SARL-NUUS SONDAG 17 Maart 2013
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
STIL SLEUTELS
Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het, hulle is:
Trevor Holmes, ZS2AZR, op Dinsdag 12 Maart. Trevor was 'n lid van die Suid-Kaap Amateurradioklub en laat sy eggenote Adelaide agter.
Bill Ingleson, ZS6KO, in die ouderdom van 85, op Vrydag 15 Maart. Bill in 1946 het by die SARL en by die Pretoria Amateurradioklub aangesluit en was 'n oud-voorsitter en tot onlangs 'n aktiewe lid en van PARK. Bill was 'n baie aktiewe GG- entoesias op QRP. Bill laat sy dogter Lynette en sy skoonseun Steven agter, by wie hy die laaste jare gewoon het.
Ons innige meegevoel aan die oorledenes se familie en vriende.
(POUSE)
IN DIE NUUS VANDAG:
HET JY GEWEET DAT AMATEURRADIO 'N ROL GESPEEL HET IN DIE BEËINDIGING VAN DIE BURGEROORLOG IN MOSAMBIEK?
FREKWENSIEVERANDERINGE VIR “AMATEUR RADIO TODAY” OP 31 MAART
BOB BRUNINGA, WB4APR, NEEM APRS ONDERGRONDS
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.
HET JY GEWEET DAT AMATEURRADIO 'N ROL GESPEEL HET IN DIE BEËINDIGING VAN DIE BURGEROORLOG IN MOSAMBIEK?
Kom hoor hierdie boeiende storie van die gasspreker, Dr Antony Turton ZS6CST by die jaarlikse toekennings aandete. Die dinee gehou as deel van die 2013 SARL se Nasionale Konvensie wat op 26 en 27 April in die Wes-Rand deur die Wes-Rand Amateurradioklub aangebied word.
Om die smokkel van wapens uit Mosambiek na KwaZulu-Natal te stuit, is 'n tweeman spesiale operasiespan in Mosambiek vir hierdie doel ingestuur. Een van die twee persone was Anthony Turton, gekies as gevolg van sy vaardighede as 'n radio-operateur, wat beskou was as ‘n noodsaaklike element vir die sukses van hierdie hoë risiko, maar strategies belangrike sending. Anthony het hierdie vaardighede, geslyp tot 'n hoë vlak van tegniese vaardigheid as 'n aktiewe amateur, gebruik om strategiese toegang tot die rebellegroep RENAMO te kry.
Doen jou bespreking vir die jaarlikse dinee nou. Tony, soos hy ook bekend is, is die outeur van die boek "Shaking Hands with Billy" wat nou hierdie storie vir die eerste keer vertel. Die boek sal teen 'n spesiale prys beskikbaar wees by die Nasionale Konvensie. Om te bespreek, volg die skakels op die SARL se tuisblad op www.sarl.org.za.
Onthou dat die besoek aan SANSA by Hartbeeshoek aardstasie beperk is tot 45 persone. Doen jou bespreking nou om teleurstelling te voorkom. Wanneer jy bespreek maak verseker dat jy jou ID-nommer byderhand het.
FREKWENSIEVERANDERINGE VIR “AMATEUR RADIO TODAY” OP 31 MAART
Op 31 Maart sal van die frekwensies waarop die SARL die program uitsaai, verander. Hier volg die volledige HF-skedule.
Sondae 10:00 11:00 plaaslike tyd vir Suider-Afrika sal die frekwensie 7 025 kHz, dieselfde bly, maar vir Oos- en Sentraal-Afrika se luisteraars sal die frekwensie verander na 17 570 kHz. Vir ons luisteraars buite Suid-Afrika verander plaaslike tyd na 08:00 - 09:00 UTC. Die program word op Maandae 16:30 UTC, 18:30 plaaslike tyd in Suid-Afrika herhaal op 'n nuwe frekwensie van 3 230 kHz. Vir verdere inligting oor podcasts en ander herleidings en heruitsendings besoek www.sarl.org.za en kies Amateur Radio Today op die spyskaart.
Programme in hoë of lae resolusie kan ook van die webtuiste afgelaai word vir uitsendings op plaaslike herhalers, of vir eie plesier.
Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle is altyd welkom. Stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.
BOB BRUNINGA, WB4APR, NEEM APRS ONDERGRONDS
Bob Bruninga, WB4APR, het vroeër hierdie maand ‘n groep radioamateurs na die “Mammoth Cave”, die wêreld se langste bekende grotstelsel, in Kentucky, VSA gelei om te toets of die “Outomatic Packet Reporting System (APRS)” ondergronds as 'n radiokommunikasiemiddel gebruik kan word.
Wanneer BHF en UHF radios gebruik word kan alleenlik kort afstande in beide rigtings ondergronds gedek word en slegs wanneer dit in sig van 'n ander radio is. Dit maak roetine gebruik van hierdie radios van min waarde vir ondergrondse gebruik, maar wanneer APRS radios as 'n pakket digiherhaler gebruik word, kan die dekking dramaties uitbrei. Bruninga, 'n senior navorsingsingenieur by die US Naval Academy, het APRS ontwikkel as 'n globale, op-die-lug protokol vir die ondersteuning van draagbare radio posisierapportering en sms via BHF radio.
Bruninga se span het 14 APRS radios gebruik om 'n netwerk te vestig wat intyd posisie- en teksboodskapkommunikasie oor ‘n afstand van byna 1 600 meter in die grot voorsien het. "Die grotkruipers het ‘n kaart van die grot met lengte- en breedtegraadlyne saamgeneem sodat die presiese koördinate van hul posisie bevestig word wanneer met die draagbare stel gekommunikeer word.
Bruninga het gesê. "SMS via APRS punt-tot-punt kommunikasie, het selfs e-pos ingesluit in die bogrondse, globale APRS-stelsel."
Die span het die APRS netwerk opgestel in wat Bruninga genoem het "groot duikweggrootte gange" wat 30-50 voet breed en 10-20 voet hoog is.
Hy het gesê dat die uitbreiding van die kommunikasiestelsel langs die grot eenvoudig was: "Ons het geloop totdat ons die sein verloor, 5 - 10 meter teruggekom en 'n Digi APRS handstel op 'n rots geplaas, daarna aangehou om die proses herhaal.
Ontleding van die resultate deur Bruninga, het twee interessante feite ontbloot: Selfs met die gemiddelde afstand van 150 meter tussen elke radio het UHF vir VHF met sowat 13 persent oortref. Daarbenewens het krag nie veel van 'n verskil gemaak nie, die APRS draagbare radio’s het net so goed presteer as verskeie draagbare 10 W mobiele radios.
Bruninga het gesê dat APRS radios bring " 'n nuwe afstandvermenigvuldiger na grotkommunikasie. In die verlede, het die skamele paar honderd meter dekking van BHF/UHF-radio nie die speleoloë beïndruk nie, maar nou met APRS, gekoppel tot 14 keer in ‘n reeks, word die werklike potensiaal van amateurradio vir speleologie ondersteun. Dit is veral waar wanneer sommige afstande van ‘n honderd voet 'n uur of meer kan neem om te kruip, terwyl APRS die boodskap teen die spoed van lig kan deurkry.”
KLUBAFFILIASIE
Hierdie week verwelkom die SARL die Secunda Amateur Radio Club wat by die SARL geaffilieer het. Secunda Amateur Radio Club neem aktief deel aan Hamnet en HF-kompetisies.
JONGMENSE EN RADIO
Elke jaar hierdie tyd kamp 'n klomp jongmense gedurende die skoolvakansie noord van Rustenburg.
Die Thaba Voortrekkerkamp word al meer as 'n dekade aangebied. Gedurende die kamp gaan radiospraak, radio operateur werking en elektronika aangebied word, geskoei op die amateurkursusinhoud, vir die kentekens. Die kinders word aangemoedig om die Radioamateurkenteken te voltooi na die kamp wat die ZU-eksamen insluit. Gedurende die kamp gaan die Voortrekkers se opleidingsroepsein ZS6VTS gebruik word. ZS6VTS gaan daagliks van 16:00 tot 19:00 op die lug wees. Vanaf die kamp kan die Rustenburg, Magalies, PTA en Centurion herhalers bereik word. Die stasie sal ook op HF gehoor kan word op 80, 40, 20, 15 en 10 m bande. Elke aand net voor 19:00 gaan 'n nuusbulletin uitgesaai word. Luister asseblief uit vir ZS6VTS en kuier saam met die kinders vanaf 20 tot 26 Maart.
STIGTING VAN SOEK- & REDDINGORGANISASIE VIR DIE OOS-KAAP
Alle belangstellende radioamateurs en veral Hamnetlede word genooi na ''n inligtingsvergadering vir die stigting van 'n wildernis soek- & reddingorganisasie vir die Oos-Kaap. Die vergadering is Maandag 18 Maart 2013 om 18:30 by die Nelson Mandela Ambulansstasie in Lindsaystraat, Xorsten, Port Elizabeth. Dit is oorkant die Livingstone Hospitaal. Almal is welkom. Vir nadere besonderhede kan u ook skakel met raadslid ZS1JM, Johann Marais, by telefoonnommer 082 771 1880.
WES-RAND SNUFFELMARK
Die Wes-Rand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 30 Maart 2013 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835, of Geoff ZS6GRL 082 546 5546.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak nog steeds laag gaan wees maar daar is 'n goeie kans dat dit binnekort gaan toeneem. Daar is ook 'n moontlikheid van M-klas fakkels.
Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 64.
Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan smiddae oor dagligpaaie voorkom.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
17 Maart - SARL BHF/UHF analoog- en digitale kompetisie sluit om 10:00 UTC vandag.
18 Maart - Stigting van soek- & reddingorganisasie vir die Oos-Kaap.
20 tot 26 Maart – Voortrekkerkampstasie ZS6VTS op die lug.
30 Maart - Wes-Rand Amateurradioklub se snuffelmark beginnende om 12:00. Vir meer inligting skakel Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835, of Geoff ZS6GRL 082 546 5546.
SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.
Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Louis de Bruin, ZS5LP en saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.
Dankie dat u geluister het, 73.
/EX