Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 14 Junie 2015

Goeiemore en welkom. Hier volg die nuusbulletin van die SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA, gelees deur....................(Naam; roepsein en QTH)
Luister elke Sondag deur die hele land na 'n uitsending van SARL-NUUS in Afrikaans om 08:15 SAST en in Engels om 08:30. 'n Teksweergawe van hierdie bulletin kan by www.sarl.org.za, die SARL se webwerf, afgelaai word. Daar is ook 'n skakel na 'n oudio weergawe van die bulletin op dieselfde blad beskikbaar. Jy kan daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin vanoggend se bulletin weereens met nuus van ‘n stilsleutel

Dit is met hartseer dat ons verneem van die ontydige afsterwe van Theuns Venter ZS6BTK.

Theuns is ongeveer 6 weke gelede met maagkanker gediagnoseer en het die stryd teen hierdie siekte op 8 Junie verloor. Hy was ‘n toegewydene, pligsgetroue rolmodel en man met groot insig. Hy laat sy vrou Annelie en seun Tinus, ZS6TIN agter.

Ons betuig ons innige meegevoel met Theuns se naasbestaandes en vriende. Mag hy nooit vergeet word nie.

POUSE (mistens 5 sekondes)


IN DIE NUUS VANDAG:
NOG ‘N BEKENDE IN AMATEUR KRINGE STERF

NOG NUUS OOR ROOKIE-PROGRAM;

BHF NIE NET VIR DIE SOMER MAANDE

WEDSTRYDNUUS

Bly ingeskakel vir meer inligting hieroor en ook ander interessante nuusitems.

** ‘n Bekende in Internasionale amateurradio nuus kringe Bill Pasternak, WA6ITF, van Santa Clarita, California, het op 11 Junie die lewe gelaat na ‘n siekte wat vroeer vanjaar ontdek is na ‘n val waartydens hy twee ribbe gebreek het. Bill was 73 jaar oud.

Bill, saam met Jim Hendershot WA6VQP was die stigters van die welbekende Amateur radio Newsline. Die program het voorheen bekend gestaan as “The Westlink Report”

Bill was die uitvoerende redakteur van Newsline en kon tot onlangs nog as aanbieder gehoor word. Selfs gedurende sy hospitalisasie vroeer vanjaar het Bill steeds die oor op die grond gehou en nuus stories aan die res van die span, wat die program in sy afwesigheid waarrgeneem het, aangestuur

Skakel ook later vanmore in op Amateur Radio Today vir meer oor hierdie merwaardige man.

** Etienne Naude, ZS4EFN, laat weet dat die belangstelling en navrae t.o.v die Rookie amateurradio program uit die amateurradio-gemeenskap, hoog waardeer word.

Die konsepdokument is aan Nico van Rensburg, ZS6QL, die SARL Visie-President en verteenwoordig daarvan by die Raad, gestuur. Die missie en doel van die program sal by die volgende raadsvergadering ter tafel gelê word. Etienne hoop om die finale dokument reeds teen einde Julie beskikbaar te stel.

Luister gereeld na SARL-nuus vir vorderingsverslae. Stuur intussen ‘n epos aan Etienne by etienne@afrigrid.com. vir meer inligting.




** Die Overberg amateurradioklub hou ‘n algemene vergadering op 20 Junie by John ZS1DI se tuiste in Stanford. Daar sal ‘n bring en braai na al die verigtinge wees. Diegene wat ekstra braaihout kan saambring, moet asseblief so maak. Besoekers is baie welkom. Skakel vir Andre, ZS1AZ, by 028-514-2018 of 072-729-1680 vir meer inligting.

John en Patrick, ZS1PDY, sal tydens hierdie vergadering ‘n kort aanbieding doen oor senderjag. Direk na afloop hiervan sal daar geleentheid wees vir persone om die nuutgevonde kennis op die proef te stel deur deel te neem aan so ‘n senderjag.

John gaan ook deelneem aan ‘n liefdadigheidsprojek. Hy sal kan doen met so bietjie morele ondersteuning daarvoor.

Die Antieke Draadloosvereniging hou terselfdertyd ‘n uitstalling wat die moeite werd is om te sien.
BHF-STILTE IN DIE WINTER

**Vroeër jare het radioamateurs hul BHF-toerusting gedurende die wintermaande weggepak omdat hul geglo het dat BHF-werking net vir die somermaande bedoel was. Later het hulle egter besef dat daar baie ander opwindende modusse is om hulself mee besig te hou gedurende die koue maande. Dit sluit o.a. in Tropo-strooiing, vliegtuigkaatsing, AMA asook satelietwerking. Die mees opwindende modus blyk meteorstrooiing te wees. Dit is veral gedurende Junie beskikbaar en kan gedurende die dag benut word. Hierdie modus werk die beste op 50 MHz.

Nog ‘n interesante verskynsel is die tropo-geuttoestande wat net voor koue fronte ontstaan.

So, moenie daardie BHF-toerusting wegpak nie, Luister en roep af en toe op 144.300 MHz ESB.


** Die ZS4-Naelloop vind vanmiddag tussen 14:00 en 15:00 UTC op die lug plaas met gelykgolf- en foonaktiwiteit op die 40 meter band. Die doel daarvan is om soveel as moontlik radioamateurs in die Vrystaat te werk. Die uitruiling vir ZS4-stasies is 'n RS of RST verslag plus hulle dorp se naam of afkorting. Vir ander stasies, is dit 'n RS of RST verslag en hul provinsiale- of landsafkorting.

Die volgende frekwensies moet gebruik word: GG tussen 7 000 en 7 040 kHz en foon vanaf 7 130 tot
7 190 kHz.

Kontakte tussen ZS4-stasies tel 1 punt en 2 punte vir kontakte met stasies in ander ZS roepgebiede of Suider-Afrikaanse lande. Ander stasies verdien 2 punte vir 'n kontak met 'n ZS4-stasie en 1 punt vir 'n kontakte uit ZS roepgebiede (uitgesluit ZS4) of Suider-Afrikaanse lande. ‘n Kontak met die Bloemfontein ARK, ZS4BF; Vrystaat Radioklub, ZS4B; Welkom Radioklub, ZS4WRC of die Sasolburg ARK, ZS50SRK, tel 5 punte.Slegs een kontak per stasie word toegelaat.

Logstate moet teen 21 Junie per e-pos by zs4srk@gmail.com ingedien word. Die 1 ste, 2 de en 3 de plek in die kompetisie, sal elk 'n sertifikaat ontvang.

** Die ZS5-Naelloop sal van 14:00 tot 15:00 UTC op Sondag 5 Julie gehou word. Dit word net soos die ZS3- en ZS4-naellope gehou. Meer besonderhede is in die 2015 Blouboek.


** Die Suid-Afrikaanse Radioliga Top Band QSO Geselligheid, is 'n prettige aktiwiteit om kontakte op 160 meter tussen radio amateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder. Radioamateurs word ook hierdeur aangemoedig om aansoek te doen vir die Liga se Top Band-toekenning. Die QSO Geselligheid begin om 00:00 UTC op Donderdag 25 Junie en eindig om 00:00 UTC op Maandag 29 Junie met gelykgolf aktiwiteit tussen 1 810 en 1 838 kHz en asook op foon vanaf 1 840 tot 2 000 kHz. Die uitruiling is 'n RS of RST-verslag met ‘n provinsiale- of landsafkorting. Die frekwensie van elke QSO moet op die logstaat gewys word.

Logstate moet teen 6 Julie 2015 per e-pos aan contest@sarl.org.za gestuur word.

** Die 2015 IARU HF Kampioenskappe sal oor die naweek van 11 en 12 Julie gehou word. Dit begin om 12:00 UTC op Saterdag en eindig om 12:00 UTC op Sondag met gelykgolf en foon aktiwiteit op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter. Die reëls is beskikbaar by HF Happenings 569 en op die ARRL webwerf.

As jy belangstel om die Liga se HK-stasie tydens die kompetisie te bedien, stuur 'n e-pos aan
contest@sarl.org.

Wat van 'n kompetisiespan wat uit jong radioamateurs bestaan?

JY LUISTER NA 'N NUUSBULLETIN VAN DIE SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA.


HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot matig gaan wees. Die krimpende sonvlek AR2360, het 'n "beta-gamma" magnetiese veld wat genoeg energie vir M-klas sonfakkels huisves.

Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 75 vir die week gebruik.

Amateurs kan veral laatmiddag en gedurende die aande goeie openinge op die 20 tot 15 m DX bande verwag.

Besoek gerus die webtuiste www.spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.


DIE DAGBOEK VAN GEBEURE

14 Junie - ZS4-Naelloop vanmiddag tussen 14:00 en 15:00 UTC
17 Junie - Wêreld QRP Dag
20 Junie - die SA AMSAT Simposium
21 Junie – Vadersdag
25 Junie - Top Band QSO Geselligheid
26 tot 28 Junie - Ham Radio in Friedrichshafen
27 Junie - die Oosrand Wintervlooimark

Om hierdie bulletin mee af te sluit, herhaal ons die belangrikste item in vanoggend se nuus

** Etienne Naude, ZS4EFN, laat weet dat die belangstelling en navrae t.o.v die Rookie amateurradio program uit die amateurradio-gemeenskap, hoog waardeer word.

Die konsepdokument is aan Nico van Rensburg, ZS6QL, die SARL Visie-President en verteenwoordig daarvan by die Raad, gestuur. Die missie en doel van die program sal by die volgende raadsvergadering ter tafel gelê word. Etienne hoop om die finale dokument reeds teen einde Julie beskikbaar te stel.

Dit bring ons dan by die einde van hierdie bulletin.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies, van belang vir amateurradio en kortgolfluisteraars, met hulle te deel. Plaas nuusberigte indien moontlik, in Engels sowel as Afrikaans op die SARL se webtuiste onder die “newsinbox” skakel, voor of op die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 SAST na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op
7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM asook op verskeie BHF- en UHF-frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO is ook beskikbaar. Heruitsendings vind op Maandae om 18:30 SAST op 4895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nieamateur-frekwensies.

Ons ontvang graag jou seinrapport, kommentaar en voorstelle oor die bulletin. Stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA, saamgestel deur
Dawie Conradie, ZR6DHC, geredigeer deur Flip Britz ZS4GE , en gelees deur . . . . . . . . (naam, roepsein, QTH).

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003