Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 28 JULIE 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:
SARL NEEM DIE VOLGENDE STAP IN 5MHZ VOORTPLANTINGSNAVORSING
GESAMENTLIKE WETENSKAP EN AMATEURRADIO DRAVRAG IN 2014 GELANSEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL NEEM DIE VOLGENDE STAP IN 5MHZ VOORTPLANTINGSNAVORSING

Die SARL sal teen die einde van Augustus ‘n baken op 5250kHz in werking stel. Hierdie aankondiging is tydens die Radio in Aksie Simposium wat gister, Saterdag 27 Julie, op Port Elizabeth plaasgevind het gemaak. Een van die HF senders by die NARS sal geprogrameer word om seine met gereelde tussenposes uit te stuur. Radioamateurs wat die toepaslike sagteware gebruik sal in staat wees om hierdie seine outomaties op hulle rekenaars vas te lę.

Die ALE sagteware, ‘n komplekse kommunikasiestandaard, ook bekend as MIL-STD 188_141 en USA standard FED-STD-1045, sal gebruik word. In die verlede was die gebruik hiervan beperk tot duur militęre en kommersiële toerusting met ingeboude ALE beheerders. Gelukkig het die situasie verander met die ontwikkeling van programmatuur wat werking op persoonlike rekenaars deur middel van ‘n klankkaart moontlik maak. ALE word nou gereeld deur radioamateurs reg oor die węreld gebruik.

ALE beskik oor die vermoeë om ‘n spesifieke stasie, ‘n groep stasies, ‘n net of ‘n algemene (CQ) te roep. Dit is ook moontlik om kort uitsendings te maak sodat ontvangerstasies die heersende voortplantingstoestande kan bepaal. Hierdie uitsendings kan outomaties op gereelde tussenposes gemaak word. ‘n Tipiese uitsending duur tien sekondes en die herhalingsinterval kan presies ingestel word.

Aan die ontvangerkant word al die ontvangde seine aangedui in terme van roepsein, “Bit Error Rate”, ontvangde sein-tot-geraas verhouding en die ontvangstyd. Hierdie inligting is van belang om die dekking en moontlikhede van ‘n 60m uitsending te bepaal.

In ‘n artikel verduidelik Hannes Coetzee, ZS6BZP, die volledige werking. Hierdie artikel sal gedurende die volgende week op die “Propagation Research” bladsy van www.sarl.org.za geplaas word. Die ALE programmatuur is gratis en is op die RTA kompakte skyf beskikbaar gestel. ‘n Skakel, van waar die programmatuur afgelaai kan word, sal ook op die SARL se webwerf beskikbaar wees. Dit is belangrik om daarop te let dat slegs SARL lede wat geregistreer het 5250 en 5260 kHz mag gebruik. Registrasiebesonderhede is op www.sarl.org.za beskikbaar. Volg die skakel aan die regterkant op die tuisblad van die webwerf.

GESAMENTLIKE WETENSKAP EN AMATEURRADIO DRAVRAG IN 2014 GELANSEER

‘n Konsortium met hul hoofkwartier in die Verenigde Koningkryk beoog om vroeg volgende jaar ‘n reeks Kubussatelliete met gedeelde amateurradio en wetenskaplike navorsingsdoelwitte te lanseer. Tydens die QB 50 aanbieding by die “AMSAT-UK International Space Colloquium” is aangekondig dat twee Kubusatelliete met ESB, GG en FM transpondeerders gedurende die eerste helfte van 2014 in ‘n wentelbaan van 600km geplaas kan word.

Die QB 50 projekspan berig dat hulle op 19 Julie ‘n Memorandum van Verstandhouding met AMSAT-UK, AMSAT-Francophone en AMSAT-NL geteken het. Hierdie ooreenkoms sal twee radioammateur dravragte op Kubussatelliete moontlik maak. Hierdie mini-satelliete se doel is om die toets van sleutelkomponente voor die finale QB 50 sending moontlik te maak.

Die hoofdoelwit van die QB 50 sending is om die temporale en ruimtelike veranderinge van ‘n paar sleutelgegewens in die Aarde se laer termosfeer te bestudeer deur middel van ‘n network van sowat 40 dubbele kubusatelliete. Hierdie mini-satelliete met identiese wetenskaplike sensors en ‘n paar honderd voet uit mekaar gespasieer, sal in ‘n sirkelwentelbaan van 320 km geplaas word. Hiermee sal ons kennis van die min nagevorsde E en F lae van die Ionosfeer grootliks uitgebrei word.

QB 50 sal ook die terugkeerproses van ‘n satelliet deur die meting van ‘n aantal sleutelbesonderhede en die vergelyking van voorspelde en werklike trajekte en wentelleeftye bestudeer. Aan die begin van die sending sal die dravragte aan boord afwisselend gebruik word maar nadat die QB 50 verwante eksperimente afgehandel is sal die amateurradiotranspondeerders as die primęre sending gebruik word.

Daar word verstaan dat die Universiteit van Stellenbosch een of meer van die kubusatelliete sal bou maar dit kon nie teen die uitsending van hierdie bulletin bevestig word nie.

E-POS NUUSBRIEF
Lede moet hulle e-pos die komende week dophou vir die “SARL Update Newsletter” met inligting oor die drie SATL se jaarlikse kompetisies wat gedurende Augustus plaasvind. Dit is die SARL HF Foonkompetisie, SARL Digitalekompetisie en die SARL GG kompetisie. Deelnemers wat logstate indien sal deelneem aan ‘n gelukkige trekking van ‘n ARRL Antenna boek.

LIGANUUS

SARL LIDMAATSKAPHERNUWINGS

Tot op hede het 989 lede hulle lidmaatskap hernu. Fakture is uitgestuur aan lede wat nog nie hernu het nie en hulle word aangemoedig om dit nou te doen en sodoende ononderbroke lidmaatskap van die Nasionale liggaam vir Amateurradio te geniet. As jy nie ‘n faktuur ontvang het nie moet jy asseblief Maandag met Mariska by 011 675 2393 skakel ten einde besondehede te verkry.

KLUBNUUS

Geen klubnuus is gedurende die vorige week ontvang nie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

KOMPETISIENUUS

CQ ZS - DIE SARL HF-FOONKOMPETISIE
Die doel van die SARL HF-foonkompetisie is vir die deelnemers om kontak te maak met soveel moontlik amateurs in Suider-Afrika op die 20, 40 en 80 m amateurbande. Die foonkompetisie vind plaas op Sondag 4 Augustus en begin om 13:00 UTC tot 16:30 UTC.

U kan deelneem as ‘n enkeloperateur enkelband, enkeloperateur allebande, Multi-operateur enkelband of Multi-operateur allebande stasie. Individuele deelnemers en die klubstasies word aangemoedig om mee te ding. Die volgende frekwensies moet gebruik word 14 125 - 14 300 kHz; 7 063 - 7 100 en 7 130 - 7 200 kHz en 3 603 - 3 650 en 3 700 tot 3 800 kHz

Die uitruiling is 'n RS verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin. ESB kontak tel 1 punt, twee punte word verdien vir elke sone gewerk per band en 'n verdere twee punte vir elke stasie gewerk op al drie bande. Kontakte met stasies buite die 8 kompetisie sones word toegelaat, slegs QSO punte mag geëis word maar geen sone of drie-bander punte.

Sertifikate word toegeken aan die eerste drie plekke en die hoogste enkele telling in elke wedstryd. Logs moet teen 12 Augustus vir die foonkompetisie ingedien word en gestuur word aan zs4bfn@netactive.co.za.

SARL JD-NAELLOOP
Dit is 'n prettige aktiwiteit om Vrouedag tussen radioamateurs in Suider-Afrikaanse lande te vier. Roep "YL Sprint." Die naelloop is op die lug vanaf 09:00 tot 10:00 UTC op Vrydag 9 Augustus. Die uitruiling is 'n RS-verslag en YL of OM.

Dit is 'n foonnaellop op die 40 meterband (7 063 - 7 100 en 7 130 - 7 200 kHz). Kontak tussen YL stasies is 5 punte werd, kontak tussen YL en OM stasies is 3 punte werd en kontakte tussen OM stasies is 1 punt werd.

Logstate moet teen 17 Augustus ingedien word deur e-pos aan zs4bfn@netactive.co.za


WERKING BUITE DIE BAND
Radioamateurs word aangeraai om te verseker dat hulle volgens die modus en frekwensie soos in die IARU Streek 1 HF Bandplan werk.

Op Saterdag 20 Julie tydens die Winter QRP-kompetisie, is daar opgemerk dat drie ZS1 stasies foon op 7 055 MHz gebruik wat in die digitale segment is. Die foonsegment op 40 meter begin by 7 063 MHz.


HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Sonvlek Siklus 24 is die swakste in meer as 50 jaar wat bietjie van 'n teleurstelling vir almal is. Daar is egter die moontlikheid dat die siklus nog 'n piek kan oplewer. In die verlede het swak sonvleksiklusse ook al baie groot sonfakkels opgelewer.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 56.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor Oos-Wes dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

3 - 4 Augustus - Hamnet Winteruitdaging
4 Augustus – SARL HF Foonkompetisie
9 Augustus – SARL JD Naelloop
30 Augustus – Oos Rand Radio Tak AJV 14:00

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003