SARL-NUUS SONDAG 15 SEPTEMBER 2013
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
IN DIE NUUS VANDAG:
REGISTRASIE VIR RAE SLUIT MAANDAG 16 SEPTEMBER
BESPREKINGS OPEN VIR DIE RTA IN DIE WES-KAAP
VOYAGER 1 BEGIN SY HISTORIESE VLUG IN DIE INTERSTELLêRE RUIMTE EN KOMMUNIKEER STEEDS MET DIE AARDE
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.
REGISTRASIE VIR RAE SLUIT MAANDAG 16 SEPTEMBER
Die laaste dag om in te skryf vir die radioamateureksamen op 17 Oktober, is môre, Maandag 16 September. Inskrywingsvorms kan per e-pos gestuur word aan rae@sarl.org.za. Maak asb. seker dat u drie moontlike roepseine genoem het wat beskikbaar is en dat al die benodigde dokumente ingesluit is. Volle besonderhede is beskikbaar by www.sarl.org.za. Die eksamens sal op 17 Oktober van 19:00 tot 22:00 in verskeie sentra afgelê word.
In gevalle van onsekerhede of hulp benodig, kontak gerus vir Gideon Jannasch per e-pos aan rae@sarl.org.za.
BESPREKINGS OPEN VIR DIE RTA IN DIE WES-KAAP
Besprekings kan nou gedoen word vir die Radiotegnologie-in-Aksie-simposium in Bellville. Volle besonderhede, 'n besprekingsvorm en 'n program is beskikbaar by www.sarl.org.za, klik op die verbinding in die nuusafdeling van die tuisblad.
VOYAGER 1 BEGIN SY HISTORIESE VLUG IN DIE INTERSTELLêRE RUIMTE EN KOMMUNIKEER STEEDS MET DIE AARDE
NASA se Voyager 1 ruimtetuig is offisieel die eerste mensgemaakte item wat die interstellêre ruimte betree. Die 36 jaar oue tuig is ongeveer 19 biljoen kilometer weg van die son.
Nuwe, onverwagte data, toon aan dat Voyager 1 vir omtrent een jaar deur plasma, of geïoniseerde gas, wat in die ruimte tussen sterre bestaan, beweeg het. Voyager is in 'n oorgangsone onmiddellik buite die ‘sonborrel’ van die son waar van die invloede van die son steeds waarneembaar is.
“Noudat ons nuwe, sleuteldata, beskikbaar het, glo ons hierdie is die mensdom se historiese sprong in die interstellêre ruimte,” het Ed Stone, Voyager se projekwetenskaplike by die Kaliforniese Instituut van Tegnologie in Pasadena gesê. “die Voyagerspan het t5yd nodig gehad om daardie waarnemings te ontleed en sin daaruit te maak, maar ons kan nou die vraag wat ons almal gevra het ‘Is ons reeds daar?’ beantwoord – ‘Ja, ons is’.”
Voyager 1 het in die eerste plek in 2004 'n druktoename van die interstellêre ruimte op die heliosfeer waargeneem, die borrel van gelaaide partikels wat die son omring en tot vêr buite die buitenste planete strek. Wetenskaplikes het toe hulle soeke meer gekonsentreer op getuienis die ruimtetuig se aankoms in die interstellêre ruimte, wetende dat die analise van die data en die interpretering daarvan maande of selfs jare kon neem.
Voyager 1 beskik nie oor 'n werkende plasmasensor nie, dus het hulle 'n ander manier benodig om die ruimtetuig se plasmaomgewing waar te neem en 'n definitiewe afleiding oor sy posisie te maak. 'n Koronale massauitwerping, of 'n massiewe uitbarsting van sonwind en magnetiese velde in Maart 2012 het die wetenskaplikes van die nodige data voorsien. Toe hierdie onverwagte skenking van die son 13 maande later, in April 2013, by Voyager aankom, het die plasma om Voyager soos 'n vioolsnaar begin vibreer. Op 9 April het Voyager se plasmagolfinstrument die beweging waargeneem. Die toonhoogte van die ossillasies het die wetenskaplike gehelp om die digtheid van die plasma vas te stel. Die spesifieke ossillasies het beteken dat die tuig in plasma is wat 40 maal digter is as wat ondervind is in die buitenste laag van die heliosfeer. Digtheid van hierdie grootte-orde kan verwag word in die interstellêre ruimte.
Voyager 1 en sy tweeling, Voyager 2, is 16 dae na mekaar in 1977 gelanseer. Beide het verby Jupiter en Saturnus gevlieg. Voyager 2 het ook verby Uranus en Neptunus gevlieg. Voyager 2 wat voor Voyager 1 gelanseer is, oudste ruimtetuig in bedryf. Dit is ongeveer 15 biljoen kilometer van die son af weg.
Beheerders van die Voyagersending praat steeds met en ontvang data elke dag van Voyager 1 en 2, alhoewel die uitgestuurde seine baie swak is, teen 23 Watt - die krag van 'n yskasgloeilamp. Teen die tyd dat die seine die aarde bereik, is hulle 'n gedeelte van 'n biljoenste van 'n biljoenste van 'n watt. Data VA voyager 1 se instrumente word na die aarde tipies teen 160 grepe pe5r sekonde versend en word opgevang deur 34- en 70 meter NASA diepruimte netwerkstasies. Teen die spoed van lig neem dit 'n sein vanaf Voyager 1 ongeveer 17 uur om die aarde te bereik.
ESKOM EXPO VIR JONG WETENSKAPLIKES
Eskom se Expo vir jong wetenskaplikes sal oor die tydperk 25 tot 28 September 2013 plaasvind by die Birchwood Hotel en Konferensiesentrum se Uistallingssaal, Boksburg.
Die SARL benodig nog steeds jong amateurs (onder 25) om die stasie te beman met die fokus op die bekendstelling en bemarking van amateurradio onder die jeug wat die Expo gaan besoek.
Die program gaan soos volg wees:
Woensdag 26 September
Oprigting van veldstasie, uitrusting, antennas en bemarkingsmateriaal.
Donderdag 27 September:
Uitstallingsdag: 07:00 - 19:00
Vrydag 28 September:
Uitstallingsdag: 07:00 - 17:00
Afbreek en oppak: 17:00.
Ander amateurs is ook welkom om die geleentheid te ondersteun deur die stasie te beman. Belangstellendes kan ZS3TG, Gerhard Coetzee(082 576 6296) of ZS6YH Mitchell Mynhardt (082 773 1980) kontak voor 12:00 Dinsdag 25 September 2013.
DIE ONVERNIETIGBARE TIPE BLF578XR LDMOS
Die LDMOS (Laterally Diffused Metal Oxide Semiconductor) FET tipe BLF578XR (Uiters robuuste) transistor is deur NXP ontwikkel vir gebruik as 'n RF-versterker in uitsaai en industriële toepassings. Dit kan 1 400 W lewer met 50 V GS-toevoer met 'n wins van 23,5 dB, het 'n benutting van 69% en kan 'n 125:1 SGV of hoër weerstaan; m.a.w. daar kan daarmee gesweis word. 50 MHz, 144 MHz en 432 MHz hoë krag RF-versterkers behoort dus binne die bereik van ons radioamateurs te wees sonder die vrees dat 'n duur onderdeel verwoes kan word en moontlik kan LDMOS FET’s in die toekoms soos buise oorweeg word. hierdie apparaat sal definitief benodig word wanneer ons toegelaat word om hoër krag op BHF en UHF te gebruik en hopelik sal die huidige prys van 230 Euro’s (R3 100) elk mettertyd daal.
KOMENDE BHF/UHF-KOMPETISIE
Die laaste been van die SARL se BHF kompetisie is amper hier. Volgens reels vind dit plaas gedurende die naweek van 21 Sept 2013.
Van Pretoria se radioamateurklubs het besluit om saam te span en 'n BHF/UHF-veldstasie op te rig tydens die komende kompetisienaweek. Die fokus is dan om "die" akitiwiteit te bevorder en bekend te stel aan nuwe amateurs en belangstellendes, eerder as kompetisie. Met 'n interaktiewe kampnaweek stel ons dan gesamentlik 'n stasie beskikbaar vir enige belangstellende radioamateur om onder sy eie roepsein 'n paar kontakte te kom maak en ondervinding op te doen.
Slegs 'n kontrole-logstaat word ingestuur na die SARL. Dit is dan ook 'n platform om mekaar, toerusting en kompetisietegnieke beter te leer ken.
Die stasie sal bedryf word vanaf 'n baie veilige kampterrein ongeveer 35 km oos van Pretoria.
Ander klubs landwyd word aangemoedig om soortgelyke aksies te reel. Enige belangstellendes is welkom om te kom kyk wat gaan plaasvind.
Vir meer besonderhede kan die volgende persone gekontak word:
ZS6PA, Pieter Human by 082 565 608 of e-pos aan qsobox@gmail.com of ZS6PJH, Pierre Holtzhausen by 082 575 5799 of e-pos aan zs6pjh@telkomsa.net.
CQ HOU KOERS
CQ Hou Koers, Die Voortrekkers se nasionale amateurradiodag, vind plaas op Saterdag 19 Oktober. Kinders kan per radio met ander Voortrekkers en Scouts van regoor Suid-Afrika en Namibië gesels.
Radioamateurs, bied gerus hulp aan by plaaslike Voortrekkerkommando's.
Daar sal ook hierdie jaar 'n stasie by die Vrouemonument in Bloemfontein wees. Die naweek van CQ Hou Koers begin die feesvieringe vir die monument se honderdjarige bestaan.
Stuur enige e-pos rondom CQ Hou Koers aan cq@orionvoortrekkers.co.za.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly met slegs stabiele sonvlekke op die sigbare sonoppervlakte.
Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 38.
Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 12 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan skaars wees.
Besoek gerus die nuwe webtuiste http://spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
16 September – Môre, laaste dag vir inskrywings vir die RAE; stuur e-pos na rae@sarl.org.za.
25 September – Laaste dag vir lede wat belangstel om te help by Eskom se Expo vir jong wetenskaplikes om hulp aan te bied, kontak ZS3TG, Gerhard Coetzee by 082 576 6296 of ZS6YH, Mitchell Mynhardt by 082 773 1980.
25 tot 28 September - Eskom se Expo vir jong wetenskaplikes in die Birchwood Hotel en konferensiesentrum se Uitstallingsaal, Boksburg.
17 Oktober – Radioamateureksamen.
SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.
Dankie dat u geluister het, 73.
/EX