Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 13 Januarie 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

SA AMSAT VERSNEL DIE KLETSKous CUBESAT-PROJEK

NOMINASIES VIR RAADSLEDE

DIE PEARS NASIONALE BHF/UHF KOMPETISIE VOLGENDE NAWEEK

HAMNETDIENS IN DIE WES-KAAP

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SA AMSAT VERSNEL DIE KLETSKous CUBESAT-PROJEK

SA AMSAT het besluit om hul CubeSat-projek, met die naam KletsKous, te versnel en verwag dat die eerste prototipeweergawe van die transponeerder en beheerstelsel vir die toets teen die einde van Februarie op die tafel te hê. "Een van die redes om die ontwikkeling te bespoedig is die strewe om die transponeerder as 'n eksperimentele loonvrag in die ARMC-projek in te sluit." Het Hannes Coetzee, ZS6BZP, gesê. Jacques Roux, ZR1ADC, werk op die transponeerder terwyl Brian McKenzie, ZS1BMN, vir die beheerstelsels verantwoordelik is.

As deel van Suid-Afrika se bydrae tot die African Resource and Environmental Management Constellation (ARMC) van satelliete, was SANSA, in samewerking met plaaslike industrie en akademiese deskundiges, in gesprekke oor die spesifikasies vir die nuwe satelliet (ZA-ARMC1) en sy meegaande voordele vir Suid-Afrika en die vasteland. SA AMSAT rig versoeke aan SANSA om 'n amateurloonvrag in die projek in te sluit.

Deon Coetzee, ZR1DE, het verlede jaar 'n plaaslik ontwerpte ruimteraamwerk voorgestel. Hy is tans besig met die tweede prototipe.

SA AMSAT het 'n groot behoefte aan befondsing en doen 'n beroep op radioamateurs om 'n finansiële bydrae te maak. Volledige besonderhede is op www.amsatsa.org.za beskikbaar.

NOMINASIES VIR RAADSLEDE

Die nominasies van raadslede en die voorlegging van mosies sluit op die laaste dag van Januarie. Die SARL versoek elke geaffilieerde klub om een of meer van hulle lede as raadslede te nomineer.

'n Raadslid moet deur 'n SARL-lid genomineer, en deur 'n ander SARL-lid gesekondeer word. By die nominasie moet 'n kort CV van die genomineerde se amateurradioloopbaan gaan, asook 'n ondertekende verklaring deur hom dat hy bereid is om as Raadslid te dien. Raadslede moet verkieslik ervare amateurs wees wat enkele ure per week aan SARL-sake kan afstaan en wat per telekonferensie aan raadsvergaderings kan deelneem.

Die SARL maak ook uitvoerig gebruik van vrywilligers. Raadslede en baie ander amateurs met spesiale vaardighede, dra tyd en kundigheid by.

Om doeltreffend te werk, is baie verskillende vaardighede nodig. Tans blyk dit dat daar 'n behoefte is aan 'n jeugkoördineerder, amateurs met vaardighede in webwerf- en databasisadmininstrasie, 'n forum-koördineerder en aan 'n kantoorbestuurder, om maar 'n paar te noem. Daar is ook 'n behoefte aan amateurs met meer algemene vaardighede.

Stuur asseblief julle nominasies nou in, daar is geen voordeel daarin om tot die laaste oomblik te wag nie. Stuur nominasies aan secretary@sarl.org.za.

MAAK GEREED VIR DIE JEUGNAELLOOP OP 23 FEBRUARIE

Soos oor die afgelope twee weke gerapporteer sal die SARL Jeugnaelloop op Februarie 23 gehou word en nie meer op Jeugdag 16 Junie nie. Die naelloop sal van 10:00 tot 12:00 SAT, met 'n spesiale geleentheid vanaf 09:00 gehou word.

Die SARL wil graag 'n oudio-opname saamstel van die opinies van jong radioamateurs oor amateurradio en waarom hulle by amateurradio betrokke geraak het. Die opnames sal telefonies vanaf die middel tot aan die einde van Januarie gedoen word. Ten einde daaraan deel te neem, stuur 'n e-pos met u naam, roepsein en telefoonnommer aan youth@sarl.org.za en u sal gekontak word om 'n datum en tyd vir die opname te reël. Alle deelnemers sal aan 'n gelukstrekking vir waardevolle pryse deelneem wat 'n 2012 ARRL handboek en ARRL Basiese Antennaboek insluit. Doen dit vandag.

NIE 'N SARL LID NIE?

As jy nog nie 'n SARL-lid is nie kan jy nou een word teen slegs R240 vir die tydperk van nou af tot die einde van Junie. Hierdie aanbod is slegs beskikbaar vir radioamateurs wat nou aansluit of heraansluit na meer as 'n jaar van nie-lidmaatskap. Die aanbod is ongelukkig nie van toepassing vir lede wat nog nie hul gelde vir die huidige 2012/2013 jaar betaal het nie. Vir meer besonderhede besoek www.sarl.org.za of skakel 011 675 2393 op Maandag.

AVF STYG R600 EN BEREIK R28 850

Verlede week het die Antenna Verdedigingsfonds met R600 toegeneem en R28 850 bereik. Baie dankie aan almal wat bygedra het. Om 'n lys van donateurs te sien en uit te vind hoe om 'n bydrae te maak en jou naam by te voeg, besoek www.sarl.org.za en kies Antenna Defence Fund in die linkerhandse spyskaart.

HAMNETDIENS IN WES-KAAP

Hamnet in die Wes-Kaap het vrywillig sy dienste aangebied om te help met die Lion's Klub van Kirstenbosch se Rit-vir-Sig-en-Klank fietstoer, wat op 6 Januarie 2013 in Vishoek begin enge-eindig het, en ons was bevoorreg om ZS9DCC vir die eerste keer tydens die wedloop te aktiveer. 8 Hamnetlede het, op 'n pragtige helder oggend, gehelp om 800 ryers rondom 'n 50 km roete te lei, en daar was geen ernstige voorvalle nie. Die lede wat gehelp het was ZS1CU, ZU5DX/div 1, ZS1PXK, ZS1SAM, ZS1BTD, ZS1JNT, ZS1BL en ZS1DFR. Ons is dankbaar vir die SARL dat ons toegelaat was om die ZS9DCC roepsein te gebruik.

DIE PEARS NASIONALE BHF/UHF KOMPETISIE VOLGENDE NAWEEK

Die PEARS se Nasionale BHF/UHF-kompetisie is die enigste BHF-kompetisie wat gedurende ons somer plaasvind en dit val in die beste tydperk van die jaar vir landswye BHF-kontakte asook met die buurstate wanneer voortplantingstoestande oor die tweedagtydperk kan verander. Die maand Januarie het altyd vir die beste toestande gesorg soos Tropo en Sporadiese-E, wees dus op die uitkyk vir Namibië en Zimbabwe. Maak dit n genotvolle en opwindende naweek met baie stasies op die BHF-bande en help om BHF-bedryf in die land populêr te maak.
Die eerste sessie begin om 18:00 SAT op Vrydag 18 Januarie en eindag Saterdag om 16:00 SAT. Die tweede sessie begin onmiddelik om 16:01 en eindig om 14:00 SAT op Sondag 20 Januarie 2013.
Sommige van die reels vir die kompetisie het verander en logstate is tot voordeel van die deelnemers vereenvoudig. Die volledige reels is op die BHF-forum van die SARL geplaas. Sukses met die kompetisie!
Die berig wat volg is ontvang van Mike Bosch, ZS2FM.

PIEKPERIODE VIR SPORADIESE E-OPENINGE

Sporadiese E-wolke is gebiede van ioniasie wat gedurende somermaande in E-laag vorm en van Oos na Wes beweeg en langafstand BHF-kontakte moontlik maak. Hierdie sterk openinge mag slegs 10 minute duur maar partykeer tot n uur of soms langer met n oorspringafstand rondom 500 km op 50 MHz.
Die beste sporadiese E-kontakte tussen Suid-Afrika en Namibië op 50 MHz is gedurende Januarie gemaak en eenkeer het n opening tussen Port Elizabeth, Windhoek en Outjo byna vir n hele namiddag geduur. Ongelukkig is hierdie tipe openings onvoorspelbaar en hulle kan ter eniger tyd gedurende die oggende of namiddae te voorskyn kom.
Die ou TV 1 FM band se klankkanale in Zimbabwe en Zambië op 53,750 MHz and 53,760 MHz respektiewelik is dikwels in Port Elizabeth by middag teen S9 en sterker gehoor wanneer sporadiese E-wolke verder Noord voorgekom het. Dit is dus belangrik om vir 'n veraf BHF-baken uit te luister, verkieslik op 50 MHz en wanneer dit gehoor word, dadelik op 50,200 MHz ESB te roep. Indien u nie binne die dekkingsgebied van 'n geskikte BHF-baken val nie, luister dan op 50,200 MHz ESB met die ‘squelch’ aan en hoor of iemend anders dalk die bakens kan hoor. Onlangs is die Kaapse BHF-baken, ZS1SIX, op 50,080 MHz verskeie kere in die middae via sporadiese E voortplanting gehoor.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak uiteindelik weer aan die styg is na 'n periode van gematigde aktiwiteit. Groot sonvlek AR 1 654 is besig om verder te groei en produseer tans M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 121.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld smiddae oor daglig paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
13 Januarie – Laaste dag om LIONS-IN-THE-AIR te jag.
15 Januarie – Laaste dag om kommentaar in te stuur oor die Nasionale Radiofrekwensieplan aan sarlregwg@sarl.org.za.
18 tot 20 Januarie - PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie.
26 Januarie - SARL Somer QRP-kompetisie 12:00 tot 15:00 UTC.
31 Januarie – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.
31 Januarie - Laaste dag vir indiening van 'n verkorte resume van 'n beoogde aanbieding vir SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM op 18 Mei 2013 na saamsat@sarl.org.za
23 Februarie – SARL se Jeugnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT en 'n spesiale gebeurtenis beginnende om 09:00.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL-NUUSSPAN wens al ons luisteraars en intekenare 'n voorspoedige nuwe jaar toe.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Richard Peer, ZS6UK, en George Honiball, ZS6NE, wat ook die bulletin saamgestel en geredigeer het.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003