SARL-NUUS SONDAG 2 JUNIE 2013
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
STIL SLEUTEL
Marten, ZS6ZY, berig dat Judith, LV van Harry Davies, ZS6JRD, hom geskakel en verwittig het dat Harry op 31 Mei aan 'n geweldige hartaanval in sy slaap oorlede is. SARL nuus betuig graag meegevoel met Judith en Harry se ander familie en vriende.
IN DIE NUUS VANDAG:
102 NUWE RADIOAMATEURS
MISVERSTAND VEROORSAAK PANIEK
SARL@HOME BIED INLIGTING OOR KOMPETISIES
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.
102 NUWE RADIOAMATEURS
Veels geluk aan die 102 kandidate wat die Mei 2013 Radioamateureksamen geslaag het. 'n Totaal van 130 mense het ingeskryf, maar net 116 het die eksamen geskryf. Die hoogste gemiddelde punt is 98%. Daar was 3 kandidate wat 100% vir die regulasieafdeling verwerf het. Die hoogste punt vir die tegniese deel was 95%.
Die resultate is op die amptelike webwerf van die SARL gepubliseer, www.sarl.org.za. Kandidate wat die Radioamateureksamen geslaag het mag onmiddelik op die lug gaan en aktief deelneem aan die stokperdjie. Kontroleer asseblief die lys op die webwerf om seker te maak watter roepsein OKOSA toegestaan het.
Die lisensieringsproses neem gewoonlik 'n maand of langer, en vir die rede het OKOSA en die SARL 'n ooreenkoms dat die kandidate wat geslaag het dadelik na die publikasie van die resultate op die webwerf van die SARL mag opereer.
Die RAE bestuurder, Gideon Jannasch, ZS4GJA, het gevra dat die ervare amateurs die nuwe stemme verwelkom en sal aanspoor om aan elke faset van die stokperdjie deel te neem. Wees asseblief geduldig, hulle sal gou in oefening kom. Hy het die nuwe amateurs uitgedaag om deel te neem aan hul eerste groot geleentheid, die ZS4 naelloop op Sondag 9 Junie 2013. “Ons wil julle op HF hoor” het hy bygevoeg. Meer inligting oor die ZS4 naelloop kan in die Kompetisiehandboek, beskikbaar op die SARL webwerf, gevind word.
Voornemende amateurs wat nie geslaag het nie word aangemoedig om weer met die Oktobereksamen te prober. Moenie moed opgee nie en onthou o vir die eksamen te registreer. Enige vrae kan met die RAE Bestuurder by rae@sarl.org.za uitgeklaar word.
MISVERSTAND VEROORSAAK PANIEK
'n Bespreking op 'n herhaler oor 'n paar toetse op 472 kHz, wat vra dat ander radioamateurs luister en verslae gee veroorsaak paniek omdat aktiwiteit op die frekwensie kwansuis kon veroorsaak dat 'n vliegtuig neerstort. 'n Luisteraar van die gesprek het nie mooi geluister nie en vertolk die bespreking as oor toetse op 4720 kHz, wat 'n lugvaartfrekwensie is. Hy het die persoon op die herhaler gewaarsku dat hulle 'n vliegtuigongeluk kon veroorsaak. Die gesprek het voortgegaan, maar die twee partye het nie besef dat hulle oor verskillende frekwensies praat nie. So 'n brief is aan OKOSA gerig oor die dreigende gevaar. OKOSA het gereageer en gevra dat die SARL dit sal ondersoek. Natuurlik is SARL-lede gelisensieer is om op 472 kHz op 'n sekondêre basis te werk. In die lys van frekwensie toekenning is 4720 kHz as lugvaartmobiel getoon. In sommige lande word dit ook gebruik vir kommersiele uitsaai. Enige werking op 4720 kHz sal nie 'n vliegtuig laat neerstort nie, maar in elk geval was daar geen operasie deur radioamateurs op die frekwensie nie. Die les van hierdie storie is, luister en kry die feite reg voor jy optree en paniek veroorsaak.
“BIG TIME” DX OP 5MHZ
Chris Burger ZS6EZ het verskeie DX-kontakte op 5 MHz deur GG gemaak. Onder die lande wat hy gewerk het, is die VSA, die Verenigde Koninkryk en Israel. Baie geluk! As jy op 5 MHz werk, stuur jou logstate aan propresearch@sarl.org.za
NOMINASIES VIR MTN RADIO AMATEUR VAN DIE JAAR TOEKENNING SLUIT – EEN WEEK OOR
Nominasies vir die 2013 MTN Radio Amateur van die Jaar-toekennings sluit oor net meer as 'n week, op 10 Junie. Daar is drie toekenningkategorieë: Garth Milne Technical Innovation Award, MTN Radioamateur van die Jaar-toekenning en die MTN Amateur Radio Community Service Award. Vir meer besonderhede en 'n nominasievorm besoek asseblief www.amateurradio.org.za.
Gebruik hierdie geleentheid om 'n radioamateur wat ‘ngroot bydrae tot amateurradio in een van die drie kategorieë gemaak het te erken. Sluit soveel moontlik inligting oor die genomineerde in om sodoende die beoordelaars in staat te stel om die regte keuse te maak. Al inligting wat die beoordelaars het om te gebruik is dit wat in die nominasiedokument ingesluit is.
SARL@HOME OP SATERDAG 15 JUNIE BIED INLIGTING OOR KOMPETISIES
Sluit by Geoff Levey, ZS6GRL aan vir die eerste SARL@HOME byeenkoms op Saterdag, 15 Junie by die Nasionale Amateurradiosentrum om meer te leer oor kompetisies. SARL@HOME is 'n nuwe kwartaallikse geleentheid wat deur die Liga aangebied word om juis te wys hoeveel pret amateurradio is.
Geoff sal die verskillende terme wat in wedstrydreëls gebruik word verduidelik, hoe om 'n log in te stuur en die inligting wat in die log vereis word aandui. Hy sal ook die gebruik van die N1MM sagteware verduidelik. Bring 'n geheuestokkie en neem 'n afskrif van die wedstrydlogsagteware huis toe.
SARL@HOME begin om 10:00 en eindig om ongeveer 12:30. Dit is gratis vir SARL-lede en R50 vir nie-lede. Verversings sal bedien word. Met die belangrikste SARL HF wedstryd op hande is dit die ideale geleentheid vir nuwelinge in amateurradio en diegene wat nie ernstig deelneem aan kompetisies nie. Leer hoeveel pret dit kan wees as jy net weet hoe. Om te help met spyseniering, stuur 'n e-pos aan admin@sarl.org.za of skakel Mariska by 011 675 2393 om te laat weet dat jy kom.
KLUBNUUS
PEARS
Die nuutverkose komitee van PEARS, die “Port Elizabeth Amateur Radio Society” is:
Voorsitter: ZS2NT, Nicholas Thompson
Ondervoorsitter: ZS2GV, Glen Cummings
Sekretaris/Funksies: ZS2PTY, Patsy Kruger
Tesourier: ZS2RT, Clive Fife
Openbare Betrekkinge: ZS2JO, Johannes Geldenhuys
Funksies/”Rally organising”: ZR2TX, Tony Allen
QSX Verspreiding, Kompetisies en Toekennings: ZS2EC, Theunis Potgieter
Tegnies/Herhalers, wifi, Webwerf en ZS2PE: ZS2AAW, Chris Scarr
Ons gelukwense aan die nuwe komitee.
SOUTPANSBERG HERLEEF
Die Soutpansberg Amateurradio Klub van die Limpopo-provinsie het op 11 Mei 2013 na 'n aantal jare se onaktiwiteit weer 'n AJV in Polokwane gehou om die klub te hervestig. 18 lede was teenwoordig.'n Nuwe grondwet is aanvaar en 'n komitee verkies.
Die komitee is soos volg:
Voorsitter: Karel Bezuidenhout, ZS6WN
Onder-voorsitter: Willem Badenhorst, ZS6WAB
Sekretaris/tesourier: Karel Bezuidenhout Jnr, ZU6KB
Openbare skakeling & RAE: Thinus Joubert, ZS6TDS
Tegnies & herhalers: Eben Liebenberg, ZS6EBN.
KOMPETISIENUUS
ZS3 NAELLOOP
Die ZS3 Naelloop op die 5de Mei was goed ondersteun. 108 Amateurs was aktief tydens die naelloop en 20 logstate, waarvan drie as kontrolestate gebruik was, is ontvang.
Die uitslae is soos volg vir die uur op die lug:
1ste: ZS3R, Christo van Rensburg, 102 punte.
2de: ZS4JAN, Jan Botha, 86 punte.
3de: ZS4DZ, Johan van Zijl, 61 punte.
4de: ZS6YH, Mitchel Mynhardt, 56 punte.
Die Noord-Kaap Amateur Radio Klub bedank almal wat deelgeneem het en moeite gedoen het om 'n logstaat in te stuur.
ZS4 NAELLOOP
Op Sondag 9 Junie 2013 tussen 14:00 en 15:00 is die ZS4 Naelloop op die lug. Dit is 'n prettige aktiwiteit om kontakte tussen radioamateurs in die Vrystaat en radioamateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder. Die naelloop is 'n foon en GG kompetisie op die 40-meter band. ZS4-stasies ruil 'n RS(T) verslag en dorp naam of afkorting uit. Vir alle ander stasies dit is 'n RS(T) verslag en provinsiale- of land afkorting.
Telling - Vir ZS4: kontakte met stasies in ZS4 is 1 punt werd en kontakte met stasies in ander ZS gebiede of Suider-Afrikaanse lande is 2 punte werd. Vir ander stasies: kontakte met stasies in ZS4 is 2 punte werd en kontakte met stasies in eie of ander ZS gebiede (uitgesluit ZS4) of Suider-Afrikaanse lande is 1 punt werd.
Kontak met die Bloemfontein ARK, ZS4BFN, Vrystaat Radioklub, ZS4B, die Welkom Radioklub, ZS4WRC, en die Sasolburg ARK, ZS4SRK is 5 punte werd, slegs een kontak per stasie word toegelaat. ZS4BFN sal aktief wees rondom 7 130 kHz en ZS4B rondom 7 150 kHz.
Logstate moet teen 17 Junie per e-pos ingedien word aan riaanzs4pr@gmail.com met 'n afskrif aan fwolff@global.co.za. 'n Sertifikaat sal toegeken word aan die 1ste, 2de en 3de plekke in die kompetisie.
SARL HERFS QRP-KOMPETISIE
Die uitslae van die SARL Herfs QRP-kompetisie. Daar was baie aktiwiteit in hierdie kompetisie, wat bemoedigend is. Ongelukkig is slegs 10 logstate ontvang.
Andre, ZS2ACP, het met die louere weggestap met 280 punte, gevolg in die tweede plek deur Francois, ZS6FDX, met 259 punte en Ed, ZS6UT, in die derde plek met 192 punte. Hulle is gevolg deur ZS6BNE, ZS6A, ZS6BTY, ZS2NF, ZS2PE, ZS6GRL en ZS6MHH. Die volledige uitslae sal gepubliseer word in HF Happenings 560. Baie geluk aan die wenners.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Nie een van die magnetiese eenvoudige sonvlekke huisves genoeg energie vir ernstige sonfakkels nie.
Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 50. Die geomagnetiese magneetveld mag versteur word.
Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan van tyd-tot-tyd oor daglig paaie voorkom.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
2 Junie – Keerdatum vir indien van SARL Digitale Kompetisie logstate.
9 Junie – ZS4 Naelloop vanaf 14:00 to 15:00.
15 Junie – Eerste SARL@HOME byeenkoms by die Nasionale Amateurradiosentrum.
15/16 Junie - Eerste naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke, registreer jou museumstasie by www.ukradioamateur.co.uk/imw.
17 Junie – Keerdatum vir ZS4 Naelloop logstate.
22/23 Junie - Tweede naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke.
SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.
Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vetalings deur Richard Peer,
ZS6UK, saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.
Dankie dat u geluister het, 73.
/EX