsels is getoets en is gereed vir integrering. Alhoewel die ingenieurs aan die einde van hulle jaar gekom het en hulle loopbane in verskeie departemente van Denel Dynamics sal begin, sal hulle die projek in hulle vrye tyd voltooi.
Drie lede van die span het reeds hulle amateurradiolisensies verkry en nog lede beplan om in Mei volgende jaar die RAE af te lê.
Frekwensies vir Dynacube is deur die IARU se Satelliet Raadgewende Paneel gekoördineer. Die afwaartse skakel sal 145,980 MHz, opwaartse skakel 435,050 MHz en 'n bakensein op 145,840 MHz wees.
HARDEBANDUITGAWE VAN DIE 2013 ARRL-HANDBOEK NOU IN SUID-AFRIKA BESKIKBAAR
'n Beperkte aantal eksemplare van die ARRL se 2013 handboek in hardeband is nou van die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust beskikbaar. Baie het verander sedert die handboek vir die eerste keer in 1926 die lig gesien het. Maar net soos oor die 9de uitgawe gesê is, kan oor die 90ste uitgawe gesê word: “Enigeen wat hoegenaamd in die tegniese sy van radio belangstel, kan nie bekostig om sonder ”The Radio Amateur's Handbook” te wees nie.
Nuwe inhoud in die jongste uitgawe sluit in:
Nuwe antennaprojekte, insluitend 'n laeband vierkant, deltalusse, koaksiale dipole vir BHF en UHF en 'n “Skeleton Slot” vir 14-30 MHz.
Nuwe inligting oor kragbronne se polariteitbeveiliging.
144 MHz banddeurlaatfilter vir vermindering van harmonieke.
Opgedateerde “Pebble Crusher” QRP-sender bouprojek.
Ontwerpprogrammatuur op 'n CD-ROM, insluitende ElsieT-filter en Pi-El aanpassingsnetwerke en meer!
Die boek is teen R740 plus R60 vir verpakking en posgeld beskikbaar. SARL-lede betaal slegs R670 plus R60.
KOMPETSIENUUS
Die Novemberbeen van die 2012 SARL Nasionale Velddag is gehou op 17 en 18 November en 19 logstate is ontvang. Die volledige uitslae is in HF Happenings 534 gepubliseer.
Die uitslae is as volg:
Klas A - Multi-operateur, Veldstasie
1ste Wes-Rand ARK, ZS6WR, 136 680 punte
2de Bloemfontein ARK, ZS4BFN, 97 680 punte
3de Sasolburg ARK, ZS4SRK en Pretoria ARK, ZS6PTA, 61 440 punte elk.
Klas B - Multi-operateur, QRP
1ste Oos-Rand ARC, ZS6ERB, 37 440 punte
Klas C - Enkel-operateur, Veldstasie
1ste Peter Henochsberg, ZS1PMH, 13 968 punte
Klas D – Enkeloperateur, Veldstasie, QRP
1ste Dirk Els, ZS6AKU, 10 368 punte
2de Dennis Green, ZS4BS, 3 960 punte
3de Eddie Leighton, ZS6BNE, 2 700 punte
Klas E - Algemene Stasies
1ste Pieter Jacobs, ZS6XT, 36 660 punte
2de Pam Momberg, ZS6APT, 4 716 punte
3de Marius Snyman, ZR6MS, 2 580 punte
Baie stasies het punte verloor as gevolg van duplikaatkontakte, een log het 17 duplikate gehad! Baie geluk aan die wenners.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Met 'n verwagting dat 'n maksimum net om die draai is, wil dit eerder voorkom of die sonaktiwiteitsvlak na 'n laagtepunt op pad is.
Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 51.
Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld voorkom.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
31 Januarie 2013 – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.
SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.
Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur deur George Honiball, ZS6NE, en dit is deur hom saamgestel.
Dankie dat u geluister het, 73.
/EX