SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 18 DESEMBER 2016
Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ........................................... (jou naam, roepsein en QTH)
Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 Sentraal Afrika Tyd in Afrikaans en om 08:30 Sentraal Afrika Tyd in Engels landswyd 'n nuusbulletin uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink-luisteraars is daar 'n herleiding deur Johan, ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.
Hierdie oudio bulletin kan van die Liga se web tuiste by www.sarl.org.za afgelaai word. 'n Teks weergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.
In die nuus vandag,
KERS BOODSKAP VAN DIE SARL PRESIDENT
HET JY JOU LISENSIE BETAAL?
en
'N NUWE KANTOORBESTUURDER IS AANGESTEL
Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.
** Die Liga President, Nico, ZS6QL, sê, “Ons is weereens op die drempel van die feesseisoen, 'n tyd waarin ons Christen lede die geboorte van die Verlosser vier en ander weer voorberei vir 'n tydperk van rus en ontspanning saam met vriende en familie.
Hierdie jaar het die Liga 'n paar werklike uitdagings ervaar, maar ek is bly om te sê dat die Suid-Afrikaanse Radioliga skip weer op koers is en vaar in kalmer waters. Ons sien uit daarna om meer lede en klub deelname aan Liga sake in die komende jaar te ervaar. Die feesseisoen is uiteraard vakansietyd. ‘n Tydperk om jou batterye te herlaai en dit is my wens dat Suid-Afrikaanse Radioliga lede dit sal geniet; dat hulle die nodige tyd saam met hul gesinne sal spandeer en ook amateur radio sal geniet. Handhaaf 'n goeie balans tussen hierdie twee aspekte, soos vereis deur die Amateur Kode. Kom terug uitgerus en verfris, vol entoesiasme vir 'n nuwe jaar van Liga aktiwiteite.
Graag maak ek van hierdie geleentheid gebruik om al ons lede en vrywilligers te bedank vir hul toewyding aan die stokperdjie en die bevordering van die Liga. Ek bedank veral die klubs vir hul ondersteuning in die bestuur van RAE klasse, kompetisie deelname, snuffelmarkte, jeugprogramme en ander aktiwiteite ter ondersteuning van Amateurradio.
Onthou asseblief om waaksaam en versigtig te wees - die gevare en bedreigings waaraan ons almal blootgestel is, neem nie af in die feesseisoen nie.
My wense vir ‘n vrugbare, voorspoedige en aangename 2017 vir julle elkeen afsonderlik en ook aan die Suid-Afrikaanse Radioliga as geheel.
** Het jy jou lisensie betaal? Jy word aangeraai om seker te maak dat jy jou amateurradio lisensie vir vanjaar betaal het. Indien nie, word aanbeveel dat jy dit dadelik doen. OKOSA is nie verplig om fakture uit te stuur nie, die onus rus op die lisensiehouer. As jy nie vir die 2016/2017 jaar betaal het nie, betaal R525 en jy is gedek vir vanjaar en die volgende 4 jaar met geen verhogings nie. Die fooi vir die huidige 2016/2017 jaar is R126.
OKOSA is in die proses met die implementering van 'n OKOSA Raad besluit om alle lisensies wat nie binne 30 dae vanaf 1 April hernu is nie te kanselleer. Terwyl dit nog in die implementerings fase is, maak seker jy het vanjaar jou lisensie fooi betaal. Versuim om dit te doen sal beteken dat jy weer moet aansoek te doen vir 'n nuwe lisensie en jy kan vind dat iemand anders aansoek gedoen het en jou roepsein gekry het.
Die Liga is bewus daarvan dat baie van die radio amateurs wat hul lisensies betaal het, het nog geen dokumentasie van OKOSA ontvang het nie. Hierdie saak sal opgeneem word met OKOSA in die nuwe jaar. Let daarop dat alle OKOSA kantore vanaf 15 Desember gesluit sal wees en sal heropen op 3 Januarie 2017.
** 'n Nuwe kantoorbestuurder is aangestel. Mev Kelley Heslop was die suksesvolle kandidaat ná 'n reeks onderhoude vroeg in Desember. Kelly sal op Donderdag 12 Januarie 2017 begin werk. Ons verwelkom Kelly by die Nasionale Amateurradiosentrum en wens haar alles van die beste toe.
** Okosa vra moeilike vrae tydens die Tipe Goedkeuring Verhoor. Die Liga President, Nico van Rensburg, ZS6QL, en Regulasies Bestuurder, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, het die OKOSA verhoor oor Tipe Goedkeuring op Dinsdag 14 Desember 2016 bygewoon. OKOSA Raadslede en vakkundiges het 'n paar moeilike vrae gevra en verduidelikings vereis van die Suid-Afrikaanse Radioliga oor verskeie redes waarom alle amateurradio toerusting vrygestel moet word van tipe goedkeuring. Daar is 'n algemene waardering dat self geboude amateur radio toerusting in ag geneem moet word vir vrystelling van goedkeuring, maar dit sal nie die geval vir kommersieële toerusting wees nie. In die Europese Unie is self- geboude amateur radio toerusting vrygestel van goedkeuring, maar amateur radio toerusting wat kommersieel geproduseer is, moet voldoen aan 'n paar ETSI (Europese Tegniese Standarde Instituut) standaarde.
Tipe Goedkeuring vrystelling is nie net 'n probleem vir amateur radio nie, maar vir die hele kommunikasiebedryf. Verskeie bedryfs verteenwoordigers het voorgestel dat OKOSA toerusting wat voldoen aan die relevante SABS en/of ETSI standaarde, vrygestel word van goedkeuring. Daar is ook 'n deurlopende gesprek oor die etikettering van toerusting, met ander woorde, selfs as toerusting aan 'n aanvaarbare standaard voldoen, moet OKOSA dit verifieer en ’n magtiging uit reik om die toerusting te etiketteer. OKOSA het verder insette genooi met die sperdatum van 13 Januarie 2017.
Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga
** Konsep 2017 Radio Frekwensie Bandplan. Die Suid-Afrikaanse Radio liga bestudeer die konsep-bandplan en is bewus van 'n aantal foute en weglatings in die amateur toekennings. Okosa het kommentaar op die konsep genooi met 23 Januarie as die sperdatum en sal openbare verhore hou tussen 2 en 3 Februarie 2017. Dit is egter belangrik om die volle konsep te bestudeer en die impak van die voorstel op amateur radio te beskou, en nie net een of twee frekwensie bande nie. Okosa het 'n proses wat gevolg moet word uiteengesit en die Suid-Afrikaanse Radioliga is besig om dit te doen. Dit is nie net om iemand by OKOSA te skakel of ’n e-pos te stuur nie. Dit is belangrik om die nasionale bandplan te hersien in terme van die finale beslissings van WRC-15 en die huidige radiofrekwensie regulasies. Daarbenewens kan die Suid-Afrikaanse Radioliga voorstelle vir toekennings wat nie in die konsep-bandplan is nie motiveer waarom OKOSA die Liga se voorstelle in ag moet neem.
Skakels na al die dokumente sal gepos word op die Liga se webblad. Insette van radio amateurs word word verwelkom. Jy kan jou insette stuur aan sarlregwg@sarl.org.za. Die Liga se Regulatoriese span sal op die insette aan OKOSA gedurende die eerste week Januarie 2016 werk.
** Radio Australië Kortgolf Uitsendings eindig op 31 Januarie 2017. Nog 'n prominente kortgolf uitsaaier gaan sluit nadat die Australiese Uitsaaikoperasie (ABC) aangekondig het dat hy sy kortgolf uitsendings op 31 Januarie 2017 beeindig. Die stasie, gewild onder KGLs, saai uit in die 31, 25, 19 en 16 meter bande. Die skuif is in lyn met die nasionale uitsaaier se beplanning om weg te doen met verouderde tegnologie en om sy digitale inhoud, insluitend DAB + digitale radio, aanlyn en mobiele dienste uit te brei, tesame met FM dienste vir internasionale gehore. Die ABC het gesê dat die geld wat gespaar word as gevolg van die beëindiging van kortgolf uitsending in ander program verspreiding tegnologie sal gebruik. Radio Australië programme sal beskikbaar wees via strooming, satelliet en ander media.
As hierdie tendens voortduur gaan die opvolgers van vroeë radio amateurs wat 95 jaar gelede kortgolf Trans-Atlantiese kommunikasie bewerkstellig het, uiteindelik die hele HF kortgolf spektrum erf wanneer al die kommersiële en militêre stasies, ens., weg beweeg na satelliete, BHF of hoër frekwensies.
** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van minder as 5 vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 20 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.
** Die SARL-nuus span wens vir jou en jou familie 'n geseënde Kersfees toe, aan ons Joodse lede 'n gelukkige Chanukah en vir die res, geniet die vakansie.
Nou vir die dagboek van gebeure:
27 Desember - sluitingsdatum vir Januarie 2017 Radio ZS artikels
31 Desember - laaste dag van die YOTA Maand 2016 en vernietig jou kopie van die 2016 Blouboek.
1 Januarie – laai 'n afskrif van die 2017 Blouboek af
14 en 15 Januarie – Hunting LIONS in die lug
20 tot 22 Januarie - die PEARS Nasionale BHF/UHF kompetisie
Om hierdie bulletin mee af te sluit, 'n herhaling van ons belangrikste item in die nuus vanoggend.
Die Liga President, Nico, ZS6QL, sê, “Ons is weereens op die drempel van die feesseisoen, 'n tyd waarin ons Christen lede die geboorte van die Verlosser vier en ander weer voorberei vir 'n tydperk van rus en ontspanning saam met vriende en familie. Graag maak ek van hierdie geleentheid gebruik om al ons lede en vrywilligers te bedank vir hul toewyding aan die stokperdjie en die bevordering van die Liga. Ek bedank veral die klubs vir hul ondersteuning in die bestuur van RAE klasse, kompetisie deelname, snuffelmarkte, jeugprogramme en ander aktiwiteite ter ondersteuning van Amateurradio. My wense vir ‘n vrugbare, voorspoedige en aangename 2017 vir julle elkeen afsonderlik en ook aan die Suid-Afrikaanse Radioliga as geheel.
** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die ‘news inbox’ skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.
Luister elke Sondagoggend om 10:00 sentraal Afrika tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 760 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 4 895 kHz plaas.
Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.
Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur .......................................................
73 en 88, dankie dat jy geluister het.
/EX